Dié boekevraat bieg . . . Ek is mal oor Dan Brown

Daar. Ek het dit gesê. Ek is mal oor Dan Brown. Ek skryf dit swart-op-wit, want dit klink my dit is skielik mode om jou oë vir Brown te rol. Nadat die wêreld en sy maat The Da Vinci Code gelees (en geniet het!) en na die fliek gestroom het vir Angels & Demons (al was dit net agter Tom Hanks aan), is Brown nou skielik so opwindend soos gister se roosterbrood. Ek dink mense lees dit net skelm, soos wat hulle ook Fifty Shades skelm gelees het. (Ken jy enigiemand wat bereid is om in ’n goeie geselskap te erken hulle het Fifty Shades van voor tot agter gelees?)

Maar hier is ek, die boekevraat, bereid om te bieg: Ek is een van die derduisende mense wat Brown se nuutste boek, Inferno, reeds voor sy verskyningsdatum bestel en die slapies afgetel het tot die boek op die eerste moontlike dag in my Kindle se posbus afgelewer is. En ek was nie spyt nie.

Ek dink dit was Brown wat my vir spanningsverhale as genre gewen het. Voor The Da Vinci Code het ek hier en daar ’n John Grisham en Robert Ludlum gelees, maar ná The Da Vinci Code het ek die spanningsverhale begin inryg. (Kan ek net hier ’n advertensiebreuk neem om te kla omdat Afrikaans nie so ’n lekker woord soos “thrillers” het nie. Selfs die Duitsers het ’n speurverhaalreeks wat hulle “krimmies” noem, maar hier het niemand nog aan ’n lekker ekwivalent gedink nie. En moenie sê ons moet dit “rillers” noem nie; rillers is die bloed-en-derms-genre wat in Engels “horror” genoem word.)

Brown is die meester van die naelbyt-hoofstuk-eindes. Moenie Inferno tienuur die aand begin lees en dink jy gaan ’n goeie nag se slaap inkry nie – jy gaan aanhou blaai vir “nog net een hoofstuk”. Wie gaan nou ophou lees as die hoofstuk eindig met: “ ‘Sienna,’ Langdon whispered, feeling ill. ‘We’re in the wrong country’?” Kom nou!

Waar die Harvard-akademikus Robert Langdon in The Da Vinci Code deur Parys en die res van Frankryk geblits het, in Angels & Demons in Rome was en in The Lost Symbol deur die strate van Washington gehol het (met die Vrymesselaars op sy hakke), is hy in Inferno oorwegend in die kunsstad Florence. Dié keer draai die raaisel om Dante se epiese gedig Inferno (die eerste deel van The Divine Comedy), en die skildery The Map of Hell deur Botticelli, wat deur dié epiese gedig geïnspireer is. Langdon word met ’n skietwond aan die kop en kwaai geheueverlies in ’n hospitaal in Florence wakker en moet met die hulp van ’n geniale dokter, Sienna Brooks, van ’n blondine met ’n spykerhaarstyl en privaat weermag vlug. Almal is agter ’n projektortjie aan wat Langdon raaiselagtig in die voering van sy tweedbaadjie (ja, hy dra steeds tweed!) ontdek het. En hy vlug nie net vir sy eie lewe nie; hy moet Die Hele Wêreld red.

Ek is mal oor hoe Brown inligting oor kuns en geskiedenis in sy storielyn vervleg, maar soms tik jy jou vingers ongeduldig. Sal Langdon nou werklik eers die geskiedenis van ’n grot in die Boboli-tuin herroep terwyl hy van ’n wag met ’n masjiengeweer vlug?

Soms raak dit ook te veel van ’n lesing. Letterlik. Hy kry terugflitse na ’n lesing wat hy as wêreldbekende simbolis op die een of ander plek aangebied het. Plek-plek moet jy ook jou gesonde verstand ’n bietjie opsy skuif. Kan jy die deel in Angels & Demons onthou waar Langdon uit ’n helikopter spring met ’n valskerm wat hy uit karton prakseer is? Ongelukkig het Inferno ook ’n wending of twee wat selfs vir sy grootste aanhanger te dik vir ’n daalder is.

Maar ek sal nie die pret vir jou bederf nie. As jy Brown se ander boeke geniet het, sal dié een nie teleurstel nie. Al moet jy dit dan nou skelm lees.