So wat maak jy as jy op 44 uitvind jy is swanger? 

Veral as dit geensins deel van jou beplanning was nie en jy eintlik dink dis net hormone en die begin van menopause . . . Alishia van Deventer, leser en publisiteitsbeampte vir talle van ons grootste sterre in die vermaaklikheidsbedryf, deel hier haar swangerskapsreis.

Lees Alishia se vorige twee inskrywings hier en hier.

Hier vertel sy verder:

Ons is verheug! Ons weet nou uiteindelik vir seker dat ons ’n dogtertjie verwag! Dit was ongelooflik om te sien en ek dink dit het die besef dat sy op pad is net meer van ’n werklikheid vir ons gemaak!

Ons kon laas week amper haar gesiggie uitmaak en dit lyk wraggies asof sy my man se neus het! Sy skop en beweeg sterk en met elke skoppie voel ek hoe hierdie klein wonderwerk van God binne-in my groei.

Ek dink nie dis ’n gevoel wat ek vir enigiemand kan verduidelik wat dit nog nie self ervaar het nie! Omdat ek ouer is, dink ek, ervaar ek dit net baie meer intens en anders. Die lewe het al soveel draaie met ons geloop en ons wyser en sterker gemaak en geleer om alles te waardeer. En hoe waardeer ons nie hierdie klein mensie wat op pad is nie!

My man sê hy weet al: Wanneer ek daardie verliefde uitdrukking op my gesig kry en sommer net so in die verte sit en staar en vir myself glimlag, dan skop en beweeg sy. Ek hoef niks te sê nie – hy sien dit net. En kan sy skop!

Nou die oggend het sy my uit droomland uit wakker geskop! Ek kom ook agter mense staar nou na my maag. As ek iewers inkom of aankom gaan hul oë eerste na my maag toe. Ag, dankie tog, hulle sien nie my voete nie!

Mense wil ook graag aan my maag vat. Gelukkig is dit vir my nie ’n probleem nie en ek laat dit graag toe. Eintlik pla dit my glad nie. Met elke hand wat so aan my maag vat, glo ek daar word seëninge en guns oor hierdie nuwe mensie uitgespreek en elke keer besef ek hoe groot en goed God vir ons is.


Alishia saam met haar man, Steve. Foto: Verskaf[/caption]

Die swangerskap het werklik nog vlot en sonder komplikasies verloop en ons is so dankbaar daarvoor. Daar is nog net so drie maande oor en volgende naweek hou ons ’n celebration of life-partytjie. Dis eintlik die ooievaarstee, maar ek hou nie regtig baie van ooievaarstees nie, so ons het besluit om liewer net al ons vriende en familie te nooi om ’n lekker dag saam met ons te kom geniet en die lewe te vier!

Ons het ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk en as vrou kan ek sekerlik nie meer bevoorreg en geseën wees met my ongelooflike man nie!

As ek ’n bietjie lank sit en werk sonder om ’n ruskans te vat, dan kom vat hy my aan my hand en sê: “Kom loop ’n bietjie saam met my deur die tuin sodat ek vir jou die blommetjies kan wys.” Dis baie spesiaal.

Ek beweeg redelik stadig, so wanneer ons uit was en terugkom by die huis, duur dit redelik lank vir my om uit die kar uit te kom en aan te stap huis toe (want my rug pyn maar lekker), maar sodra my man die kar stop klim hy uit, loop solank deur toe en sluit oop. En wanneer ek dan aankom, sê hy so ewe met ’n glimlag: “Haai, is jy al hier!?”

Hy raak nooit geïrriteerd met al my gekla en die feit dat ek nie so vinnig kan beweeg nie. Hy is net die hele tyd dáár. Hy ondersteun en ja, hy sê nog elke dag vir my ek is vir hom pragtig!

Ek dink wat wel nie vir hom so pragtig is nie, is my gesnork! Liewe hemel, ek snork! Dis iets vreesliks! Ek kan net niks daaraan doen nie.

Elke aand klim hy moedig langs my in die bed sonder om iets te sê, behalwe: “Ek is lief vir jou . . . Lekker slaap,” maar wanneer ek so rondom eenuur in die oggend opstaan om badkamer toe te gaan, sien ek hy is weg en het in die ander kamer gaan slaap. Dan weet ek . . . Maar, môreaand klim hy wéér langs my in die bed!

So het die babatjie op 24 weke gelyk. Foto: Verskaf

Ek gaan nie jok nie. Ek raak maar bang vir die geboorte en dit begin nou effens in my agterkop lol. Ek is bang vir die pyn en die onbekende wat op ons wag. Dis ’n snaakse bang gevoel. Ek is bang, maar opgewonde.

Ek weet honderdduisende vroue is al hierdeur (ek inkluis, 20 jaar terug), maar ek raak steeds bang en benoud. Ek is bang ek gaan nie weet wat om te doen met haar nie en dat ek haar nie goed genoeg sal kan versorg nie.

Ek is bang die pyn gaan die oorhand oor my kry en dat ek nie sal kan borsvoed nie. Allerhande sulke vreesgedagtes maal maar van tyd tot tyd deur my kop, maar waaraan ek vashou is dat God ons nie ’n gees van vrees gegee het nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.

En ek weet Hy gaan my hand styf vashou!