Ons blogger se hare ná ’n maand se was, opknap en behandel met die Forever Blonde-reeks.

Strooisage

Toe ek in die jaar toet ’n lugwaardin was, was daar in die Londense moltrein ’n advertensie opgeplak vir ’n produk met die naam Sun In. Die idee was dat as jy dit op jou hare spuit voor jy dit droogblaas, sou dit jou in ’n ommesientjie in ’n blondine omtower.

Ek en vriendin Carla het vir ons elkeen ’n kannetjie van hierdie toorgoed aangeskaf. En dit het gewerk! My muisblonde hare was binne sowat ’n week spierwitblond en Carla se ligbruin dos was aarbeiblond (OK, ligoranje).

Ek was mal oor my blonde lokke. Ek het soos Goldie Hawn gevoel (goed, nou weet jy ek praat van minstens 30 jaar gelede) as ek in die paadjie afgesweef het om te vra: “Tee of koffie?”

My Suid-Afrikaanse haarkapper was minder beïndruk. Hy het omtrent flou neergeslaan toe hy my hare sowat ’n maand later beetkry. Dit was so dor soos ’n baal strooi. En dit was besig om uit te val.

Dit het my ses muisblonde maande gekos om my “bolla” (soos ons hare in die lugdiens genoem het) weer gesond te kry. Dit was hel, want al gee ek amper geen geld uit aan grimering nie, is my hare my kroon. Ek besit net onderlaag, lipstif en maskara, maar my haarprodukte staan twee badkamerrakke vol. Ek wil nie met my hare moet sukkel nie.

Die les was geleer. Sedert die Sun In-eksperiment hou ek my kop witblond op die outydse manier: professionele sonstrepies elke twee maande. Deur die dekades het die sonstrepies deftiger geword en deesdae dokter die haarkapper my kroon met ’n ingewikkelde kombinasie van skakerings sodat dit “diepte” en “tekstuur” het en sodat dit vonkelend en helder in die somerson vertoon en ryk en warm in die kil winterlig.

Vir altyd blond

Gelukkig het die produkte vir blondines en aspirant-blondines ook metterjare deftiger geword. Pers sjampoe maak ’n mens se hare nou blonder en nie blouer nie, en aanspuitmiddels maak dit miskien nie binne ’n week wit nie, maar hou dit darem gesond en sterk.

So ’n pakkie deftige produkte vir blondines het onlangs op my lessenaar beland – Paul Mitchell se Forever Blonde-reeks: Sjampoe, opknapper en Dramatic Repair. Trouens, dis so deftig dat jy dit nie sommer by Clicks of Pick n Pay kan koop nie, jy sal by ’n haarsalon moet aanklop. Die pryse is uitaard ook aan die deftige kant: sjampoe R245 vir 250 ml, opknapper R245 vir 200 ml en Dramatic Repair R260 vir 150 ml.

Maar die reeksie lyk te pragtig op my badkamerrakkie: lieflike vet silwer buise vir die sjampoe en opknapper en ’n slank silwer spuitkan vir die Dramatic Repair.

Soos dit goeie produkte vir blondines betaam, is die sjampoe en opknapper steeds pers. Dis natuurlik nie veronderstel om jou hare blond te maak nie, maar om jou blonde hare – waarskynlik droog, geknak en verlep weens jare se verblonding – blink, sterk en gesond te laat lyk. Danksy die pers pigment versag dit ook daardie nare oranjegeel skynsel wat ’n mens se hare soms kry as jy te lank wag om die kleur op te knap.

Ek is iemand wat my hare elke dag was en behandel, en was bang die blonde reeks gaan te sterk wees en my kapsel laat verwelk. Dit het nie gebeur nie – die produkte kan met gemak elke dag gebruik word. Soos dit ware salonprodukte betaam, laat die sjampoe ook nie ’n lagie agter wat jou hare pap en verwelk laat nie. Ná sowat ’n maand van gebruik het my blonde dos boonop ’n subtiele nuwe helderheid bygekry.

Maar dis eintlik die derde lid van die blonde familie waarop my hare sommer dadelik verlief geraak het. Die Dramatic Repair is eenvoudig wonderlik. Jy gee jou hare net ’n paar spuite nadat jy dit drooggevryf het en nie net sorg dit vir ekstra glans en krag nie, dit toor haarkoeke weg, raak ontslae van elektrisiteit en as jy agterna met jou hande oor jou hare stryk, voel dit glad en sysag – net soos wanneer jy by die salon uitstap.

Sal ek my gewone sjampoe en opknapper met die blonde reeks vervang? Nie noodwendig nie; ek sal die stel kies wat die goedkoopste is. Maar vir daardie Dramatic Repair sal ek my lipstif, maskara en onderlaag met liefde inruil – dit is werklik toorgoed.

Nou wag ek net dat Paul Mitchell ’n Forever Blonde Dramatic Extra Volume optower, dan is ek so gelukkig soos Goldie Hawn op ’n inkopietog in Rodeo Drive!

- Joan van Zyl