EEN van die beste dinge omtrent aftrede is dat jy jou eie baas is en kan doen wat jy wil, wanneer jy wil.

Dit is in elk geval wat mense wat al klaar afgetree het, jou voor die tyd vertel. Maar dis nie die volle waarheid nie . . .

Ja, dis lekker dat jy nou op ’n Maandag – ’n werkdag! – die pad kan vat om die blomme in die Biedouwvallei naby Clanwilliam te gaan bekyk.

Biedouw Valley from Mountain Pass IMG_1317resized

Dis beslis iets wat elke Suid-Afrikaner minstens een keer in sy lewe móét sien, veral as dit die jaar goed gereën het. Ek sal altyd onthou hoe ek in 1952 as sesjarige seun op Bitterfontein verstom gestaan het oor die plate en plate blomme.

My pa, wat op die Spoorweg was, is daardie jaar na Bitterfontein verplaas (die dorp lê op die Knersvlakte ’n bietjie meer as halfpad Namibië toe van Kaapstad af) en vriende van my ouers wat op Garies gewoon het, het ons die blomme in hulle motor gaan wys. Destyds het ons geen motor besit nie.

’n Paar weke gelede het ek my weer verwonder aan die blomme. Hoe het die saadjies oorspronklik daar gekom? Hoekom blom hulle so goed op party plekke en nie elders nie?

En die feit dat ons dit op ’n Maandag kon doen, was lekker. Daar was minder mense as oor ’n naweek en die paaie was nie so besig nie.

So is dit ook voordelig dat jy as afgetredene op bv. ’n Maandagaand die spesiale aanbieding by ’n restaurant kan benut en kan gaan uiteet en jou nie hoef te bekommer dat jy vroeg moet gaan slaap om môreoggend vroeg te kan opstaan en werk toe te gaan nie. Net so kan jy nou goedkoop op ’n Dinsdagaand gaan fliek.

Maar, en dis ’n groot maar, wil jy altyd dinge gaan doen, uiteet, fliek en vakansie hou wanneer dit stil is? Want daardie gewoel, die mense om jou, die vakansiegees is deel van wat dit lekker maak.

Ek was al in die middel van Desember op Hartenbos en ook net nadat die skole begin het. En die plek is dan net nie dieselfde nie. In die vakansietyd was daar lewe, en toe die skole eers weer begin het, was hierdie gewilde vakansiebestemming so dood soos ’n dodo! Glad nie dieselfde nie.

Dis omtrent soos Stellenbosch wanneer die studente nie daar is nie. Jy kan nou maar sê wat jy wil, maar die Eikestad sonder sy studente is nie dieselfde plek nie. Dit voel of sy hart uitgepluk is, of sy bloedsomloop tot stilstand gekom het.

Maar dalk is ek nog net nie lank genoeg afgetree nie. Dalk sal ek nog gewoond raak aan die “stiller” tye en eerder die geleenthede wat dit bied, beter probeer benut. Ek hoop maar so . . .

Joan and Andre André Brink het vroeër vanjaar afgetree as assistent-redakteur van Huisgenoot en skryf dié blog oor hoe die afgetrede lewe hom geval. Lees sy vorige blog by:

Blog van ’n oud-Huisgenoot-man