Hallo almal,

ek soek al so lank na ’n manier waarop ek mense kan vertel van hierdie vreemde land waarin ons woon. Nou het ek die kans en ek dink ek wil begin met die stad waar ons gevestig is: São Paulo.

Al is dit nie die hoofstad nie, is dit vir my die kern van die land, want dit was die ding wat ek eerste moes baasraak toe ons in hierdie land aankom. Dis nie net die grootste stad in Brasilië nie; dis ook die grootste stad in die Suidelike Halfrond. Volgens bevolking is dit die agste grootste stad ter wêreld, met bykans 20 miljoen mense in die groter São Paulo. Dis amper die helfte van Suid-Afrika in een stad!

Om vir al die mense plek te maak woon almal in woonstelblokke. Dis onwerklik om ’n uitsig oor die stad uit ’n vliegtuig of die dak van een van die geboue te sien. Daar is nie die gewone middestad met ’n paar wolkekrabbers in die middel en huise rondom, soos in Pretoria, Johannesburg of Kaapstad nie.

O nee.

So ver as wat die oog kan sien, is daar hemelhoë geboue. Blokke en blokke en blokke, 15, 20, selfs 30 verdiepings hoog. Dis die Amasone van sement.

Op die eerste dag by my nuwe werk by ’n gesondheidstydskrif in die woonbuurt Pinheiros, het ek duiselig geraak toe ek in die redakteur se kantoor staan. Sy het ’n glaskantoor op die 16de verdieping en die uitsig strek ver verby Pinheiros, oor kilometers en kilometers se woonstel- en kantoorgeboue. Ek moes na ’n stoel gryp sodat ek nie omslaan nie.

Op ’n dag, nadat ek al ’n paar maande daar was, het ’n aasvoël op die vensterbank kom sit. Almal het nader gestorm met hulle selfoon vir ’n foto van die eensame ou voël wat ons met swart kraalogies dopgehou het. Hy het lank daar gesit voor hy sy vlerke gespan en ’n windstroom onderskep het.

Ek het gekyk hoe hy ál kleiner word en gedink: Dis hoe ek gevoel het toe ek hier aangekom het. My hart het Suid-Afrika toe verlang en ek het gedink my siel hoort glad nie hier tussen die hoë geboue, die malende mense op die stasies en die vreemde taal nie.

Vandag is dit anders: Ek het vriende, heerlike kos, vreemde modes en eksotiese vrugte ontdek. Maar dis ’n storie vir ’n volgende keer.

dalena2

dalena3

-  Dalena Theron

(Dalena het voorheen by Huisgenoot gewerk. Haar man, Thomas, se werk het om in 2012 gevra om vir 'n ruk in Brasilë te gaan werk.)