Collage3 Konsternasie in die pantserwa

DIT was 2004 en ek was op pad Eritrea toe om aan ’n projek te werk vir Mechem, ’n maatskappy in die Denel-stal wat hulle onder meer bemoei met die opruiming van landmyne.

Nou, destyds het ek dit nog nie baie oor die grense van Suid-Afrika gewaag nie. Daar was ’n vakansie in Mosambiek en ’n verkenning van Angola toe ons ’n kunsvoetprojek vir landmynslagoffers daar van stapel wou stuur. En dan was daar die keer toe ek en vriende op universiteit Krugerwildtuin toe is en langs die Mosambiek-grens stilgehou het. Destyds was daar nie ’n heining nie en ons het die kans gebruik om in ons buurland te gaan water afslaan. . . .

Dit, en ’n draai in Angola terwyl ek in die weermag was, was teen 2004 die somtotaal van my buitelandse ervaring. Maar toe beland hierdie vlakteseun van Namibië op ’n BA-vlug van Johannesburg na Nairobi, en van daar oor Djiboeti na Asmara in Eritrea. My opdrag: Ek moes drie maande as logistieke koördineerder werk op ’n Mechem-kontrak met die Verenigde Nasies (VN).

[caption id="attachment_56325" align="alignnone" width="600"]Asmara, Foto: D-Stanley op Flickr Asmara, Foto: D-Stanley op Flickr[/caption]

Ek het skaars daar aangekom, of ek hoor ek moet voor sonop die volgende môre saam met werktuigkundige Piet Botha in sy herwinningsvoertuig met ’n sleepwa vol sement vir ’n VN-projek in die pad val na die dorpie Sjilalo.

Met net ’n paar uur se slaap agter die blad pak ek en Piet die tog aan. Die eerste entjie was teerpad, en toe kom die grondpad – eers ’n mooi pad wat met een pas ná die ander teen die sentrale hoogland se westelike hang afslinger na die westelike laagland toe. Italiaanse padbouvernuf op sy beste, met ongelooflike natuurtonele, veral met die opkomende son wat lang skadu’s oor die valleie daar onder gooi. En dan is jy onder en jy dink dis nou amper verby.

[caption id="attachment_56327" align="alignnone" width="500"]Landelike Eritrea. Foto: Peter Casier op Flickr Landelike Eritrea. Foto: Peter Casier op Flickr[/caption]

Maar dit is nie. Die pad word eng en klipperig, dan weer sanderig. Dan word dit ’n tweespoorpaadjie. En sinkplaat. Dit hou aan en aan. Later is jy déúrgesit.

Ons voertuig was in ’n vorige lewe ’n militêre Samil 50-herwinningsvoertuig met ’n gepantserde en mynbestande kajuit. Nou is hy wit geverf, met “UN” in groot swart letters op die deure geskryf. En harde vering. En nog harder sitplekke. En ’n rooi brandblusser net hier links van die sitplek.

Ek het dié kant toe gesit. En toe daai kant toe. Op die een boud, dan op die ander. Dan lig ek my op op my arms met al twee boude in die lug. En dan begin die bouderuilproses weer van voor af. En steeds kom die einde nie nader nie.

Toe ek weer ’n slag vatplek soek om my agterstewe op te lig, is daar ’n harde gesuis hier langs my en skielik is die kajuit vol wit rook. Maar dit ruik nie na rook nie en ek sien niks brand nie. Piet trap rem en maak terselfdertyd sy deur oop. Hy uiter ’n stortvloed woorde, waarvan ek die meeste nie hier kan herhaal nie. Maar iewers, tussendeur, herken ek darem een woord: “brandblusser”. . .

Poeier, dis wat dit was. Brandblusserpoeier. Ek het met my linkerhand die brandblusser se handvatsel beetgekry en met die opligslag die kajuit vol poeier gespuit. Nodeloos om te sê, het ek en Piet nie op goeie voet afgeskop nie. Ons het wel later, veral in Afghanistan, goeie vriende geword. En my eerste regte Afrika-reis het ’n onvergeetlike ervaring geword. Hoe het dit dan gebeur dat ek op so ’n afgesonderde plek beland het? Wel, dit was deels omdat ek ’n inkomste nodig gehad het, deels omdat ek iets wou doen waarmee ek ’n verskil kan maak, en so by so was dit ’n geleentheid om my swerwersdrang uit te leef. Die plaas waarop ek groot geword het, se naam was immers Nimmerrust . . . My blog se naam

Voor ek verder aan hierdie blog-reeks skryf, moet ek darem seker eers verduidelik wie ek is. Ek het in die 50’s, 60’s en 70’s in die suide van die ou Suidwes, vandag Namibië, grootgeword. Nou destyds het ons op die plaas net kortgolf op die radio kon opvang – spoorwegradio, het ons hom genoem, want hy het op elke stasie gefluit. Met die weervoorspellings was daar ’n voorspelling vir Suidwes, miskien iets soos “warm in die suide” en dan iets soos “. . . en bloedig warm elders”. In ons wêreld het ons geglo “suide” is Keetmanshoop en Mariental, en daai “elders” was waar óns was. Dit was daar waar niemand van geweet het nie, en waar almal altyd vinnig deurgery het op pad noorde toe, want daar was “niks”. Die laaste jare het ek op plekke begin rondswerf wat meer “elders” is as wat dit daar was. Op plekke waar daar “nikser” is as in die verre suide van Namibië. Dit sluit lande in soos Eritrea, Afghanistan, Suid-Soedan, Somaliland en die afgelope 27 maande Somalië. Miskien is dit juis wat ek met “Briewe van Elders” wil bereik – om te vertel dat daar op “Elders” ook “iets” is. map pe Hoe ek hier beland het

In ’n vorige lewe was ek ’n predikant en kapelaan in die weermag. Om persoonlike redes wat niks met politiek te doen het nie, het ek in Januarie 2000 die weermag met ’n pakket verlaat en as predikant geëmeriteer.

In 2004 het ek ’n aanbod gekry om te gaan werk vir Mechem, wat verskeie landmynaksie-kontrakte met die VN het. Eers het hulle my Eritrea toe gestuur, en daarna Afghanistan toe. In Afghanistan het ek op twee verskillende projekte gewerk wat albei te doen gehad het met die opruiming van landmyne, en het ek baie dae deurgebring in eers ’n Tapir (’n mynbestande voertuig) en toe ’n Casspir met staalwiele en mynrollers.

[caption id="attachment_56317" align="alignnone" width="600"]Bo: Ek en my tapir buite Girisk in Afghanistan. Onder: Die Casspir met Bo: Ek en my Tapir buite Girisk in Afghanistan. Onder: Die Casspir met sy staalwiele en mynrollers.[/caption]

Sedertdien het ek vir Mechem en daarna enkele niewinsgewende organisasies op verskeie plekke in Somalië en Soedan gewerk. Hierdie soort hulpverleningswerk is taamlik onbestendig en hang baie af van die duur van die kontrak of befondsing. In 2011 het ek ingeval by Bancroft Global Development, ’n Amerikaanse organisasie, as tegniese MRE-raadgewer by ’n VN-kontrak (MRE staan vir mine-risk education). Ons hoofkwartier is die VN-Mynaksiediens (Unmas) se humanitêre kantoor in Mogadisjoe, Somalië.

[caption id="attachment_56331" align="alignnone" width="450"]Mogadisjoe. Foto bo: R Jones op Flicr. Foto onder: Macalin op Flickr. Mogadisjoe. Foto bo: R Jones op Flickr. Foto onder: Macalin op Flickr.[/caption]

Hier woon ek in ’n VN-kamp reg langs die strand en lei Somaliërs op om landmyn-kwessies te hanteer en hul kennis en opleiding na hul gemeenskappe terug te neem. Dis baie ver van my vrou, Elize, in Pretoria af en van my drie kinders en kleinkinders, maar ek kan darem elke drie maande of wat gaan kuier.

[caption id="attachment_56320" align="alignnone" width="579"]My villa by die see. Die bruin deur is die ingang na my kamer. My villa by die see! Die bruin deur is die ingang na my kamer.[/caption]

Hoewel die oorlogvernielde Mogadisjoe stadig maar seker besig is om sy reputasie as die wêreld se gevaarlikste stad te verloor, is ons beweging “buite die draad” steeds baie beperk. Ons moet eers toestemming van die veiligheidspersoneel kry as ons die kamp verlaat, en dan, afhangende van waar ons gaan (dikwels om in gemeenskappe te gaan werk), in gepantserde Land Cruisers of gepantserde personeeldraers met beskerming van die Afrika-Unie se vredesmagtroepe ry. Ons moet ook altyd ’n helm en koeëlvaste baadjie dra as ons die kamp verlaat.

Ons werk baie hard hier: maklik ses tot sewe dae per week, 10 uur per dag. Ons kamp lê reg langs die strand en as ek af en toe ’n oomblik vir myself het, en die wind waai nie te hard nie, werk ek ’n snorkelsessie in.

[caption id="attachment_56332" align="alignnone" width="600"]Die getypoel langs die kamp waar ons gaan snorkel as die gety laag is. Die getypoel langs die kamp waar ek gaan snorkel as die gety laag is.[/caption]

’n Toneeltjie waar ’n Bosniër, ’n Noorweër, ’n Tunisiër en ’n Namibiër hier om ’n braai staan waarop ’n paar Somaliese krewe gegooi is, is nie ongewoon in die kamp nie . . .

[caption id="attachment_56333" align="alignnone" width="600"]Ons hou kreefbraai, maar hier is ons vier Suid-Afrikaners en 'n Keniaan. Ons braai kreef, maar hier is ons vier Suid-Afrikaners en 'n Keniaan.[/caption]

Ek sien nou die dag dat nieregeringsorganisasies soos ons al amper ’n miljoen mense in die hantering van landmyne opgelei het. As ons i­­­­n die proses darem ’n paar lewens, bene, arms en oë kon red, is ek diep dankbaar.

 - Rudie Thirion

Rudie Rudie Thirion is ’n oud-kapelaan wat deesdae hulpverlening in Somalië doen. Sy blyhuis is in Pretoria maar hy bring die meeste van sy tyd deur in ’n Verenigde Nasies-kamp in Mogadisjoe. Hy blog vir ons oor sy omswerwinge en wedervaringe noord van die ewenaar.