Toe hulle op 15 Desember verlede jaar trou, het Cecelia van der Rijst van Queenswood, Pretoria, uitgesien na ’n leeftyd saam met haar Kobus. Maar minder as vier maande later is Kobus Rossouw dood ná ’n motorfietsongeluk. “Dit is ’n seer wat ek vir niemand kan beskryf nie,” vertel ’n emosionele Cecelia. “Hy was my sielsgenoot. Hy het my verstaan; hy my beter geken as wat ek myself ken.”

Cecelia, ’n invorderingsklerk van 44, en Kobus, ’n sweiser van 24, het drie jaar gelede ontmoet en was ten spyte van die ouderdomsverskil dadelik dolverlief. “Kobus was so ’n rustige mens; so ’n goeie mens.” Hy het selfs goed oor die weg gekom met haar twee tienerdogters uit haar eerste huwelik.

motorfiets1

Toe Kobus ’n paar maande voor sy dood sy nuwe Yamaha TXR850-motorfiets kry, was sy aanvanklik onrustig. “Hy het altyd gesê: ‘My skat, dit waarvoor ’n mens so bang is, gebeur partykeer.’”

Mettertyd het die gogga haar ook gebyt en het sy hul ritte saam ál meer begin geniet. “Hy’t nog vir my gesê hy waardeer dit dat ek sy passie saam met hom geniet.” Daar was geen ander voertuie by die ongeluk, skaars twee blokke van die Rossouws se huis, betrokke nie en die polisie vermoed Kobus moes vir iets uitgeswaai het.

Sy dood op 14 April vanjaar was vir haar en haar dogters ’n groot skok. “Ons dink elke dag aan nog iets van hom wat ons gaan mis,” vertel sy hartseer. “Ek is opgehuil; ek weet nie of ek meer trane het nie.” Tog is haar hart vol dankbaarheid vir hul kosbare tyd saam. “Ons verhouding was goed; ons het nie baklei nie.”

Daarom wil Cecelia ander mense nou aanmoedig om hul geliefdes te waardeer terwyl hul nog naby is. “Maak reg as daar probleme is. Die lewe is so kort: Die een dag is die persoon nog by jou en die volgende dag…”

-         Suzaan Hauman