Michele Cloete (46) van Bloemfontein het jare lank met skeelhoofpyne gesukkel en pynstillers gebruik pleks van dokter toe gaan. ’n Verskriklike ondervinding een aand het haar laat wens sy het liewer haar huisarts besoek.

[caption id="attachment_111948" align="alignnone" width="600"]Michelle se ondervining is 'n noodkreet vir talle wat aan skeelhoofpyne ly. Michelle se ondervining is 'n noodkreet vir talle wat aan skeelhoofpyne ly.[/caption]

“Ek het een aand skielik ’n verskriklike hoofpyn gekry. Ek het gedink die beste ding om te doen is om ’n paar pynstillers te drink en bed toe te gaan. Toe ek in die nag wakker word, het ek probeer water drink – maar dit het net by my mond uitgeloop, asof ek geen beheer gehad het nie. Ek het gedink dit moet iets met die pynstillers te make hê en weer ingesluimer," vertel Michele.

“Die volgende oggend het ek vroeg wakker geword en in die sitkamer gaan sit om televisie te kyk. My kop het beter gevoel, maar toe ek probeer water drink, het dit weer by my mond uitgeloop. Dit het gevoel of ek nie kon sluk nie. “My kat het intussen by die sitkamer ingekom en die sitkamerstoel begin krap. Toe ek hom wou aansê om op te hou, het net ’n vreemde, diktongige geluid uitgekom. Ek het paniekerig geraak en my man wakker gemaak.

Dit was die skrikwekkendste situasie waarin ek nog ooit was.

"Hy het aanhou vra wat fout was, maar ek kon hom nie antwoord nie. Toe ek dit vir hom probeer neerskryf, kon ek nie. Dit maak nie saak wat ek gedoen het nie, my ‘woorde’ was net ’n gekrabbel. Uit desperaatheid het ek ’n voertuig met ’n lig bo-op geteken, ‘082-911’ geskryf en hom beduie om te bel.

“Ek kon vier dae lank nie praat nie. Dit was die skrikwekkendste situasie waarin ek nog ooit was. Ek kon helder dink en het geweet wat ek wou sê, maar die woorde wou net nie uitkom nie.

“By die hospitaal het ’n neuroloog my besoek, ’n MRB is gedoen, ’n lumbale punksie, harttoetse, bloedtoetse, noem maar op! Ná 'n dag of wat het ek soos ’n speldekussing gevoel. Vier vingers van albei hande was gevoelloos, en daar was ook ’n effense gevoelloosheid in my gesig. “Eindelik het die dokters my die uitslae gegee – ek het as gevolg van die skeelhoofpyn ’n beroerte gehad. Ek het ook letsels van vorige onderdrukte skeelhoofpyne op my brein.

'Ek het as gevolg van die skeelhoofpyn ’n beroerte gehad.'

“Dank die hemel die enigste oorblyfsels van die beroerte is dat my woorde diktongig klink wanneer ek moeg word, maar meestal is ek oukei.

“Ek wil dus ’n waarskuwing rig aan lyers van skeelhoofpyn – moenie jouself probeer dokter nie. Besoek so gou moontlik jou huisdokter.”

Redakteur se nota: Volgens migrainetrust.org is daar min bewyse wat daarop dui dat ’n beroerte meer dikwels gedurende ’n aanval van skeelhoofpyn voorkom as op enige ander tyd. By sommige mense kan skeelhoofpyne en beroertes gelyktydig voorkom, maar “dit is moeilik om die aard van die verwantskap, indien enige, definitief vas te stel. ’n Iskemiese beroerte wat gedurende ’n skeelhoofpyn voorkom, word ’n migraine-agtige infarksie genoem. Maar veroorsaak skeelhoofpyn ’n beroerte, of werk dit andersom? Daar is geen beduidende navorsing hieroor nie. “Studies toon wel as jy dikwels skeelhoofpyne kry, het jy ’n groter kans om later in jou lewe ’n beroerte te kry. Die risiko is egter skraal.”

Hierdie storie is deur een van ons lesers ingestuur. Dis effens geredigeer.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.