Izelle Venter (hoofredakteur), Christiaan Boonzaier, Haidee Muller (voormalige Huisgenoot-joernalis) en Wicus Pretorius (adjunkredakteur)

Onlangs ontdek ek dié foto van myself – ’n lawwe collage van ’n mal haas wat omtrent desperaat was vir werk.

christiaan2

Toe ek in April verlede jaar aansoek doen om deel te wees van die Huisgenoot- en kykNET-werklikheidsreeks, Saktyd, het my kreatiwiteit ’n bietjie amok gesaai: Ek het ses foto’tjies van myself saamgestel en dit saam met my aansoek Huisgenoot toe gepos.

As ek nou terugkyk, is ek nie regtig seker wat ’n mens moet dink van iemand wat ’n oop Huisgenoot op sy kop balanseer nie, maar met die oorwinning lankal in die sak en die helfte van my jaarkontrak al amper verby, gaan ek nie snags wakker lê oor die moontlik slegte eerste indruk wat die foto op die beoordelaars gemaak het nie.

Hoewel die reeks al agt maande van die lug af is, kry ek nog gereeld Facebook-boodskappe, twiets en mense wat my op straat voorkeer met die “groot vraag” (soos ek hom sommer losweg gedoop het): “So, hoe gaan dit by Huisgenoot; geniet jy dit darem?”

Vir ’n joernalis wat gewoond is daaraan om die vrae te vra, is vrae beantwoord steeds vir my ’n nuutjie. En hoewel ek altyd sê dit gaan baie goed, kan ek partykeer sien hoe my vaag antwoord nogal teleurstellend is.

Toe ek onlangs gevra is om vir huisgenoot.com te blog, is ek dadelik aan jul vraag herinner en het ek besluit om ’n hele string blogs, wat vanjaar die lig sal sien, met die “groot antwoord” te begin – dié keer met ’n bietjie meer vleis om die lyf.

Kortom: Presies 29 artikels en ’n miljoen ander brokkies en bydraes later, kan ek sê ek oorleef nog die Huisgenoot-ondervinding. Ja, ek het voor my aanvang (oordramaties) gedink ek gaan die eerste vrot appel op die Huisgenoot-redaksie wees, maar toe ek op 2 Januarie aan die diep kant ingestamp is, was ek verbaas toe ek nie dadelik sink nie.

Moenie dink dis maklik om week ná week die grootste tydskrif in die land uit te gee nie, maar toe ek ná ’n maand of twee besef ek is heeltemal by die Huisgenoot-familie ingelyf, het die harde werk en laat aande net glad nie meer saak gemaak nie.

In my kort tydjie hier het ek al so baie ondersoek, gesien en ervaar: van townships tot hotelle, en jou soutvlakke tot jou arbeidsregte. Maar die lekkerste bly maar nog die mense – al die alledaagse helde en natuurlik die glanspersoonlikhede, wat mos maar sinoniem met die tydskrif is.

En moenie dink alles is net goedvoel-stories nie. Dit was moeilik om ’n 13-jarige te pols oor die dood of ’n bekende akteur met uitdagende vrae te peper...

Maar in daai moeilike tye dink ek aan die beoordelaars en jul verwagtinge, wat ek met elke storie wil oortref. Mense wat ’n storie wil vertel, het eintlik maar net ’n goeie oor nodig wat na hulle wil luister.

Wat vir my in die tweede deel van my jaar voorlê, weet ek nie. Dis waarskynlik die beste deel van die joernalistiek: Die meeste stories kan ’n mens nie voorspel nie. Hoewel ek waarskynlik steeds aan die diep kant sal swem, doen ek nog nie heeltemal die vlinderslag nie; daarom wil ek soveel moontlik leer – terwyl ek kan. Natuurlik is die tweede deel van my jaar ook my laaste; ek wonder baie daaroor. Maar vir eers gaan ek net vertrou dat my skryfwerk al die praatwerk sal doen.

Ek het en sal myself nooit as ’n bekende bestempel nie, hoewel die publiek my nogal soos een hanteer; daarvoor kan ek nie genoeg dankie sê nie. Die ondersteuning is oneindig; so ook sal my dankbaarheid wees. Loop julle my dalk weer êrens raak, kan julle maar gerus kom groet. Net ’n waarskuwing: Ek is glo langer as wat ek gelyk het op TV. Moenie skrik daarvoor nie . . .

As julle ooit kontak wil maak, of ’n storie wil deel, kan julle my sommer hier kry:

E-pos: christiaan.boonzaier@media24.com

Facebook: Christiaan Boonzaier

Twitter: @rooi_baard

Dis altyd lekker om van julle te hoor.

Vir eers gaan ek see en berge toe. Ek’t myself belowe ek gaan ná elke drie maande ’n week afvat, maar ná amper ses maande het ek nog nie ’n vakansiedag gesien nie.

Ek dink dis nou tyd...

– Christiaan Boonzaier

Lees ook:

Saktyd se finale 3 gesels