Logo foto Afr Onthou jy nog die ‘bordjies eetgoed’ uit die 1960’s en 70's? Ons kosblogger Mari-Louis Guy en haar broer, Callie Maritz,  deel ’n paar onvergeetlike lekkernye uit die tydperk van ‘crimplene-cuisine’. CRIMPLENE-CUISINE

My broer Callie en ek was altyd bestem om saam in die koswêreld te werk.

Selfs as ampertieners in die 1970’s het ons twee keer per jaar (Moedersdag en Vadersdag) die Cali-Mari-hotel se deure oopgegooi, spyskaarte uitgetik en ons ouers bederf met dinge soos garnaalkelkies en tamaties waarin ons peuselstokkies gesteek en dit dan vol geryg het met groen en wit uitjies, kasies en Weense worsies.

Toe ons in 2007 albei terug Suid-Afrika toe kom en saam ’n loopbaan wou begin, het ons gespeel met die idee om ons maatskappy Crimplene Cuisine te noem. Ons het die idee gekry by ’n kospartytjie wat ek saam met ’n klomp kosverslaafde vriende gehou het en waarheen almal skemerkelk-happies uit die 1970’s moes bring.

[caption id="attachment_60304" align="aligncenter" width="600"]Main pic Ek en Callie by 'n tafel gelaai met crimplene -cuisine.[/caption]

Die verlepte kwarttoebroodjies, liefdevol op beddings versnipperde Iceberg-slaai gerangskik, het ongeëet in ’n hoek bly lê, maar elke tertjie en poeding is met smaak verslind.

Ek is hieraan herinner toe ’n goeie vriendin, uitstekende kosskrywer en mede-peetma van Callie se pragtige klein Nicola, onlangs haar praatjie oor kos by die Spier se Geheime Fees Crimplene Cuisine genoem het. Sy het die talentvolle Cara Brink gevra om eetgoed soos jellielemoen-skywe en natuurlik Peppermint Crisp-tert te berei. Niks beeld die idee van crimplene-cuisine beter uit as wanneer die handelsnaam van die sleutelbestanddeel deel van die resepnaam uitmaak nie. Die groot Suid-Afrikaanse gunsteling is natuurlik Peppermint Crisp-tert, en vir die Aussies is dit Fairy Bread (kondensmelk op witbrood, besprinkel met gekleurde strooisels). Dan is daar sulke glansende geregte soos Cremora-tert, Milo-poeding en Post Toastie-tertjies. Ons het selfs ’n resep vir een porsie Post Toastie-tertjies in ons boek Markdag ingesluit, en dit is steeds die enigste manier waarop jy my so ver sal kry om graanvlokkies te eet. NUUT OP DIE RAK

Boek cover Laan

Titel 7de Laan Vier Fees

Skrywer Danie Odendaal Produksies

Uitgewer Human & Rousseau

Fotograaf Myburg du Plessis

Kosstilis Sonja Jordt

Ontwerp Infestation Prys  R182 by Kalahari Ons ma, Este, is ’n toegewyde Laner en het van die resepte in die boek getoets terwyl sy onlangs soetgoed vir Nicola se doop gebak het. Die Peppermint Crisp-terte en malvalekkerpasteie uit die boek was wenners en het vinnig verdwyn by die teeparty ná kerk. WEN!

Human & Rousseau gee twee eksemplare van 7de Laan Vier Fees weg. SMS LAAN, jou naam, adres en die antwoord op ons vraag na 34922 om vir die boek in aanmerking te kom. Die sluitingstyd is 17:00 op 17 Desember. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Die borg is verantwoordelik vir die aflewering van die produk. Vraag Wat is die voornaam van die fotograaf wat die geregte in 7de Laan Vier Fees afgeneem het?

Peppermint Crisp-tert uit die Laan

Vra my wat my gunsteling-poeding is, en ek hoef nie lank te dink nie: Peppermint Crisp-tert. Dis hemel op ’n bordjie – baie ryk, baie lekker en so Suid-Afrikaans soos biltong, braaivleis en bokmakieries. Rugbyspelers kry trane in hul oë as hulle daarvan praat, ex-pats verlang huis toe, en ek het nog nooit ’n vrou teëgekom wat nie bereid is om van haar dieet te vergeet vir ’n snytjie Peppermint Crisp-tert nie. Of liewer twee, want een snytjie is nooit genoeg nie . . .

Pepperment Crisp tart

BESKUITJIEKORS

  • 1 pakkie (200 g) Tennis-beskuitjies, fyn gemaak
  • 100 g botter, gesmelt

VULSEL

  • 1 pakkie (80 g) suurlemoenjellie
  • 125 ml (½ k) kookwater
  • 125 ml (½ k) koue water
  • 250 ml (1 k) Orley Whip, styf geklop
  • 1 blik (360 g) karamelkondensmelk
  • 2 Peppermint Crisp-sjokolades, gerasper
  • vanieljeroomys vir voorsit
  • vars kruisementblaartjies vir versiering

Dit is nie regtig nodig nie, maar vir veiligheid verkies ek om my tertpan met kleefwerende kossproei te spuit. Gebruik ’n 23 cm-tertpan.

1 BESKUITJIEKORS Meng die beskuitjies en die gesmelte botter deeglik saam.

2 Skep die beskuitjiemengsel in die tertpan en druk dit styf vas op die boom en teen die kante uit om die tertkors te vorm. Plaas sowat 30 minute in die yskas.

3 VULSEL Smelt die jellie in die kookwater, voeg die koue water by en laat afkoel.

4 Meng die styfgeklopte Orley Whip met die karamelkondensmelk. Voeg die afgekoelde jellie en die helfte van die sjokolade by.

5 Skep die mengsel op die beskuitjiekors en plaas 3-4 uur in die yskas om te stol.

6 Strooi die res van die gerasperde Peppermint Crisp bo-oor nadat dit gestol het.

7 Sit voor saam met vanieljeroomys en versier met vars kruisementblaartjies.

Post Toastie-tertjies

Dié resep kom uit my en Callie se boek Markdag.  Toe ons kinders was, was Post Toasties die vernaamste soort graanvlokkies. Dit was die gevestigde graanvlokkie-handelsnaam van ’n vervaardiger in Durban wat in 1982 deur Kellogg’s oorgekoop is. Hoewel dit dus nie meer verkrygbaar is nie, is die naam in ons Suid-Afrikaanse woordeskat ingewortel.

Post Toasties tartlets

KORS

  • 500 ml (2 e) mieliegraanvlokkies
  • 25 g botter, gesmelt
  • 1 e (15 ml) suiker

VULSEL

  • ½ k (100 g) suiker
  • ? k (80 ml) koekmeel
  • 3 eiergele, liggies geklits
  • 2½ k (625 ml) melk

MERINGUE-BOLAAG

  • 3 eierwitte
  • knippie kremetart
  • ¼ k (50 g) strooisuiker

1 KORS Hou 6 middelslag- of 10 klein weggooibare tertbakkies eenkant.

2 Meng die graanvlokkies, gesmelte botter en suiker in ’n groot mengbak saam. Voer die bome van die tertbakkies met die mengsel uit en hou eenkant.

3 VULSEL Meng die suiker, meel, eiergele en 125 ml (½ k) van die melk in ’n ander bak tot dit ’n pasta vorm.

4 Verhit die res van die melk in ’n kastrol en bring dit stadig tot kookpunt.

5 Verwyder van die stoof en giet die warm melk in ’n egalige straal by die meel-en-eier-pasta terwyl jy aanhou klits.

6 Plaas die mengsel terug in die kastrol en klits sowat 1 minuut tot dit kook en verdik.

7 Verwyder van die stoof en skep die vulsel versigtig bo-op die kors in die tertbakkies.

8 Voorverhit die oond tot 180 °C.

9 MERINGUE-BOLAAG Klits die eierwitte en kremetart tot skuimerig. Hou aan klits terwyl jy die strooisuiker geleidelik byvoeg. Klits tot stywe punte vorm. 10 Spuit of skep die meringue bo-op die vlavulsel. Bak sowat 10 minute of tot goudbruin. [caption id="attachment_60310" align="aligncenter" width="215"]Make Gift Sell AFR Covers.indd Hierdie resep kom uit ons boek Markdag.[/caption] Hou jy ook van crimplene-cuisine? Stuur gerus jou  kosstories, foto's en resepte uit daardie jare na cakebreadct@gmail.com, ons sal dit graag op ons Facebook-blad deel!

Groetnis tot volgende keer!

- Mari-Louis

 Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.