[caption id="attachment_61728" align="alignnone" width="600"]10600512373_f94fce2a0c_b daveynin via Compfight cc[/caption]

EK HET onlangs gaan soek na nieregeringsorganisasies of liefdadigheidsgroepe in Limpopo wat werk met vroue en kinders wat verkrag is of die slagoffers van geweld is. Van Warmbad tot Vaalwater kon ek nie ’n enkele nieregeringsorganisasie opspoor nie behalwe vir die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle.

Met die hulp van die1st for Women Insurance-trust het ons besluit om saam met hospitale en klinieke te werk en versorgingspakkies uit te deel aan vroue en kinders wat verkrag is.

Die pakkies het ’n waslappie, seep, tandepasta, skoon onderklere en ’n sanitêre doekie bevat. Vir kinders is daar altyd iets spesiaals by soos ’n teddiebeer – iets wat hulle ’n bietjie sal troos.

Voor ek die pakkies wou aflewer, is ek twee keer na die Modimolle-staatshospitaal toe, waar Ina Bonnette waarskynlik die nag van haar verkragting en marteling was.

Met my eerste besoek aan die hospitaal op ’n Donderdagmiddag het die veiligheidspersoneel by die hek my ingelig dat daar geen senior persoon is met wie ek oor die skenking kon praat nie. Ons het nie mediadekking verwag of dit probeer reël nie. Ons wou net die pakkies by ’n verantwoordelike mens aflewer.

Die volgende oggend is ek terug hospitaal toe. Terwyl sy haar naels vyl en kougom kou, het die veiligheidswag geweier om my binne te laat en gesê die hoof van die hospitaal is nie beskikbaar nie. Ek het gevra of daar iemand anders was met wie ek kon praat en sy het geantwoord dis Vrydagmiddag en niemand is beskikbaar nie.

Mag die Here ons help. Daardie veiligheidswag kon meer skade aan ’n vrou of kind aangerig het as wat sy ooit sal besef. Ek was geïrriteerd en wou nie sê wie ek is of waar ek vandaan kom nie. Ek is die publiek en ek wou vasstel wat die probleem is.

Ek het daar weggery met twee dinge in my kop: “Geen wonder die Limpopo-regering is onder nasionale administrasie geplaas nie” en “ek hoop daar was ’n Samaritaan om Ina te help – en die volgende Ina en die volgende Ina.”

16_days_logo_englishMEDIUM- Zelda

Zelda picSMALL Zelda  la Grange blog tot 10 Desember elke weekdag  vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié bekende en gewilde vrou was wyle Nelson Mandela se persoonlike assistent, werk vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Bikers for Mandela Day en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om SA vroue te help bemagtig.