As jy nie die Somali-kultuur verstaan nie, kan jy groot verleentheid veroorsaak en selfs verhoudings laat sneuwel. Ons blogger in Somalië, Rudie Thirion, vertel hoe kultuur-verskille hom en ander Westerlinge al ’n paar keer in die pekel laat beland het.

Kaart van Somalië met Somaliland en PUntland ONS kla dikwels dat e-posse en ander moderne kommunikasiemiddele mense van mekaar vervreem en veroorsaak dat ons nie meer met mekaar gesels nie. Wel, op hierdie deel van ons vasteland is dit beslis nie ’n gevaar nie! Om die waarheid te sê, as jy jou op die geskrewe woord verlaat (of onbewustelik ’n ander kulturele blaps begaan), kan jy groot verleenthede veroorsaak en selfs verhoudings ernstige skade berokken. Les 1: Praat voor jy skryf

’n Paar jaar gelede het ek in Somaliland vir die Danish Demining Group gewerk. My tuisbasis was Hargeisa, die hoofstad van Somaliand, maar ek het gereeld gereis na onder meer Bosaso in Puntland.

Voor my eerste vlug na Bosaso het ek vir die Danish Refugee Council (DRC), by wie ek sou gaan bly, ’n e-pos gestuur om te sê wanneer ek land. Op die lughawe aangekom, was daar niemand om my te ontmoet nie. Die lughawepersoneel was nie baie ingenome daarmee dat  ek "onaangekondig” opgedaag het nie. Ek bel toe die DRC se kantoor en hulle sê hulle stuur dadelik iemand.

[caption id="attachment_65118" align="alignnone" width="600"]Bosaso Somalië uit die lug Ek het die foto van Bosaso kort voor ons landing daar geneem.[/caption] Dié iemand was toe Shire, hul sekuriteitsman en ’n oud-kolonel in die destydse diktator Siad Barre se weermag. Hy was skoon vies vir my omdat ek nie laat weet het nie. Ek sê maar ek het mos ’n e-pos gestuur én bevestiging gekry. Sy antwoord was: Die Somalikultuur is ’n kultuur van die gesproke woord en nie van die geskrewe woord nie. Les 2: Pasop wat jy sê (en hoor)

Somali het eers in die laat 70’s as geskrewe taal tot stand gekom. Daarvóór kon die geskooldes Engels en/of Italiaans lees en skryf, en omtrent almal kon ’n basiese Arabies lees en skryf. Maar Somali was ’n spreektaal.

Hierdie kultuur van die gesproke woord kan ’n mens ook goed in die moeilikheid laat beland. Jy  sê iets of onderneem om iets te doen en lank daarna vra die Somali’s jou daarna. Dan het jy dalk vergeet om dit te doen of dit net gedeeltelik gedoen. Daarop sal hulle maklik vir jou woord vir woord herinner aan wat jy gesê het. Iets wat ek steeds nogal eienaardig en verwarrend vind, is die manier waarop Somali’s verslag doen van ’n vergadering of ’n ontmoeting met iemand anders: Hulle haal in die eerste persoon aan wat iemand anders gesê het. Byvoorbeeld: “Hy het gesê ek het dit of dat gedoen.” Aanvanklik was ek dan dikwels ontsteld oor wat die verslaggewer aangevang het, net om te besef dis eintlik die ander persoon wat gesê het hulle het dit of dat gedoen. [caption id="attachment_65123" align="aligncenter" width="600"]Die dorpie Gugux in Somaliland, Somalië Gugux, ’n tipiese dorpie in Somaliland[/caption] Les 3: Word voet-wys In sekere kulture in Soedan is dit weer ’n belediging om met een been oor die ander gekruis op ’n stoel te sit met jou voet wat na een van die gespreksgenote wys.  ’n Amptenaar wie se samewerking ek baie nodig gehad het, het eendag geweier om met my te praat omdat ek dit onwetend gedoen het. Dit het mooipraat gekos om hom te oortuig dat ek nie besef het dis ’n belediging nie. Les 4: Vermy koei-konsternasie!

Tydens ’n vergadering het iemand van ’n Nordiese land wat iewers in Wes-Afrika gewerk het ’n staaltjie vertel wat vir my ’n metafoor geword het van deeglik seker maak van mense se kultuur en behoeftes. Sy het vertel dat hulle voeding van babas en jong kinders geïdentifiseer het as ’n groot behoefte in ’n sekere omgewing. Die (vir hulle) voor die hand liggende oplossing was om melkkoeie in te voer sodat die gemeenskap melk vir die kinders kon gee. Toe die eerste besending duur en opreg geteelde Nordiese melkkoeie daar opdaag en hulle dit baie trots oorhandig, het daar ’n groot ontnugtering gewag. Die mense het gesê dit is nou alles goed en wel, maar wat maak hulle nou met die diere? Dit was eers toe dat die hulpverleners besef hulle het nog nooit ’n bees van ’n dag oud in daardie omgewing gewaar nie. Die mense ken bloot nie beeste of melk nie. Daar moes toe maar noodgedwonge ander plan gemaak word. [caption id="attachment_65125" align="aligncenter" width="600"]Beeste in die Torit-omgewing in Soedan Oos-Afrika is darem nie sonder beeste nie. Hierdie foto het ek in die Torit-omgewing in die Soedan geneem.[/caption] Belangrikste les: Vra voor jy namens hulpbehoewendes besluit

Dit is ongelukkig tipies van baie projekte wat op paternalistiese wyse in Afrika aangepak word deur buitelanders. Hul houding is: Ons weet die beste wat goed is vir julle. Vir die Afrikane klink dit heeltemal te veel na ’n nuwe vorm van kolonialisme en help dit nie juis verhoudinge tussen hulpverleners en -ontvangers aan nie.

Een van die eerste dinge wat ek sê wanneer ons iets nuuts wil doen, is: Vra die gemeenskap. Hulle weet die beste waarmee hulle gehelp moet word en hoe. Die “vra” moet egter reg aangepak word om te verseker dat die antwoord die behoefte van die gemeenskap weerspieël en nie net sekere individue gaan baat nie, maar dis ’n onderwerp vir ’n ander blog!

[caption id="attachment_65119" align="aligncenter" width="600"]Gemeenskapslede in Somalië vergader om 'n tafel Vra die gemeenskap! Inwoners van Gugux is hier besig om hul veiligheidsbehoeftes met sketse te verduidelik.[/caption]

[caption id="attachment_65120" align="aligncenter" width="320"]Tekening van veiligheidsplan, Gugux, Somaliland En so lyk die getekende veiligheidsplan![/caption]

Dit bly maar ’n uitdaging om so in vreemde lande te werk, maar dis goed so. Dit maak dit so opwindend en bevredigend. En dit hou jou ook op jou tone om te verseker jy doen die regte dinge reg.

[caption id="attachment_65122" align="aligncenter" width="600"]Rudie Thrion oorhandig die veiligheidsplan in Gugux Somalië Ek oorhandig die finale veiligheidsplan soos deur die gemeenskap opgestel aan die gemeenskapsleier in Gugux.[/caption]

- Rudie

Rudie Rudie Thirion is ’n oud-kapelaan wat deesdae hulpverlening in Somalië doen. Sy blyhuis is in Pretoria maar hy bring die meeste van sy tyd deur in ’n Verenigde Nasies-kamp in Mogadisjoe. Hy blog vir ons oor sy omswerwinge en wedervaringe noord van die ewenaar.