’n Paar lesers het na vore gekom met hul eie tragiese, en soms duur ontmoetings nadat ons 'n artikel geplaas het oor aanlyn maatsoekbedrog en hoe skelms op emosies jag maak.

Sogenaamde kunstenaar loop au pair in met R120 000 Die 55-jarige au pair van Alberton het ’n baie emosionele tyd in haar lewe ervaar en toe glo sy dat sy haar sielsgenoot op ’n bekende maatsoekwebtuiste ontmoet het. Hulle het ongeveer sewe maande op Facebook gesels en hy het beweer hy is ’n kunstenaar met twee kinders en hy woon in Londen. Hy het ook beweer dat hy ’n uitstalling in Kaapstad gaan hou, maar hy moes eers Port Elizabeth toe gaan, want die skeepsvraghouer met sy kunswerke was daar. Hy het selfs vir haar bevestiging van sy vliegtuigkaartjies gestuur. Sy kom toe Kaapstad toe om hom te ontmoet.
'Sy stem en die vroom gebede wat ons elke dag gedeel het, spook steeds by my.'

“My totale verlies was R120 000, want hy het gesê hy is beroof en hy het die geld nodig om die vraghouer in ontvangs te neem. Daarna het ek niks weer van hom gehoor nie.”

Sy het die saak op 28 April by die polisiestasie in Table View aangemeld, maar die swendelaar is nog nie gevang nie.

“Die geld is nou wel een ding, maar die grootste skade was die emosionele uitwerking en skade wat hierdeur veroorsaak is; sy stem en die vroom gebede wat ons elke dag gedeel het, spook steeds by my.”

Pretoriase skakelbeampte onder administrasie nadat sy R300 000 verloor het

Volgens ’n 52-jarige skakelbeampte en sekretaresse het sy ’n tydjie gelede R300 000 verloor omdat sy gedink het sy betaal vir mediese toerusting om sogenaamde siek mense te help wat sy op ’n gewilde maatsoekwebtuiste ontmoet het. Hulle het beweer dat hulle van die VSA en Brittanje af kom. Sy het inligting aan die polisie gegee, maar sy voel hulle vorder te stadig. Sy het ook die grootste banke in die land gewaarsku, maar sy glo dat plaaslike mense met die skurke saamwerk in ruil vir ’n deel van die gesteelde geld.

“Ek moet myself vandeesweek onder administrasie plaas. Ek het nie eens geld vir kos nie.”

Prediker bedrieg sowat R170 000 uit KZN-vrou

’n Man wat beweer het dat hy ’n prediker in Amerika is, het daarin geslaag om sowat R170 000 uit ’n vrou in KwaZulu-Natal te kry voor sy besef het dat hy nie is wat hy voorgee nie. Hy het haar geteiken in ’n tyd toe sy uiters kwesbaar was, en het ’n ingewikkelde, geloofbare storie vertel om haar in te katrol.

Die spontane toppresteerder was uiters eensaam, en sy het verlede jaar besluit om ’n lidmaatskapsfooi vir ’n aanlyn maatsoekwebtuiste te betaal. Sy het aangetrokke gevoel tot die prediker, aangesien sy vrou glo ’n paar jaar gelede in ’n motorongeluk gesterf het en hy sedertdien nog nie weer met iemand uitgegaan het nie. Sy was spoedig smoorverlief en dolgelukkig.

Sy het voortgegaan om geld oor te betaal vir sy noodgevalle, selfs nadat haar vriende en familie haar gewaarsku het dat dit ’n skelmstreek is. Sy wag sedertdien steeds dat die polisie vorder met die saak.

Sy sukkel met swak gesondheid en betaal haar skuld bietjie-bietjie af.

Bron: News24