"Nostalgie"

Wat ’n mooi woord. Dit beteken om herinneringe te koester en bewaar. Weg te bêre in jou hart sodat jy dit op jou eie tyd weer kan ophaal.

Vir my is nostalgie en kos onlosmaaklik verweef. Wanneer ons in die kombuis is, bring ons herinneringe met ons – gelukkig, hartseer en soms aangrypend. Kos gee kleur en karakter aan ons lewens en aan ons stories.

Onvergeetlike etes saam met vriende en familie maak plekke, belangrike geleenthede en gebeure spesiaal. Ek hou van die driedimensionele element wat kos verleen. Daar is soveel resepte wat deel is van ons koserfenis hier in Suid-Afrika wat my trots maak en my met liefde laat terugdink aan etes rondom vol en gelukkige tafels kleintyd.

Behalwe dat dit heerlike sielskos is, is daar disse wat ons pragtige diverse kultuur verenig het en wat altyd die moeite werd is om te vier.

Ek praat nie van revolusionêre of gastronomiese baanbrekerskos nie, ek praat van kos wat kosbaar en eie aan ons Suid-Afrikaansheid is.

Twee kosskrywers stel dit beter as wat ek ooit sou kon doen:

"Die sagte kuns van lekker eet, is ’n vriendelike een. Dit oorkom die taalgrens, maak vriende onder beskaafde mense en verwarm die hart." - Samuel Chamberlain

Ek dink hierdie een druk veral ons gees van ubuntu en saamwees in Suid-Afrika uit:

"Net omdat jy vier stoele, ses borde en drie koppies het, beteken nie jy kan nie 12 mense vir ete nooi nie." - Alice May Brock

Terwyl ek ’n paar maande gelede vir my TV-reeks, Bitten: Sarah Graham Cooks Cape Town, voorberei en al die resepte beplan het, het ek baie Suid-Afrikaanse gunstelinge onthou en verken.

Van goeie ou nederige malvapoeding tot die klassieke Kaaps-Maleisiese bobotie, kerriebrood, braai, bredies, stampmielies en boontjies, melktert en vele meer.

As jy my vra, het ons ’n arsenaal van waarde-vir-jou-geld resepte wat beslis die moeite werd is om oor te skryf. Dis een van die redes hoekom ek so passievol daaroor is om oor kos te blog.

Blogs is ’n manier om ons kosstories op te neem en te bewaar. Mense voeg dikwels hul eie staaltjies by resepte en sorg vir nuwe herinneringe vir ons generasie en ’n nuwe waardering vir Suid-Afrikaanse kos.

Dis ’n mooi nalatenskap wat neergeskryf word en enige tyd en enige plek vrylik vir enigeen beskikbaar is.

Hier is my ma se malvapoedingresep. Ek het ’n bietjie Amarula bygevoeg. Dit kom uit my eerste koekboek, Bitten.

Trots Suid-Afrikaanse malvapoeding

Genoeg vir 8

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 45–60 minute

Dit laat nou die herinneringe by jou opkom. Ek het grootgeword met my ma se tuisgemaakte malvapoeding, vars uit die oond ná ’n gebraaide Sondagmiddagete. As jy dit nog nie weet nie, malvapoeding is ’n gewilde Suid-Afrikaanse nagereg van Hollandse oorsprong en dis trooskos – so lekker soos ’n drukkie van jou ma (wel, amper so lekker!)Ek het dit my eie kinkel gegee deur baie spesiale Amarula-likeur by te voeg, wat dit lekker skop gee.

Jy het nodig

1 k koekmeel

1 t koeksoda

ruim knippie sout

1 eier

1 k suiker

1 e appelkooskonfyt

1 e gesmelte botter

1 t asyn of suurlemoensap

1 k melk

Sous

50 ml room

100 ml Amarula-likeur of gewone room

½ k melk

1 k suiker

½ k warm water

125 g botter

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat uit met bakpapier.

2. Sif meel, koeksoda en sout in ’n bak.

3. Klits eier en suiker in ’n aparte bak en voeg dan die appelkooskonfyt, botter en asyn of suurlemoensap by.

4. Voeg melk en meel by die eiermengsel en klits goed. Dit sal ’n los mengsel wees, maar dit sorg vir ’n lekker taai poeding.

5. Gooi dit in die bakplaat, bedek met foelie en bak vir 45-50 minute of tot ligbruin.

6. Sous Smelt al die bestanddele saam om die sous te maak en gooi oor die poeding sodra dit uit die oond kom.

7. Bedien met geklopte of dubbelroom of vanieljevla.

Nota: Jy kan dit vooraf maak en vries en dit ontdooi en verhit voor jy dit voorsit. Jy kan ook dit wat oorbly vries en later gebruik.

- Sarah Graham

Kosblogger, kookboekskrywer en kookprogram-aanbieder

Lees my blog, afoodieliveshere.co.za, of koop my kookboek, bitten, by groot boekwinkels in Suid-Afrika of aanlyn by http://afoodieliveshere.co.za/bitten-cookbook/.

Kyk na my program, Bitten: Sarah Graham Cooks Cape Town, elke Sondag om 16:00 op SABC3.

sarahgraham