Michelle en die kinders kry ’n uitnodiging Skouspel toe, maar sy voel skuldig om Jackie alleen in die rehab agter te laat. Lees die volgende aflewering van haar ontroerende blog “My man het ’n breinbesering”.

[caption id="attachment_59562" align="alignnone" width="600"]Links: Jacques (hier 14) en Ruben (hier 6). Regs is die seuns by hul pa, Jackie: bo tydens ’n gesinsuitstappie voor Jackies breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het, en onder kuier hulle 'n paar weke ná die ongeluk by hom in die Tshwane-rehabilitasiesentrum. Links: Jacques (hier 14) en Ruben (hier 6). Regs is die seuns by hul pa, Jackie: bo tydens ’n gesinsuitstappie voor Jackies breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het, en onder kuier hulle 'n paar weke ná die ongeluk by hom in die Tshwane-rehabilitasiesentrum.[/caption]

JACQUES verjaar – hy word 14 – en ons kry onverwags die geleentheid om Huisgenoot-Skouspel in Sun City by te woon. Ek sluit ’n oorslaap in – vir my en die seuns.

Jacques en Ruben is so opgewonde, maar ek kan nie die skuldgevoel afskud dat ek weggaan terwyl Jackie steeds in rehab is nie.

Hoe durf ek nou iets geniet terwyl my man in ’n diep, donker, deurmekaar gat gedompel is?

Ter wille van die seuns en danksy die wyse aanmoediging van almal wat ek ken, sit ons uiteindelik af Skouspel toe.

Toe ons deur die hekke van die plesierparadys ry, kan ek voel hoe die opgewondenheid my ook beetpak en ek weet ons het die regte besluit geneem.

Elke oomblik van die naweek is ’n hoogtepunt. Ons ooreet ons by die ontbyt en chill op die pragtige skoon sand by die Valley of the Waves. Ek verkyk my aan die uitbundigheid van die seuns.

[caption id="attachment_59564" align="alignnone" width="600"]Pret by die Valley of the Waves. Pret by die Valley of the Waves.[/caption]

Dit voel soos ’n reuse partytjie waar almal mekaar ken en almal bly is om mekaar weer raak te loop. Die geur van boerewors hang in die lug.

Jy kan maar sê wat jy wil, maar om so ’n klomp Afrikaanses bymekaar te sien en veral te hoor, bring ’n gevoel van samehorigheid wat moeilik is om te beskryf.

[caption id="attachment_59561" align="alignnone" width="600"]Ruben (hier 6), is ’n groot aanhanger van die Campbells en is saam met hulle afgeneem. My seuns lag weer, en my hart loop oor van dankbaarheid! Ruben is ’n groot aanhanger van die Campbells en is saam met hulle afgeneem. My seuns lag weer, en my hart loop oor van dankbaarheid![/caption]

Dis ons eerste Skouspel-ervaring. Maar die grootsheid daarvan is oorweldigend en ek is so trots om Afrikaans te wees.

Ons is 1 000 myl weg van die hospitaalreuke, die bekommernisse, die trauma. Ek begin wel agterkom dat die seuns besig is om baie afhanklik van mekaar te raak. Ruben volg sy ouboet oral rond.

Tande

Sondagaand, veilig terug in Pretoria, is ons weer langs die hospitaalbed. Ons vertel opgewonde vir Jackie van alles en almal wat ons in lewende lywe gesien het.

Hy hoor ons skaars, want hy’s weer op ’n skip en hy’t vir Jesus gesien.

Ons drie ry in stilte huis toe.

- Michelle Fourie

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.