VERLEDE Donderdag, presies ’n week gelede, was drie mans in ’n klein vragmotor op pad deur sentraal-Somalië toe hulle ’n groot vragmotor van voor af sien kom. Die pad was maar smallerig en om plek te maak, het die bestuurder van die klein vragmotor van die pad af gery – en met ’n oorverdowende knal in ’n stofwolk ontplof.

Twee van die insittendes is dood en die derde ernstig beseer. Die kajuit van die vragmotor was aan flarde, en in die pad was daar ’n reuse krater.

Die vragmotor se linkervoorwiel het ’n teen-voertuigmyn afgetrap.

[caption id="attachment_59251" align="alignnone" width="600"]Links is die verwoeste kajuit van die vragmotor, en regs die krater wat die ontploffing in die pad gelaat het. Links is die verwoeste kajuit van die vragmotor, en regs die krater wat die ontploffing in die pad gelaat het.[/caption]

My werk hier in Somalië behels dat ek sulke voorvalle moet help voorkom. Landmyne in Somalië is meestal tot die grensgebiede beperk, maar die land is besaai met lewensgevaarlike ou ammunisie. Vanjaar was daar al 12 ongelukke met ou ammunisie – en 10 mense is daarin dood en 14 beseer. Die meeste slagoffers was jonger as 18.

Mynaksie behels ’n klomp dinge, onder meer opruiming (die ontslae raak van landmyne), bystand van slagoffers en opleiding oor hoe om veilig te lewe op plekke waar daar dalk landmyne kan wees. Laasgenoemde word mine risk education (MRE) genoem, en dis my jop.

Die ideaal is natuurlik om van soveel ou ammunisie en landmyne moontlik ontslae te raak, maar dis ’n baie duur proses. Opleiding is veel goedkoper en daarom fokus baie van die hulporganisasies hier liewer daarop. Die organisasie waarvoor ek werk, het ’n kontrak om onder andere ’n tegniese raadgewer (dis nou ekke) aan die Verenigde Nasies (VN) te verskaf. Die VN en ander organisasies het spanne in die veld wat vir mense mynveiligheid leer, en ek moet hierdie spanne oplei, monitor, koördineer en take gee. Ek moet ook seker maak hulle voldoen almal aan internasionale standaarde. [caption id="attachment_59253" align="alignnone" width="600"]Bo is ek in aksie tydens 'n opleidingsessie. Links en regs onder is groep-besprekings en -werksessies, Bo is ek in aksie tydens 'n opleidingsessie. Links en regs onder is groep-besprekings en -werksessies,[/caption] Die lekker deel van my werk

Die lekkerste deel van my werk is om by die spanne in die veld uit te kom. Die spanne, wat uit twee of drie mense bestaan, gaan na skole, madrassas (Koran-skole), kampe vir ontwortelde mense (Somaliërs wat as't ware vlugtelinge in hul eie land is) of sommer enige plek waar mense bymekaar is en leer hulle om veilig in landmynomgewings te wees. Hulle leer die Somaliërs om landmyne en ammunisie te herken, wat kan gebeur as daar ’n ongeluk is, watter plekke dalk gevaarlik is, en wat om te doen as hulle iets gevaarliks sien. Die kinders leer met die hulp van tegnieke soos prente, liedjies, rolspeling en legkaarte. [caption id="attachment_59254" align="alignnone" width="600"]Die spanne aan die werk. Bo deel hulle pamflette uit na 'n sessie in 'n vlugtelingkamp, links doen onderrig hulle met die hulp van 'n legkaart en regs is hulle besig met 'n sessie in 'n plattelandse Somaliese dorpie. Die spanne aan die werk. Bo deel hulle pamflette uit na 'n sessie in 'n kamp vir ontwortelde mense, links  onderrig hulle met die hulp van 'n legkaart en regs is hulle besig met 'n sessie in 'n plattelandse Somaliese dorpie.[/caption] Die slegte deel van my werk

Dit is wanneer daar ’n ongeluk gebeur. Ek sal nooit die dag van “my” eerste ongeluk vergeet nie. ’n Groep seuns van 12 tot 13 jaar oud het gespeel in ’n mynveld om die stad Malakal, waar ek ’n span gehad het. Daar was ’n ontploffing en een seun is dood terwyl drie beseer is.

Ek het dae lank gewroeg oor wat ons verkeerd doen en hoe ons beter kon wees. Ek het ook al dikwels in my kantoor gesit en trane afgevee oor kinders wat in ongelukke beseer is.

Maar ’n paar dae gelede het ek weer fantastiese nuus gekry. ’n Paar kinders wat in ’n kamp vir ontworteldes bly en een van ons sessies bygewoon het, het ’n handgranaat gesien, dit herken uit die prente wat vir hulle gewys is, en dit gaan aanmeld. Wat sou hulle gedoen het as hulle nie besef het wat dit is nie? Daarmee probeer speel het?

[caption id="attachment_59256" align="alignnone" width="500"]'n Vrou wys vir die kinders 'n banier met prente van gevaarlike ammunisie daarop. 'n Vrou wys vir kinders 'n banier met prente van gevaarlike ammunisie daarop.[/caption]

Ja, ons hét ’n positiewe uitwerking. Ons programme werk. Wat ’n salige gevoel van sukses, maar ook van dankbaarheid dat jy ’n klein rol kon speel om ’n paar kinders se lewe of ledemate te red.

 - Rudie Thirion

Rudie Rudie Thirion is ’n oud-kapelaan wat deesdae hulpverlening in Somalië doen. Sy blyhuis is in Pretoria maar hy bring die meeste van sy tyd deur in ’n Verenigde Nasies-kamp in Mogadisjoe. Hy blog vir ons oor sy omswerwinge en wedervaringe noord van die ewenaar.