Marco, van Boksburg aan die Oos-Rand van Gauteng, deel sy verhaal van verlies, hartseer en berou:

Ek was net ’n 17-jarige seun, ’n doodgewone tiener. Ek was amper nooit by die huis nie, maar dié keer was ek spyt daaroor.

Ek het verlede jaar in Desember beplan om vir die vakansie na my neef se plek te gaan. Op die 23ste Desember 2016 het ek dus my ouers, Nelia en Johan, gegroet, my klere gepak en reggemaak om na my neefs in Durban te gaan.

Ek het my ma en pa op die 24ste gegroet, en soos gewoonlik het my ma gehuil en my pa het haar opgebeur – ek, daarenteen, was so opgewonde dat ek nie kon slaap nie. En toe sit ek af Durban toe en dit was ’n ongelooflike paar dae tot die oggend van die 26ste.

Nelia en Johan Viljoen. Foto: Verskaf

My tannie (my pa se suster) Annemarie Swanepoel het my wakker gemaak en gesê my ma en ouboet het my pa hospitaal toe geneem. Ek was ontsteld, want ek het nie geweet wat is fout met hom nie.

Ek het later daardie middag met my ma gepraat en sy’t gesê: “Pa is oukei. Hy is terug by die huis en slaap, maar alles is in die haak.”

Johan was as Kersvader geklee op sy laaste Kersaand. Foto: Verskaf

Die volgende oggend het my tannie my weer wakker gemaak en gesê my pa is weer hospitaal toe. Hulle het ’n noodoperasie uitgevoer nadat sy kolon gebars het. Die operasie was ’n sukses, maar hy was daarna in ’n koma.

My ma het gesê ek moet vir hom ’n stemnota stuur sodat sy dit vir hom kan speel, al was hy in ’n koma. Ek het dit gedoen, maar op die ou end kon sy dit nie vir hom speel nie; die verpleegsters het gesê dit sou inmeng met die masjiene.

Ek het gaan slaap en geglo alles sou oukei wees.

Johan Viljoen met sy gesin. Foto: Verskaf

Die volgende oggend was dit presies vyf dae sedert ek by die huis weg is.

Ek het my ma gebel en die dokters het gesê dit gaan goed met my pa. Ek was verlig, en ons het die dag op die strand deurgebring. Maar teen vyfuur die middag het my ma gebel en gesê die dokters het laat weet ons moet kom groet . . .

Ek het nie geweet hoe om te voel of wat om te sê nie . . . my pa was my alles!

Ek was op daardie oomblik hulpeloos. Ek het nooit gedink dat ek op die 23ste vir my pa vir die laaste keer sou groet nie.

My pa is op 28 Desember om 18:00 dood weens bloedvergiftiging sonder dat ek ooit my held vir oulaas kon groet.

Dit het so onwerklik gevoel; ek het nie geweet hoe om te voel nie. Sy begrafnis is op 6 Januarie 2017 gehou en sy 44ste verjaardag sou op die agtste gewees het – dit was die ergste tyd van ons lewe.

Hy was my superheld, my alles. Ek voel steeds so leeg sonder hom en dit spook vandag nog by my dat ek nooit tot siens kon sê nie.

My pa se skielike dood, hoe vinnig hy van ons weggeneem is, het my gesin verpletter. As dit nie vir familie, vriende en God was nie, weet ek nie waar ek vandag sou wees nie.”