Die 31-jarige Genevive Stander van Durban is ’n modelvoorbeeld van die 21ste-eeuse ma. Sy vul, skokkend genoeg, 5 poste en is tans die broodwinner in die huishouding. Hier volg haar verhaal:

“Een van my geliefkoosde aanhalings uit die rolprent Batman Begins is: ‘Meneer Wayne, hoekom val ons? Sodat ons kan leer om onsself op te tel.’ Hierdie aanhaling is die beste manier waarop ek die afgelope nege jaar in my lewe kan beskryf.

Lee and Genevive Stander Foto: Krystal Temlett.

My destydse verloofde het in 2008 ’n klompie moeilike finansiële probleme beleef; dus het ek van Maandag tot Vrydag gewerk by ’n maatskappy wat plastiek vervaardig, en dan Dinsdag- tot Sondagaande as kelnerin om hom te help. Dit was destyds nie ’n probleem nie, aangesien ons nie kinders gehad het nie. Ek en hy (nou my man) het in 2009 en 2015 drie kinders in die wêreld gebring.

Verlede jaar was dit, soos blykbaar vir die meeste mense, nie die beste jaar vir ons nie. My man het ’n uiters moeilike tyd by die werk deurgemaak en daar was ’n klomp vals beskuldigings teen hom. Dit het hom binne vier weke in drie verskillende hospitale laat beland, en ek het toe al geweet die probleme gaan nie vriendskaplik opgelos word nie.

Hy het geen ander pos in die vooruitsig gehad nie; dus het ek deeltydse werk begin soek, want met drie kinders om te onderhou, gaan my salaris alleen eenvoudig nie die rekeninge betaal kry terwyl hy ander werk soek nie.

Ek vul nou vyf poste: Aankoper (en binnekort bedryfskontroleur/PA), kelnerin, kroegmeisie, geleentheidsbestuurder en kraampiehouer by ’n vlooimark!

Hoewel dit van uiterste belang is vir die oorlewing van my gesin, het dit tog sy tol geëis van my drie kinders – my oudste is sewe en die tweeling is twee en ’n half jaar oud. Die feit dat ek nie in die nabyheid was nie, was uiters moeilik vir my dogters, veral vir die oudste een. Sy het op ’n manier agteruitgegaan, veral wat haar onafhanklikheid van my betref.

Morgan-Lee and Genevive Stander

Die teleurstelling op my oudste se gesig as ek op ’n Saterdagmôre werk toe gaan in plaas van tuis te bly en saam met haar ’n legkaart te pak of so iets, breek behoorlik my hart.

Maar ek moet erken, wanneer ek saans tuiskom of wanneer hulle in die oggend wakker word en ek is daar, laat die opgewondenheid op hul gesig en in hul stem terwyl hulle na my toe hardloop vir drukkies en soentjies, my van alles vergeet, al is dit net vir ’n oomblik.

My huidige lewe, al die verskillende betrekkings en die feit dat ek so hard werk, veroorsaak dat ek baie dinge in my kinders se lewe misloop. En dit maak seer. Bowendien voel ek soms ek moet harder probeer om meer betrokke te wees by my kinders se lewens, maar as ek nie die ekstra werk doen nie, sal die rekenings wat ons tans skaars kan betaal, glad nie betaal word nie.

My ma het my in die 1980’s as enkelma grootgemaak en sy het ook twee betrekkings gehad om seker te maak my skoolgeld word betaal, ons huurgeld word betaal, dat daar kos op die tafel was, ens. Ek dink daar is so baie ma’s daar buite wat meer as een soort pos behartig, maar dat ons in ’n mate eenvoudig te skaam is om te erken dat ons dit doen sodat die rekenings betaal kan word. Daar is deesdae so baie “ma-beskaming”, en wat die internettrolle betref . . . Ek het altyd my eerlikheid behou; ek bedek niks met ’n suikerlagie nie.

Aan al die moeders daar buite wat soos absolute mislukkings voel omdat hulle 7 dae per week 16 uur per dag swoeg: julle is nie ’n mislukking nie. Julle doen wat gedoen moet word ten einde te oorleef. Gee jy moed op? Ja, dán kan jy jouself as ’n mislukking beskou.

Morgan-Lee, Alexander and Madeleine Stander

Die laaste klompie jare het my van ’n innerlike krag bewus gemaak wat ek nooit gedink het bestaan nie. Ek het gevorder van emosioneel en finansieel staatmaak op almal om my, onsekerheid en vrees vir verandering, tot waar ek finansieel semi-onafhanklik is, met ’n selfvertroue waaroor ek twee jaar gelede sou lag as jy dit sou genoem het; tot by beheer neem en die toekoms omarm, die verandering omarm.

Ek het my hartseer en gevoelens van mislukking so lank in my binneste opgekrop. En toe ek wel breek, kon ek byna nie weer terugkom nie. Daar is absoluut niks verkeerd met doen wat gedoen moet word om in ons gesin en geliefdes se behoeftes te voorsien nie. Ek het professionele hulp gesoek (ek behoort aan ’n mediese fonds – dit help) en het op 30-jarige ouderdom beheer oor my lewe begin neem.

Ek glo met alles binne-in my vas dít is nie die lewe wat ek bestem is om te lei nie, maar om rond te sit en wag dat ’n droombetrekking in my skoot moet val, gaan nie ons huidige situasie regruk nie. Wees proaktief, bemark jouself. Glo in jouself – dit maak ’n yslike verskil.”

Volg Genevive se reis hier op haar blog.