Ek het nog altyd vir my ma gesê ek sal trou wanneer ek 27 is. Want teen daardie “hoë” ouderdom, het die 18-jarige ek altyd gedink, behoort ek volwasse genoeg te wees en sou ek al lank genoeg op my eie gewoon het om gereed te wees vir die troumars en die kerkpaadjie en alles wat troureëlings aanbetref.

So nee, vir my was daar geen haas nie en ek het my ook nie te veel opgehou met ’n troufantasie nie. Ek het wel een keer, toe ek in gr. 4 was, ’n trourok vir myself ontwerp. Maar dit is so ver as wat my kleindogtertjie-troudrome gestrek het. Ai, die rok was nie vreeslik mooi nie – baie goud en vol kralewerk.

Die idee om ’n 27-jarige bruid te wees is egter heeltemal daarmee heen, want die 7 het baie onlangs in ’n 8 verander. So ek sal hopelik, DV, op die ouderdom van 28 my eie trouklokke hoor lui.

28 op die strand. #happyplace #capetown ?? @cjgrey33

A post shared by Charlea Sieberhagen (@charleasieberhagen) on

 

Sowat drie maande gelede het my kêrel van omtrent twee jaar op een been afgesak en gevra of ek sy vrou sal word.

“Is jy seker?” het ek gevra terwyl hy, met een knieg op Bloubergstrand se nat sand, ringboksie oop, na my gekyk het.

“Charlea, ja!” het CJ effens geskok gesê.

En toe sê ek ook ja.

?? "Your heart got a story with mine..."

A post shared by Charlea Sieberhagen (@charleasieberhagen) on

 

Ons het besluit om nie gras onder ons voete te laat groei nie. Trou wil ons trou. Ons ken mekaar immers omtrent ’n dekade lank.

Maar so spring ons toe saam-saam by die hasegat af, tot kaplaks binne-in die wêreld van fancy Franse kant, blommekrone, voorletters in ligte, koeke met baie versiersuiker, koeke sonder enige versiersuiker, blomblare en vlaggies. Dit is ’n wêreld waar die kleur “pienk” duisend ander goed (blush, rose, dusty rose, ballet slipper, flamingo . . .) behalwe “pienk” genoem word.

Ek kyk al wat ’n trou-show is op TLC, kykNET en VIA. Wanneer ek iewers in ’n ry staan, soek ek op Pinterest inspirasie.

En kyk, nè, verloof raak is een ding. Trou, dít is iets anders.

Goedgelowig en opgewonde begin ’n mens kwotasies aanvra, oortuig dat jy die slimste, mees praktiese en georganiseerde bruid op aarde is wat hierdie troue in ’n japtrap kan reël en sommer baie bekostigbaar sal kan hou.

Tot jy besef dit is asof die woord “trou” onmiddellik twee tot drie nulle by enige prys van enigiets voeg.

Hare en grimering? Ek het al ’n kwotasie van oor die R4 000 gekry. (Nou, as ek R4 000 vir grimering betaal, beter daardie grimering my hele wittebrood lank op my gesig bly, selfs al swem ek iewers in die see. Geen krul sal volume verloor nie.)

Omdat ons eerder ’n stadstroue wil hê, het ons ’n paar restaurante en sale in Kaapstad oorweeg. Die meeste byderwetse lokale waar mense spoggerige funksies kan hou en oor die stad kan uitkyk, vra omtrent R35 000. Nee, nie R35 000 vir jou troue nie. R35 000 vir die leë vertrek. Een restaurant se kwotasie het net onder R100 000 gedraai.

My maag draai nou nog. (Ek begin dink ’n bring-en-braai is dalk eintlik ’n goeie idee.)

En dan het jy nog nie eens gedink aan ’n rok, fotograaf, trouringe, blomme, kerse, koek en konfetti nie. Elke prys hoër as die vorige.

Maar nee, ons laat ons nie onderkry nie en probeer dinge so eenvoudig en so prakties moontlik doen. Met behulp van kreatiwiteit, baie geduld en baie gebede klop die boeke nog.

Ja, dit is jou troudag. En ja, natuurlik moet dit spesiaal wees. Maar ’n finansiële verknorsing as trougeskenk, wanneer al die gaste klaar koek geëet het, staan nie vir my (of ons ouers) aan nie.

Troukoors laat jou ook diep dink oor die lewe en verhoudings. Skielik moet jy oor elke beskikbare sitplek twee, drie keer besin en met groot families en beperkte plek kan ’n gastelys omtrent in ’n kopseer ontaard.

Ook maar goed ek trou eerder op 28. Ek is nou veel meer opgewasse vir dié soort dilemmas.

En ’n mens behoort in elk geval nie op 27 so te wroeg nie!