Ons aanlynafspraak-blogger Erla was verlede week op drie afsprake met vreemde mans, en sy verstom haar aan die redes wat hulle opdis vir waarom hul huwelik misluk het.

[caption id="attachment_49194" align="aligncenter" width="600"]Foto: Don Hankins op Flickr Foto: Don Hankins op Flickr[/caption]

OM MET vreemde mans op afsprake te gaan is soos om geskenke op Kersdag oop te maak. Veral wanneer jy spesifiek vir ’n geskenk gevra het wat jy weet jou ouers nie eintlik kan bekostig nie, maar steeds hoop jy. En met elke geskenk wat jy oopmaak, stuur jy ’n skietgebedjie op: “Asseblief, asseblief, asseblief laat dit wees waarvoor ek gevra het.” En elke keer steek jy maar jou teleurstelling agter ’n glimlag weg, maar dink: Dinges jou, Kersvader, Dinges jou, Liefde. Ek gaan nie meer in jou glo nie.”

Die afgelope week het ek sommer op drie afsprake gegaan. Dit was natuurlik hopeloos te veel, want ek voel nou sommer uitgeput, uitgemergel en uitgeluister na mans se hartseerstories. As ’n mens die meeste geskeide mans moet glo:

a)  is alle egskeidings die vrou se skuld,

b)  is vroue genadelose wesens wat ’n man sal kaal uittrek met ’n egskeiding,

c)  is alle mans engele wat net vir ’n vrou koffie in die bed wil aandra, maar sy waardeer dit nie, of

d)  is alle vroue liefdelose siele met ’n libido so laag soos slakkegif.

Self vergeet hierdie kamstig onskuldige sotte natuurlik dat ek ook deur ’n egskeiding (eintlik twee) al was en goed weet:

a)  dat dit twee mense kos om te trou en twee kos om te verbrou,

b)  dat mans al wat ’n vrou is, sal kaal uittrek ná ’n egskeiding (en ek praat nie hier van geld nie),

c)  dat baie mans dalk een keer elke volmaan of herdenkingsdag ’n koppie koffie sal maak, sal braai of blomme sal bring, en dan sal optree asof hulle so pas die Nobel-prys vir vrede gewen het, of

d)  dat vroue minder sal dink aan slakkegif as hulle meer romanse gehad het.

Ek dink dis swak smaak om die volgende kwyt te raak op ’n eerste afspraak: dat jou vrou ’n hartelose koei is, dat jy eintlik nog graag met jou vrou in die bed wil spring, dat jy hoop sy sterf in ’n motorongeluk (terwyl manies gelag word), dat jy liewer is vir jou kombuismesse as vir haar en nou selfs vir hulle name gegee het (ek belowe) en dat jy eerder met jong meisies wil uitgaan want jy kan hulle tog so maklik beïndruk deur hulle bloot na ’n grootmensrestaurant te vat wat nie ’n speelarea het nie (nog ’n man se wyse woorde . . .)

Hartseerstories oor ekse is daar so baie as wat daar ekse is. Maar grootliks kan dit in ’n paar hoofkategorie ingedeel word.

Kategorie 1: Sy het my met my beste vriend verneuk en ek het dit glad nie sien kom nie.

Kategorie 2: Sy is nou lesbies, maar dit pla my glad nie – ek praat maar net nog 15 jaar later steeds daaroor.

Kategorie 3: Sy is ’n alkoholis/depressielyer/dwelmslaaf, maar ek het gedink dit sou beter word.

Kategorie 4: Ons is nog vriende. Maar ons het mekaar ontgroei.

As jy dus ooit wil weet waarom huwelike verbrokkel – daar het jy dit in ’n neutedop: verneukery, seksuele voorkeure, verslawings, en dan die feit dat die lewe mense dikwels uitmekaar laat spat.

Ek dink liefdesoek-webtuisteswerwe moet liefdesbegraafplase skep. Hierdie begraafplaas-webtuiste kan dan vol grafstene wees wat elke ’n hartseerstorie van ’n egskeiding of verlies bevat. Jy kan daarop klik en jou eie storie daar invul, of jy kan daarop klik en ’n ander se tranedalstorie lees. So kry jy die hartseer uit jou stelsel uit en as iemand nou rêrig wil weet waarom jy geskei is, kan hulle dit daar gaan oplees – sonder dat die afspraak versuur word.

En dis op hierdie suur, bitter noot dat ek gisteroggend in die Engen-garage staan en koffie koop met ’n dik bek toe die mooiste man wat ek in ’n lang tyd aanskou het, die winkel binnehuppel soos ’n prettige paashaas, die ene glimlaggies en energie. Lang, lenige lyf. Hemp laag genoeg oopgeknoop dat ek sy gladde borskas kan beloer. Stout ogies. Pragtige glimlag. Omtrent 24 jaar oud. Ons oë ontmoet. Sy blik gly oor my arm. Dan is sy hand warm op my vel.

“Wow,” sê hy. “Jy het ’n pragtige tatoeëermerk op jou hand.” Saam bewonder ons – hy die voëltjies, en ek vir hom.

Erla

Hy laat nie my hand los nie.

Ek los ook nie.

“Jy weet ek is nou so opgewonde!” sê hy.

O, ek ook . . . dink ek.

“Ek trou volgende week en ek en my meisie het besluit ons gaan ná ons honeymoon albei tatoeëermerke kry. Op ons arms! Sommer die hele arm vol.”

“Regtig . . .?” vra ek. Die geskoktheid in my stem gaan bêre ek maar tussen die broodrolletjies op die rak voor ons.

“Julle gaan seker nie mekaar se name laat doen nie . . .”

“Natuurlik gaan ons!” Hy straal soos net ’n jong seun, selfvoldaan van jong liefde, kan straal. “Ons gaan ons hele lewe saam tot dusver op ons arms uitbeeld! Ons name, die naam van die restaurant waar ons ontmoet het, mekaar se gesigte . . .!”

Vir altyd . . .

Sy hand is nog in myne. Ek gee dit ’n drukkie.

“Sterkte met jou huwelik. Ek wens jou die allerbeste toe.”

Dan stap ek uit. Op my eie.

– Erla-Mari Diedericks

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor haar lewe as enkellopende in die era van internet-afsprake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by http://www.kalahari.com/books/Still-Standing/632/47272047.aspx?keyid=rss 

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

Lees Erla-Mari se vorige blogs by

Deur dagbreek toe – met Melkskommel-man

Ek verbeel my ek’s ’n cougar

Ek soek na liefde – aanlyn