Ons dating blogger Erla is 46, die ou wat haar uitgevra het is 27. En sy het ingestem, want wie sê middeljarig is te oud vir deurnag dans?

[caption id="attachment_48430" align="aligncenter" width="600"]Nathan F. op Flickr Nathan F. op Flickr[/caption]

DIÉ naweek was my afspraak met die 27-jarige Melkskommel-man. En nee, ons was nie Spur toe nie. Ons was by ’n dubstep-konsert. Wat natuurlik onmiddellik my vriende in ’n toestand gehad het.

“Wat is ’n dubstep-konsert? Is dit soos two-step? Is dit sakkie-sakkie? Of is dit soos ’n rave-konsert?” vra Besorgde Vriend.

“Ha-ha man, dis net dansmusiek – dubstep is net waar hulle heavy base gebruik. Dis baie cool.”

“Genugtig, Erla,” sê BV. “Wag tot dit drie-uur in die oggend is en jou melkskommel-man nog wil dubstep en jy wil gaan slaap. Jy gaan moeg wees, ou suster. Onthou,  jy is ’n middeljarige vrou.”

“Wie is jou middeljarig!” kap ek terug. “Ek sal dit maak. As ek op 34-jarige ouderdom elke twee uur kon opstaan om te borsvoed, en as ek tot drieuur in die oggende kan boek skryf, kan ek beslis tot dan dans ook. Hoe erg kan dit wees?”

Saterdagmiddag is ek egter so moeg van die vorige aand se laat gesprek met Besorgde Vriend dat ek ernstig begin wonder oor my dubstep-avontuur. Veral toe ek meegedeel word dat die eintlike konsert eers twaalfuur begin.

Middernag? Hoe gaan ek wakker bly tot dan?

“Wodka en Red Bull!” sê Melkskommel-man.

Drink mense dit nog steeds? wil ek eers vra. Maar bedink my eerder. Wodka en Red Bull sal dit wees. Toe ek in my 20’s was, het dit gewerk, so ek was seker dit sou weer werk – hierdie keer sal ek net die dosis verdubbel. So maklik soos dit . . . My hart gaan staan egter as hy my in sy bakkie kom haal, kompleet met blêrende musiek, en hy het reeds ’n glasie wodka en Red Bull in die hand.

“Ek hoop nie jy drink en bestuur nie!” vermaan ek hom en voel dadelik soos sy ma. Wel  . . . jy kon sy ma gewees het . . . teem ’n stemmetjie in my kop, maar ek klim in die bakkie en onmiddellik  word my gedagtes verdoof deur ’n gedoef-doef-doef.

“Nee, babe, dis vir jou!”

Ek weet nie wanneer laas ek drank in ’n kar uit ’n plastiekglas gedrink het nie. Dit was so vreemd en tog so bekend, presies net soos toe ek jonk was. En dit sou die refrein van die aand word. Presies net soos toe ek jonk was.

Die eindelose toue karre, die grasland-parkeerarea wat ek weet in ’n modderbad gaan verander sou dit reën, die groen plastiektoilette waar die reuk van piepie jou reg tussen die oë slaan sodra jy die deur oopmaak, die girls in hul kort shorts, hul beentjies blou van die koue, die manne met die tatoeëermerke en houding.

Presies dieselfde as toe ek jonk was.

Maar tog ook nie. Eerstens was ek die oudste een daar. Al die mense van my ouderdom het in hul motors buite gesit met die verhitting en 5FM aan terwyl hulle wag vir die konsert om klaar te maak sodat hulle hul kinders kan huis toe vat. Ek was egter lus en gaan haal die 40-jarige ouers uit hul motors uit om saam met my te kom dans, want dit was net soveel beter as toe ek 20 was!

Hierdie keer was ek nie bang nie. Ek het presies geweet wat om te verwag. Die dwelms in die toilette, die dronk ouens wat oor jou val, die ongure karakters wat jou selfoon uit jou sak steel. En nog beter: Anders as die kinders om my het ek geweet dat hierdie aand eendag ’n herinnering sou word. En dat aande soos hierdie nie vir altyd kan hou nie en weldra vervang sal word deur voorstedelike braais en kinderpartytjies. En juis daarom kon ek met die terugblik van ’n ouer vrou die aand net soveel meer geniet.

Ons is drieuur die oggend daar weg. En ek kan met trots sê dat ek bly dans het tot die dubstep en die Red Bull my vlerke gegee het. Ons is agterna na Melkskommelman se vriende se woonstel toe. Dalk nie die wysste besluit nie – het ek eers die Sondag besef toe ek wakker word op ’n matras op die grond in ’n raserige woonstel in ’n raserige straat met geen water of koeldrank in die yskas en geen skoon glase in die kombuis nie.

En dis toe dat ek dit besef. Dit was ’n fantastiese terugrit na die verlede. Vir een aand was ek weer Aspoestertjie met Red Bull-vlerke. Maar ’n middeljarige vrou kan haar net soveel keer verbeel sy’s 20 en dan wil sy terug na haar dubbeldeuryskas en haar koninggrootte bed . . .

– Erla-Mari Diedericks

CreditErla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor haar lewe as enkellopende in die era van internet-afsprake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by http://www.kalahari.com/books/Still-Standing/632/47272047.aspx?keyid=rss 

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

 Lees Erla-Mari se vorige blogs by

Ek soek na liefde – aanlyn

Ek verbeel my ek’s ’n cougar