André Brink was met sy aftrede ’n assistent-redakteur van Huisgenoot

Die nag kom nader . . .

Werk, Want die Nag Kom Nader. Dié lied, saam met Op Berge en in Dale, het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak toe ek dit as ’n sesjarige sub A’tjie vir die eerste keer op Bitterfontein in die skool hoor.

Daarom dan ook het ek vir my vrou en kinders gesê dit moet eendag op my begrafnis gesing of gespeel word. Saam met ELO se Hold On Tight To Your Dreams.

Baie mense sê hulle het hul hele lewe lank gewerk. Dis iets wat ek ook kan doen. En ek bedoel dit letterlik.

My pa was ’n spoorwegman en ons vier kinders het nie in weelde en oorvloed grootgeword nie. Daar was lang tye dat ons geen kar of huishulp gehad het nie en as kinders moes ons werk. Nou nie voldag nie, maar bed opmaak, skottelgoed was, vloere was, stofsuig, ensovoorts. En alles moes netjies gedoen word, anders het ma Jakoba jou dit laat oordoen. Daaroor is ek nie spyt nie. Dit het ons werketiek en dissipline geleer.

Later, op hoërskool, het ek vakansies in oom Jan Liebenberg se Central Garage op De Aar gewerk. Werkkaarte (job carts het ons hulle genoem) ingevul, geld gaan bank en allerlei ander kantoorwerkies gedoen.

Daarvoor het ek nie ’n plaas se prys verdien nie, maar genoeg om darem fliek toe te gaan en ietsie vir myself te koop. Dit het my die waarde van geld geleer. Geleer as jy hard moes werk vir iets, waardeer jy dit baie meer as wanneer jy dit verniet kry.

Die een slag dat ek nie regtig gewerk het nie, was toe ek die eerste keer universiteit toe is. Ek het vir heeltemal die verkeerde kursus ingeskryf, maar toe ek dit ná ’n ruk agterkom, is ek ná ses maande op Tukkies huis toe om by Standard Bank op De Aar te gaan werk.

Dit was nie baie opwindend nie, maar dit was werk. Wat ek weer so goed en so deeglik moontlik probeer doen het. Die daaglikse roetine was soms sieldodend eentonig, maar dit het my met geld leer werk.

En toe ek die tweede keer universiteit toe is – nadat ek ’n beurs by Die Volksblad gekry het – het ek gewerk! Pligsgetrou het ek elke dag wanneer ek smiddae by die koshuis gekom en klaar geëet het, eers die dag se werk hersien en toe eers ontspan. Vir toetse en eksamens het ek geleer en aan die einde van die drie jaar my graad met lof geslaag.

Tussendeur het ek as deel van my beurskontrak Desembervakansies by Die Volksblad gewerk. Ons beurse was destyds maar beskeie en het nie eens al my klas- en losiesgeld gedek nie. Daarvoor, en vir my boeke, moes ek ’n lening kry, wat ek later rand vir rand terugbetaal het. Die geld wat ek vakansies verdien het, was my sakgeld, want my ouers kon nie bekostig om my ’n ruim toelaag te gee, soos die geval met so baie van my medestudente was nie.

Ná my laaste eksamens het ek ook nie eens ’n lekker lang vakansie gevat nie. Nee, op 1 Desember 1969 het ek by Die Volksblad ingeval as ’n joernalis.

Deur die jare daar het ek hard gewerk. As ’n vertaler, subredakteur en later in die sportkantoor, waar ek oor naweke my gesin afgeskeep het om agter atletiekbyeenkomste en rugbywedstryde aan te ry. Vele kere het ek op ’n middag die 200 km Sasolburg (of elders) toe aangedurf vir ’n atletiekbyeenkoms, laatnag teruggekom en my verslag geskryf. Meestal het ek ook nog my eie foto’s geneem, ontwikkel en afgedruk.

Ook by rugbywedstryde op Goblepark op Bethlehem, Hoffepark in Kimberley, Noordwes-stadion in Welkom en vele ander half gedood van die koue in die Vrystaatse winter.

Maar dit was lekker! Dit was my werk.

Dieselfde toe ek later as ’n politieke joernalis weke lank snags agter vergaderings van dr. Connie Mulder, Jaap Marais of Pik Botha moes aanry op die verlate Vrystaatse vlaktes. Daarna ook as ’n parlementêre verslag- en beriggewer.

In Desember 1990 het een van my drome as ’n joernalis waar geword toe ek vir drie jaar Londen toe gestuur is as Nasionale Koerante (destyds Die Burger, Beeld, Volksblad en Oosterlig) se verteenwoordiger.

Dit was die beste drie jaar van my lewe, maar vir my vrou en kinders was dit een hengse ontwrigting. Nie vir my nie, want ek het steeds my werk gehad. Nou wel op ’n ander plek, maar dis steeds dieselfde soort werk.

Dit was ook so toe ek aan die einde van die drie jaar terug is Bloemfontein toe, waar ek ’n jaar gebly het voor ek Niel Hammann se uitnodiging aanvaar het om in die Kaap by Huisgenoot te kom werk.

Niel, en later Esmaré Weideman, was perfeksioniste (so ook Hennie van Deventer by Die Volksblad) en dus soms moeilike base, maar hulle was regverdig en jy het geweet: As jy jou werk goed en reg doen, sal daar geen probleem wees nie.

Die laaste klompie jare het ál meer van my vriende en kollegas my begin vra: “André, nou wanneer gaan jy dan eendag ophou werk?”

My antwoord was telkens: Wanneer Avbob my kom haal!

Maar ek het geweet dit sal nie so uitwerk nie en nou het daardie dag gekom. Aan die einde van 2012 moes ek aftree, want ek het aftree-ouderdom eintlik al meer as ’n jaar gelede bereik.

Toe vra hulle my: “Wat gaan jy doen?”

En ek het nie geweet nie! Sal ek kaas maak in my motorhuis of sal ek eerder daardie elektriese treinstel, kompleet met riviere en berge, bou waarvan ek al so lank praat?

Ek het nie geweet nie. Een ding het ek egter geweet: Ek sou iets moes vind om te doen! Verkieslik werk . . . want die nag kom nader!

Vervolg volgende week.

- André Brink 

André Brink was met sy aftrede ’n assistent-redakteur van Huisgenoot. Die pa van drie was vroeër ’n politieke joernalis en was drie jaar lank Nasionale Koerante se verteenwoordiger in Londen. Hy hou van kook, lees en sport kyk op TV.