[caption id="attachment_49259" align="aligncenter" width="600"]Hier is ek aan die werk in my klas. Hier is ek aan die werk in my klas.[/caption]

OMTRENT ’n maand nadat ek hierin Seoel aangeland het, deel my kollega juffrou Lee (ja, haar van is rêrig Lee) my mee dat ons op ’n personeeluitstappie gaan. Die kinders sou vroeg waai sodat ons die middag as personeel saam kon deurbring op ’n kulturele uitstappie na die museum. Dit het nie vreeslik prettig geklink nie, maar ek sou veel eerder dit doen as om heelmiddag by die werk te sit, of hoe? Alhoewel die uitstappie weke tevore al beplan is, is die brokkie inligting eers die dag voor die tyd aan my oorgedra.

[caption id="attachment_49261" align="aligncenter" width="413"]Ek en juffrou Lee in die skoolgange. Ek en juffrou Lee in die skoolgange.[/caption]

Opgewonde danksy my halwe werkdag kom ek toe soos gewoonlik met my formele hemp en das skool toe. Die eerste ding wat ek oplet toe ek by die personeelkamer instap, is dat die meeste van die onderwysers sweetpakke en tekkies aanhet. Dit was vreemd, maar dis eers toe ek tussen periode twee en drie die hoof wat altyd, maar altyd, ’n pak dra, sien rondstap met sy sweetpak aan dat ek besluit om te vra wat hier aangaan.

[caption id="attachment_49262" align="aligncenter" width="600"]So like ons personeelkamer. So lyk ons personeelkamer.[/caption]

Juffrou Lee het so rooi soos ’n bloody Mary geword terwyl sy in Engels ’n verskoning aanmekaar probeer slaan het. Sy wou omtrent omval van skaamte terwyl sy verduidelik het dat die plan verander het en dat sy vergeet het om my te vertel. Die beplande uitstappie na die museum het oornag na ’n stappie in die berge verander. Almal is per SMS ingelig, maar sy het vergeet om die boodskap te vertaal en vir my aan te stuur.

Prinsipale van skole word in Korea hoogs gerespekteer. As jou hoof dus sê spring, vra jy hoe hoog. As jou hoof iets nodig het, laat staan jy alles waarmee jy besig is en doen wat hy of sy wil hê. Ek was onder die indruk dat daar kaartjies vir die museum bespreek is en dat die planne konkreet was. Nee, die hoof het besluit hy is liewer lus om in ’n berg daar naby te gaan stap. So natuurlik val ’n mens dan in by wat die hoof wil doen. Dit was een van vele kommunikasiegapings en verwarringe in Korea.

Ek vra toe vir my kollega of ek met pouse gou van die skool af kan wegglip om my stapklere te gaan aantrek. In Korea vra jy nie sommer om jou werk om persoonlike redes te verlaat nie, maar omdat die hele personeel die boodskap gekry het en ek nie, stem die hoof toe in dat ek huis toe kon gaan om uit my stywe, formele hemp en das te kom. Ek is toe daar vort en 20 minute later stap ek in met ’n gemaklike sweetpakkie en tekkies wat al lekker goed uitgetrap is, gereed vir die staptog.

Kort voor ons moes vertrek, word ek weer meegedeel dat ons nie meer gaan stap nie, maar eerder gaan fliek. Ek het onnodig huis toe gegaan om iets anders aan te trek. Die hoof het besluit dat dit dalk te warm sou wees vir die ouer onderwysers om te gaan stap en ons is daar weg om vir Hancock, met Charlize Theron in, te kyk.

Die feit dat die plan gekommunikeer is en twee keer verander het, en dit alles binne 24 uur, is iets wat baie gereeld in Koreaanse werkplekke gebeur. Omdat ek ’n buitelander is, kom die boodskap altyd laaste by my uit. Soms gebeur dit omdat hulle vergeet, maar meestal omdat hulle te skaam is om die boodskap in Engels oor te dra. Koreane is vreeslik vriendelike en gasvrye mense, maar hulle hou nie daarvan om hulleself te verneder deur nie Engels met buitelanders te kan praat nie.

Ek is ’n baie ongeduldige mens, maar Korea het my gedwing om meer geduld aan die dag te lê. Toe ek ná my eerste jaar in Korea huis toe is en ’n paar dae saam met my familie deurgebring het, het my suster opgemerk dat my geaardheid verander het. Ná ’n dag of twee slaan sy die spyker op die kop toe sy sê wat anders is: Ek is geduldiger.

Ná vyf jaar hier is ek bly om te sê dat ek selfs meer geduldig is as destyds. Ek is Korea ewig dankbaar vir die geskenk van geduld.

- Joe Makka

Joe mug shot   Joe Makka kom van Hopefield in die Wes-Kaap en gee tans Engels in Seoel, Suid-Korea.

Lees Joe se vorige blog:

Groete uit Seoel