Hoekom staan die TV-aanbieder Charlene Lackey voor haar spieël met ’n sjampoebottel in die hand? Lees haar eerste blog vir Huisgenoot om uit te vind . . .

’N MENS kan jou hoe groot hou, maar ons waardeer almal ’n “goue sterretjie”’; of dit nou daai pluimpie vanoggend is dat “jou lyf darem mooi sit in daai rok”; die twee goue sterretjies wat my graad 1-klavierjuffrou laas week langs my naam geplak het – ’n mens is nooit te oud om Hansie Slim van die gholfstokkies af te leer speel nie – of die “goeie werk”’-boodskap in my inboks van ’n kliënt oor ’n vryskutskryfsel. Nee wat, dis lekker dat iemand ’n kop in jou rigting knik.

Dankie dus, Huisgenoot, vir my goue sterretjie – my Tempo-benoeming as TV-aanbieder van die Jaar saam met ander vreeslik buitensporige grênd mense. En al gaan ek solank aan my trofee-toespraak begin poets en met die sjampoe-bottel voor die spieël oefen, is dit klaar ’n veertjie in my hoed om tussen sulke name op ’n lysie te staan.

Net ingeval ek nie genoeg mense kan omkoop om vir my te stem nie en net die spieël my trofee-toespraak gaan hoor, wil ek sommer nou hier my dankiesê-lysie deurwerk.

Twaalf jaar – give or take twee jaar verspeel met ’n Duitse wals – is nou nie ’n ewigheid om by ’n Suid-Afrikaanse gehalte-leefstylprogram as aanbieder betrokke te wees nie, maar dis lank genoeg om te begin kruip, later te loop en naderhand na so ’n ligte draffie te kan oorslaan. As ’n mens tot daar vorder, is daar onvermydelik ’n klein leërskare vir wie jy wil dankie sê. Ek noem hulle naamloos met ’n paar leidrade waaraan hulle hulself behoort te herken . As ek dan wel iemand vergeet, kan ek myself nog daar uitpraat. Hiermee, sjampoe-bottel in die hand, dankie aan:

* Die uitvoerende vervaardiger wat ná ’n skermtoets vir my gesê het ek lyk effe te vrolik van molligheid en moet uitdun. Dankie vir die goeie raad. Ek het toe gelukkig nie vir jóú gaan werk nie;

* Die ánder uitvoerende vervaardiger met ’n kas net vir klere wat gemeen het ek is wragtig pragtig soos ek is, daarby nog slim ook, en wat my grasgroen voor die kameras vertrou het;

* Die mode-assistent en kollega by ’n vrouetydskrif, nou Baron(es) by ’n dagblad, wat vir my klere geleen het vir my eerste opname en my gewys het wat ’n mens nou eintlik met maskara maak;

* Die taal-oom en sy kollega van ’n Kaapse voorstad wat met die letter P begin, wat op die vrou af vir my gesê het hulle reken ek sal dit kan doen. Ek kan nou maar my banggeit bêre. Dis tog so vervelig as ek so tekere gaan;

*  Die redakteurbaas wat met die menslikehulpbron-afdeling se koppe gaan smokkel het om my bitte schön uit te los sodat ek nou kan feimus word. Ek gaan nie weghol nie en sal die beurs van hulle ontvang terugwerk; gee tog kans;

* Die regisseur wat my pad by Pasella gaan ooppraat het sodat ek daar kon gaan werk. Dit is Mostert ná die maal, maar dankie dat jy al die duwweltjies uit die pad geskop het;

* Die redaksielid van ’n dagblad waar ek in daardie stadium nog gewerk het, wat vir my gesê het ek maak ’n fout om voluit in TV in te gaan, ek gaan dit berou en op my gesig val. Wel, wie hou nóú ’n sjampoe-bottel vas?

* Die Pasella-span wat my beter as myself laat lyk en klink het;

* Die mense wat tydens opnames hul tyd, huise, spys en drank met ons gedeel het;

* Die spoke van Williston wat gesorg het vir baie braaivleisvuurstories;

* My ma wat nou lekker slaap, met wie ek in die lens kon praat, want ek weet sy kyk, en

* My suster, wat ná opnames oor my grimering gespot het: “Gaan was tog daai goed van jou gesig af”’ en my nederig gehou het, sou ek daaraan dink om opstêrs te raak;

Haidee Muller – voormalige Huisgenoot-joernalis en deesdae RSG-aanbieder – het ’n ruk gelede op RSG met iemand ’n onderhoud gedoen wat gesê het: “Jy moet ’n lang hart hê sodat jy lekker diep uit hom kan lag.” Ek ken nie die diepte van my hart nie, maar hoe lank dit nou ook al is: Ek grou daar diep onder vir al die genoemde naamloses hierbo ’n goue sterretjie uit.

-  Charlene Lackey (née Truter)

@Charlene_Lackay (Twitter),  www.facebook.com/charlene.lackay (Facebook), www.charlenelackay.com

* Die ander benoemdes in die Tempo-kategorie TV-aanbieder van die Jaar  is Coenie de Villiers (Kwêla), Katlego Maboe (Expresso), Nataniël (Die Nataniël Tafel), Pieter Koen (Jukebox) en Tracey Lange (Bravo!)

Foto: Momento Photography