[caption id="attachment_50273" align="alignnone" width="600"]Drie varkies . . . watter een kan die wolf weerstaan? Foto: Stuart Miles, Freedigitalphotos.net Foto: Stuart Miles, Freedigitalphotos.net[/caption]

’N MENS kan nie sê ek probeer nie. Verlede naweek het ek een man ontmoet en volgende naweek ontmoet ek twee. Dis soos die drie varkies: een met ’n huisie van ’n strooi, een met ’n huisie van hout – en ek hoop maar een van hulle is ’n huisie gemaak van bakstene wat nie omgeblaas kan word deur die wolf van die werklikheid nie.

Drie is ook ’n magiese getal – die derde keer gelukkig. Dan nie? Ek hoop so . . .

My volgende paar afsprake klink goed. Die een is met ’n prokureur en hy is ouer as ek. Die ander een is effens jonger en ’n doktor in die filosofie. Die derde een is my wildekaart: ’n man wat in restaurante blomme verkoop om aan die lewe te bly.

Ons spreek af om Vrydagaand te ontmoet. Hy is vas oortuig ons is sielsgenote. “Jy is perfek vir my,” prewel-tik hy op my rekenaarskerm. “Ek kan nie wag om jou vas te hou nie. Ek gaan jou oorweldig met liefde, met romanse . . .”

Dit laat onmiddellik my kopvel kriewel. Hoe kan ’n man weet dat hy jou gaan liefhê – of daarvan gaan hou om jou vas te hou – sonder dat hy jou nog ooit ontmoet het? Is hy psigies? Of is dit net mooi woorde om my mee te vang? Ek is onmiddellik wantrouig. Aan die een kant voel ek skuldig daaroor, aan die ander kant vermoed ek dat ek heel moontlik reg is en dat Meneer Gladde Tong net besig is om my sag te maak.

Ek besluit egter om hom ’n kans te gee. Vrydagoggend kry ek ’n WhatsApp-boodskap: Kan ons in die Lapa ontmoet?

Ek hou nie van die Lapa nie en laat hom so weet. Om die waarheid te sê, so min hou ek van die Lapa dat ek eerder ’n wasgoedpennetjie in my neus sal opdruk as om daar te gaan eet. Dis goed so, laat weet hy terug. Wat ook al die dame behaag. Dit behaag die dame om soesji te gaan eet in ’n ander restaurant. Hy stem in.

’n Uur voor ons afspraak kry ek weer ’n boodskap: Ek is nie meer lus vir soesji nie. Wat van pizza? Is jy nie lus vir pizza nie?

Eintlik is ek glad nie lus vir pizza nie, maar ek is ook nie lus vir moeilik wees nie. Ek skryf terug dat ons kan pizza eet, daar is ’n lekker pizza-restaurant naby.

Wat van die Lapa? skryf hy. Die Lapa het lekker pizza.

Goeie genugtig, watter deel van die wasgoedpennetjie-verklaring het hy nie verstaan nie? Ek antwoord kort en kragtig terug: Ek jou gesê ek hou nie van die Lapa nie.

Jammer, jammer! laat weet hy gou terug. Dis oukei, ons hou by die soesji-plek.

Teen middagete kry ek weer ’n boodskap: Ek kan nie wag om jou te ontmoet nie. Jy is die vrou vir my, ek kan dit voel. Jy is ’n engel. Ek gaan jou op die hande dra. Die toekoms vir ons is oop. Ek droom van jou, verlang al klaar na jou . . .

My bors trek net daar toe. Is hierdie liefdesverklaring nie effe vroegtydig nie? Ag, troos ek en my ego myself, dalk is hy maar net verlief op jou aura. Dit het al gebeur . . .

Twee uur voor die afspraak begin ek gereed maak. Ek volg die gewone ritueel. Ek stort en was my hare, ek skeer my beenhare, ek blaas my hare droog, ek sit grimering aan en ek trek iets moois en skoons aan. Dis tog ’n afspraak. En die man mag dalk net my sielsgenoot wees. En soos ’n mens altyd skoon onderklere aantrek in geval van ’n ongeluk, trek jy altyd mooi aan in geval Kupido se pyle tref. Dit glo ek vas.

’n Uur voor die afspraak kry ek weer ’n boodskap van hom: hy kan nie die soesji-restaurant op sy Google-GPS vind nie en kan dus nie daar uitkom nie. My wenkbroue skiet ’n paar oktawe die lug in.

Dis vreemd . . . laat weet ek terug. Die soesji-plek is reg langs jou geliefkoosde Lapa.

Die stilte wat volg, spreek boekdele. Vir eers dink ek die afspraak is gekanselleer. Dan kry ek weer ’n boodskap: I hope you are not dressing up for tonight. I am definitely not. I will just come in my work clothes. No big deal, right?

No big deal?

Ek gryp net daar my foon en laat weet terug: I did get dressed up. Out of respect for you. Obviously you don’t see the point. Big deal it is indeed. Consider the date cancelled.

Uitslag: Varkie Nommer Een het ’n huisie van strooi . . .

– Erla-Mari Diedericks

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor haar lewe as enkellopende in die era van internet-afsprake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by http://www.kalahari.com/books/Still-Standing/632/47272047.aspx?keyid=rss 

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

Lees Erla-Mari se vorige blogs by

Die stories wat geskeide mans vertel!

Deur dagbreek toe – met Melkskommel-man

Ek verbeel my ek’s ’n cougar

Ek soek na liefde – aanlyn