Die onlangse gyselaarskrisis in Kenia laat ons blogger terugdink aan die aanval naby hom vroeër vanjaar waarin twee mede-Suid-Afrikaners dood is – en hoe dit sy en ander Somaliese hulpverleners se lewe verander het. Collage Bloedige aanvalle

DIT was die oggend van 19 Junie vanjaar, omtrent 11:30. Ek het in ons Verenigde Nasies-kantoor in die veiligheidskamp by die lughawe gesit en werk toe die telefoon lui. Kollega Coleb het geantwoord. Dit was Hussein, ook ’n kollega, wat van ons kantoor “buite die draad” gebel het. Hy het gesê daar was ’n ontploffing naby die UNCC (die United Nations Commom Compound), wat so 600 meter straatop van die lughawehek af geleë is.

’n Rukkie later bel Hussein weer. Dit was ’n motorbom en dit was by die UNCC se hek. En ’n rukkie later weer om te sê dat daar skote in die kompleks self gehoor word.

My gedagtes is dadelik by Morné Lotter. Is hy en sy makkers veilig? En die ander wat ek ken wat daar bly en werk? Morné werk vir Mechem, ’n Denel-maatskappy en een van my vorige werkgewers hier in Somalië. Hulle het die kontrak om die UNCC te ontwikkel, in stand te hou en te bestuur. Morné het vroeër in ons kamp gewerk en net om die draai van my af gebly. Ek het hom elke dag gesien. Hy is een van die vriendelikste en mees behulpsame mense wat ek nog teëgekom het.

Iemand kom binne en sê daar is Suid-Afrikaners van Mechem dood. Hy sukkel met Morné se naam, maar toe ek dit noem, sê hy Morné is een van hulle. Ek kan dit nie glo nie. Dit kan nie waar wees nie. Nie Morné nie.

[caption id="attachment_57848" align="alignnone" width="300"]Morné Lotter en Alan Simpson, die twee Suid-Afrikaners wat in die aanval oorlede is. Morné Lotter en Alan Simpson, die twee Suid-Afrikaners wat in die aanval oorlede is.[/caption]

Middagete stap ek eetsaal toe met die plan om by Mechem se kantoor in te loer en vir Stephan, hul projekbestuurder hier in ons kamp, te vra wat die nuus van Morné is. Stephan het die foon by sy oor en dit lyk of hy aanhou. ’n Rukkie later druk hy dood en skud sy kop. Ek stap nader en vra wat die nuus oor Morné-hulle is. Hy skud net sy kop en ek kan sien hy wil nie praat nie. Later vertel hy my hy het vir Morné gebel toe hy hoor van die ontploffing. Hy kon skote in die agtergrond hoor, en toe word die foon stil. Hy wou vroeër niks sê nie, want daar was geen bevestiging nie.

Op 22 Junie, die dag voor ek Pretoria toe vertrek vir twee weke verlof, word die roudiens gehou vir Morné, Alan Simpson (ook ’n Suid-Afrikaner van Mechem) en die vrou van die VN se ontwikkelingsprogram wat in die ontploffing dood is. Daarna kyk ons hoe die kiste in ’n vliegtuig gelaai word Nairobi toe.

[caption id="attachment_57850" align="alignnone" width="600"]Bo vorm die soldate van die Afrika-Unie se vredesmag 'n erewag tydens die roudiens en onder word die kiste in 'n vliegtuig gelaai. Bo vorm die soldate van die Afrika-Unie se vredesmag 'n erewag tydens ons roudiens en onder word die kiste in 'n vliegtuig gelaai.[/caption]

Ek het nie lekker huis toe gegaan die volgende dag nie. Ek kon die tydjie met my familie geniet. Morné en Alan s’n sou nooit weer die voorreg hê nie.

’n Paar maande vroeër het ’n groep vegters van Al-Sjabaab (die Somaliese sel van Al-Kaïda)  die hofgebou in Mogadisjoe aangeval. Minstens 20 mense is dood. Ek het toe nog geglo dat Al-Sjabaab nie VN-agentskappe en humanitêre organisasies soos ons sou aanval nie. ’n Mens dinges immers nie op jou eie voorstoep nie. Dit sou hul saak groot skade aandoen.

Toe gebeur die UNCC en daarna die Westgate-sentrum in Nairobi, Kenia.

[caption id="attachment_57873" align="alignnone" width="500"]Gyselaars probeer ongesiens beweeg tydens die besetting van die Westgate-inkopiesentrum in Nairobi. Gyselaars probeer ongesiens beweeg tydens die besetting sowat 'n maand gelede van die Westgate-inkopiesentrum in Nairobi waarin 67 mense omgekom het.[/caption] Dit het die prentjie heeltemal verander vir ons wat hier werk. Sedertdien kon ons nie ons kantoor “buite die draad” besoek vir vergaderings en om daar met ons Somali kollegas te werk soos ons vroeër gedoen het nie. Ons bewegings is ook heelwat ingeperk. [caption id="attachment_57855" align="alignnone" width="600"]Die enigste manier waarop ons tans Mogadishoe mag sien: deur die vensters van 'n gepantserde Casspir. Die enigste manier waarop ons hulpverleners die oorloggeteisterde Mogadishoe tans mag sien: deur die vensters van 'n gepantserde Casspir.[/caption] Hoekom?

Hoekom het Al-Sjabaab dit gedoen? Dit is ’n vraag wat mense my taamlik dikwels vra. Die antwoord is nie so maklik nie, en ek het al heelwat menings daaroor gehoor. My mening oor die saak is bloot dit – my mening. Ek is nie ’n politieke ontleder of  terreurkenner nie. Maar hier is wat ek dink:

  • Al-Sjabaab het sedert laat 2011 baie grondgebied aan die Somaliese regering afgestaan. Dit, en die gepaardgaande verlies van hawens en lughawens het beteken hulle verloor baie belastinggeld, en hul invoer van wapens en ammunisie word gekortwiek.
  • Hulle het ook heelwat steun van die bevolking verloor – in sommige gebiede word hulle selfs aangeval en verdryf.
  • Daar’s tweespalt in die organisasie self en die twee faksies pak mekaar gereeld.
  • Hulle het te radikaal en ’n verleentheid vir Al-Kaïda geword, en dit wil lyk of Al-Kaida hulle die rug toekeer.

Om al dié redes is Al-Sjabaab desperaat.  Hulle sal enigiets doen om hulle posisie te verbeter. Hul grootste vyande naas die regering is die VN, humanitêre organisasies en die vredesmag van die Afrika-Unie. Hulle het al dikwels gedreig dat hulle lande sal aanval wat troepe aan die vredesmag verskaf – en dit sluit Kenia in. Hulle het trouens al ’n paar keer op Kenia toegeslaan, en destyds met die Sokkerwêreldbeker ook in Uganda.

Hoekom die Westgate-sentrum? Daar is meer as 600 000 Somali-vlugtelinge in Kenia.

[caption id="attachment_57838" align="alignnone" width="600"]Een-van-die-vier-vlugtelingkampe-by-Dadaab-in-Kenia.-Hier-woon-amptelik-460-000-vlugtelinge-die-grootste-konsentrasie-vlugtelinge-in-die-wêreld..jpg Ek het dié foto uit die vliegtuig geneem. Dis een van  vier Somali-vlugtelingkampe by Dadaab in Kenia.-Hier woon amptelik 460 000 vlugtelinge, die grootste konsentrasie vlugtelinge in die wêreld.[/caption]

As Al-Sjabaab ’n teiken in Kenia hard genoeg slaan, gaan die Keniane reageer. En Keniane, wat bekend is vir hulle vriendelikheid en gasvryheid teenoor vreemdelinge, is ook bekend daarvoor dat hulle hard terugslaan. Die reaksie gaan aggressie teenoor Somali’s in Kenia wees. Dan kan Al-Sjabaab hom voorhou as die redder van die Somali-nasie. Kenia het immers hul land ingeval en beset.

Ek moet sê, die Keniane het tot dusver met groot selfbeheersing opgetree, maar daar is nou gerugte dat Kenia Somali-vlugtelinge gaan repatrieer.

Volgende keer vertel ek meer van my werk hier in Somalië.

 - Rudie Thirion

Rudie Rudie Thirion is ’n oud-kapelaan wat deesdae in Somalië  vir ’n Amerikaanse hulpverlenigingsorganisasie werk en Somaliërs in landmynveiligheid oplei. Sy blyhuis is in Pretoria maar hy bring die meeste van sy tyd deur in ’n Verenigde Nasies-kamp in Mogadisjoe. Hy blog vir ons oor sy omswerwinge en wedervaringe noord van die ewenaar.