curlyhairproduct

Soms wens ek ek en my hare is 10 jaar later gebore. Die 80’s was maar moeilik vir my wilde krullebol. Ja, ons het fantastiese musiek gehad (ons het, ons het regtig) en behalwe vir die skouerkussings was ek mal oor die helderkleurige modes. Maar ai, produkte vir krulhare was so skaars soos hoendertande.

Dit was oukei toe ek klein was en my hare lank; vlegsels het gesorg dat ek nie probleme het nie. Maar toe besluit ek om dit te laat knip omdat ek desperaat ’n “Lady Di”-haarstyl wou hê. (Vir mense wat baie, baie later gebore is: Dis ’n kort snit met ’n parmantige stukkie voor; prinses Diana het haar hare deur die jare in variasies van dié styl gedra.)

Dit was maar ’n hartseer les toe ek ontdek my lokke is glad nie, glad nie soos Diana s’n nie. Daar was geen teken van ’n oulike, parmantige stukkie hare nie en ná swemlesse in die laerskool het my kroon dikwels in ’n nagmerrie ontaard. G’n wonder my hare het my begin haat nie.

Daai tyd sou dit makliker gewees het om ’n gewone was-en-los-styl te kies, maar ongelukkig was alle jels destyds taai en dik om ’n mens Michael Jackson se nat voorkoms te gee. Dit het my jare gekos om te besef opknapper is die beste stileringsproduk as jy sagte krulle soek.

Doerie tyd kon ek net dink aan warmoliebehandelings vir my kapsel. Natuurlik het ek middels en toestelle teen die kartels ingespan, maar dit het ’n mens nie jou krulhare leer waardeer nie.

Deesdae kry ’n mens ongelooflike haarprodukte. Noem jy dit net, het iemand al ’n produk daarvoor geskep. Jels is lig en kan maklik uitgekam word en boonop is daar nou vir alle haarsoorte produkte. My gunstelinge is maskers en behandelings wat jy lank op jou hare hou.

Ek is mal daaroor om hierdie produkte twee keer per week te gebruik: óf ek lê in die son en lees (in die somer), óf ek ontspan in die bad terwyl dit werk (in die winter). My veeleisende hare is ná ’n behandeling ’n bietjie liewer vir my en is minder geneig om my te straf deur woes te kroes.

Onlangs het ek twee nuwe produkte op die proef gestel en nogal van die resultate gehou.

Ek het nog nooit van die Gary Rom-haarsorgprodukte gehoor nie. Dit word blykbaar deur die einste haarkapper in Gauteng gemaak. Die Hydro Boost-reeks is geskik vir droë hare en ek was baie gretig om die Hydrating Treatment (R345) uit te toets. Nadat jy jou hare gewas het, los jy dit 10 minute lank aan. Die aanwysings sê nie hoe gereeld ’n mens dit moet gebruik nie, maar ek neem aan dis een of twee keer per week, nes soortgelyke behandelings.

Die behandeling was lig en my hare het agterna sag gevoel. Ek sal dit dus beslis weer gebruik – veral omdat ’n mens daardeur ’n plaaslike reeks ondersteun. Tog dink ek die prys sal sorg dat ek dit spaarsamig gebruik. Daar is ook ’n Hydro Boost-sjampoe en -opknapper en verskeie ander reekse.

Ek het ook ’n masker uitgetoets van die Wella System Professional Hydrate-reeks vir droë hare. Dis nie die eerste keer dat ek produkte van hierdie reeks gebruik nie en ek het nogal baie  van die masker verwag.

Dit het nie teleurgestel nie! Nadat ek dit 10 minute lank (hulle beveel vyf minute aan) op my hare gehad het, was my hare sysag en glad toe ek dit afspoel. Dis aan die duur kant (Wella Hydrate Mask kos R237 vir 200 ml), maar een houertjie sal lank hou omdat jy nie baie van die produk op 'n slag gebruik nie. Om die waarheid te sê: Ek het ’n bietjie oorboord gegaan en dit het my hare effens olierig laat voel. Minder is beslis beter en dis duidelik nie geskik vir olierige hare nie.

Omdat ek ’n warm handdoek om my hare gedraai het nadat ek die produkte aangewend het, het dit boonop soos ’n tuisspa-behandeling gevoel. As jy dus met droë hare stoei kan enigeen van hierdie produkte help – veral in die winter. Bederf jouself!

- Natalie Cavernelis