Moenier Parker was een van ses uitgesoekte Suid-Afrikaners wat die Discovery-kanaal gekies het vir die New Voices, New Vision-projek. Vanjaar is hy by die Cannes-filmmark om sy nuwe musiekblyspel in Afrikaans en Engels verder te ontwikkel. Waar het dit alles begin? Ek was ’n only, lonely child. Die moewie-teater was vir my soos ’n huis. As die ligte afgaan en die grootskerm word prentjies, was ek dadelik deel van die storie. Saturday Night Fever het my laat besluit ek wil graag eendag ’n fliek maak. En toe het jy? Nou eers, ja, maar dit was nie maklik nie. As ek kleintyd uit die teater gekom  het – dit het 25c gekos om ’n fliek te sien in die Alibama-teater, daar waar Vlaeberg-poskantoor nou is – was dit steeds only lonely me. Ek het ’n gangster geword om eindelik te voel ek hoort iewers. En toe? Ek en my meisie het ’n baba gehad en daar was ’n ommekeer in my lewe. Hoe beland jy toe in die filmbedryf? Zulfah Otto Sallies het my raakgesien en oortuig om ’n  driemaandekursus in video-produksie te doen. Toe werk jy saam met haar? Ja, ons was besig met Dicky van die Bo-Kaap toe ’n berig oor my in die Sunday Times verskyn. Freek Robinson se vrou, Liza, het dit raakgesien. Hy het my kom sien en ’n pos aangebied as ’n regisseur van Fokus met Freek. Om vir die SABC te werk het seker baie gehelp om kontakte in die bedryf op te bou? Ja, ek is waarskynlik die enigste swart regisseur in die Kaap wat nou nog genoeg werk het – danksy die SABC. Ek het nog niks sukses gehad met die ander kanale nie. Sjoe, amper vergeet ek om te vra van Cannes! Ek sien so. Vertel . . . Die eerste drie dae was ek woes verskrik; nie geweet of ek kom of gaan nie. Alles is so anders, so Hollywood. Maar toe ek agterkom die see sit aan die een kant, het ek ten minste heeltyd geweet waar ek is. Toe ek besef die mense hier wat agter die skerms werk is maar net soos ons, toe begin alles lekker word. Dis duur, nè? Kwaai, maar ek is geborg deur die DTI en die Kaapse rolprentkommissie om my projek, een van die vyf films wat die nasionale film-en-video-stigting ondersteun, verder te ontwikkel deur internasionale vennote te soek. Hoe benut ’n mens so ’n filmmark ten beste?

  • Doen aansoek vir finansiële ondersteuning – dis maklik beskikbaar vir filmmakers.
  • Maak al jou afsprake voor die tyd. Al die betrokkenes se kontakbesonderhede is maande voor die tyd beskikbaar.
  • Probeer so naby moontlik bly, al is dit duurder; ’n mens mors baie tyd met vervoer en sien soms op teen terugkom vir ’n partytjie. Daar word heelwat besigheid gepraat terwyl die ouens paartie.
  • Bemark jou produk aggressief en met selfvertroue. As jy nie regtig glo jy bied iets aan wat internasionaal waarde het nie – hoekom sal ander mense?

- Marike Bekker   [caption id="attachment_36802" align="aligncenter" width="563"]Die Carlton-hotel waar die Leonardo Dicaprio en die ander sterre van Great Gatsby bly Die Carlton-hotel waar die Leonardo Dicaprio en die ander sterre van Great Gatsby bly[/caption] [caption id="attachment_36670" align="aligncenter" width="397"]Daar’s nooit ‘n vervelige oomblik by die Cannes-filmfees nie en talle interessante karakters Daar’s nooit ‘n vervelige oomblik by die Cannes-filmfees nie en talle interessante karakters [/caption] [caption id="attachment_36671" align="aligncenter" width="379"]Nog ‘n interessante karakter Nog ‘n interessante karakter[/caption] [caption id="attachment_36669" align="aligncenter" width="400"]‘n Betoger teen kapitalisme ‘n Betoger teen kapitalisme [/caption]

[caption id="attachment_36668" align="aligncenter" width="450"]Betogers teen Hollywood-films, wat van mening is dat Cannes is vir onafhanklike films is en nie lokettreffers nie Betogers teen Hollywood-films, wat van mening is dat Cannes is vir onafhanklike films is en nie lokettreffers nie[/caption]