Logo

Dis amper Moedersdag, en ons kosblogger Mari-Louis Guy bring nie net hulde aan ma Estee nie –  sy staan ook reg met vier koeke vir haar ma,  almal uit Huisgenoot! Klik hier vir die koekresepte, of rol af tot onder MA ESTEE (HESTER SOPHIA JACOBA MARITZ, GEBORE COETZEE)O, die moeder en ek kan soms (daagliks is mos soms?) vir jou behoorlik baklei. Soos Italianers! Vol emosie en trane met stemme op ’n hoë volume.

Maar net so passievol het ons mekaar lief.

Dis mos so asof jou ma partykeer álles is wat verkeerd is met die lewe en dan sommer op dieselfde dag nog álles wat daarmee reg is.

Soos jin and jang. Hemel en hel. Soet en suur. Want sonder die een kan die ander nie bestaan nie.

My arme broer is al amper sedert sy geboorte die skeidsregter tussen ons. Volgens hom is die telling tans presies gelyk. Soos dit moet wees. Perfekte balans.

[caption id="attachment_74572" align="aligncenter" width="338"]Mari-Louis Guy Ma Estee, ek en my jongste[/caption]

Sy bly my grootste fan en is 24 uur per dag daar vir my, gereed om rotse uit die pad te rol. By haar het ek geleer dat jy jou kinders nooit te veel kan bederf of liefhê nie, want “hulle is net vir jou net geleen”. Dat jy kos vir ’n skare kan maak sonder swoeg of sweet, want “eintlik wil mense net saam met jou kuier, die kos is bysaak”. Ook dat die lewe nie regverdig is nie, en “wat sal jy nou daaroor wil huil en klere skeur, soms is jy bo, meestal voel dit dalk of jy onder is. Onthou liewer om elke geleentheid voluit te vier”.

Wat sy ongelukkig nooit aan my kon oordra nie, is haar musiektalent. Ek sing een vals noot ná die ander. My middelkind het gehuil as ek probeer wiegeliedjies sing het.

Haar mooi, lang atletiese bene en sporttalent het sy ook vir haarself gehou.

Sy het dikwels ook meer geduld as ek. Sy kan ál vyf kleinkinders (ouderdomme 1, 3, 3, 4 en 8) ’n hele naweek by haar laat kuier.

Wat ons seker die meeste in gemeen het, is dat ons soveel sosiale geleenthede moontlik in ’n naweek probeer prop. Hierdie naweek gaan sy eers Paarl toe vir haar 50ste skoolreünie, dan Saterdag Paardeberg se kant toe vir ’n eerste verjaardagpartytjie, terug Paarl toe vir die groot opskop, dan Sondag ná kerk in die Paarl se Toringkerk Franschhoek toe vir vriende se 30ste huweliksherdenking.

[caption id="attachment_74567" align="aligncenter" width="370"]Mari-Louis Guy Hier is my mooie ma in matriek, 1964. Dis sy in die middel.[/caption]

Haar bynaam op skool was Pollyanna, want soos sy, het Estee altyd die vermoë om die goeie baie beter te onthou as die slegte tye. Gelukkige moedersdag liewe ma, en dankie vir alles. Jy is ’n wonderlike inspirasie van hoe om voluit te leef. Jy is die beste ma en ouma. Dankie vir al die bederf. Liefde, van al die Guy’tjies KOM ONS SMUL SAAM MET CARMEN

Dié Moedersdag gaan ek vir my ma ’n heerlike koek (of twee of drie) bak, geïnspireer deur onlangse saamwerk met Huisgenoot se kosredakteur, Carmen Niehaus. Ons albei het onlangs gekla dat niemand vir ons twee koek bak nie. Net omdat ons gereeld bak en oor koeke skryf, beteken dit glad nie dat ons nie ’n koekie of twee van elders erg sal waardeer nie.

[caption id="attachment_74568" align="aligncenter" width="395"]Carmen Niehaus, Callie Maritz, mari-Louis Guy Carmen, broer Callie en ek[/caption]

As jy ’n Huisgenoot-leser is, ken jy al Carmen se lieflike resepte. Dié lopende kos-ensiklopedie sorg nie net elke week vir al die resepte in jou tydskrif nie, sy het ook al ’n ongelooflike 25 kookboeke geskryf.

Daarby stel sy dikwels daar die lekker vet “Huisgenoot – die 100 beste resepte” saam. Ek het onlangs die voorreg gehad om deel te neem aan Huisgenoot se 100 beste koeke, die nuutste in die reeks.

Huisgenoot 100 beste resepte: koeke

Carmen het gebak in dié publikasie baie toeganklik gemaak, iets wat vir my en boet Callie altyd belangrik is. Sy het slim gedink en met vorms gespeel (soos om ou klassieke koeke in broodvorm te bak), met versiering gekinkel, meer moderne versiersels ingebring en naakte koeke blosend mooi laat lyk.

Kolwyntjies is werklik in koppies gebak en vir ou bekendes het sy nuwe kisklere aangetrek. Haar gunsteling-koek, sê sy, is “’n groentekoek soos wortelkoek met lekker baie speserye en natuurlik die versiersel. Vir kaaskoek op enige manier sê ek nooit nee nie, en vir sjokoladekoek staan ek ook nie terug nie – hoe swaarder, hoe beter.” Carmen is een wat graag gee, en ek sal haar nooit genoeg kan bedank vir al die reklame wat sy al vir my eie publikasie op Huisgenoot se bladsye gemaak het nie. Boonop is sy vrek snaaks en dink, soos ek, in die nag resepte uit. So sien ’n mens dan regtig uit na wanneer jy saam met Carmen ’n kosartikel doen, want daar kom vir jou lekker dinge en heerlike geregte uit haar en haar assistente, Esther en ander-Carmen, se kombuis. Vra maar vir fotograaf Dawid Briers!! KOMBUIS TOE MET ONS! Al vier die resepte hieronder kom uit Carmen en haar span se Huisgenoot: 100 beste resepte - koeke. WORTELKOEK

Dis Carmen se gunsteling-wortelkoekresep.

wORTELKOEK carmen Niehaus

LEWER 1 KOEK. Bereiding: 15 minute. Baktyd: 40-45 minute

KOEK

250 ml (1 k) polenta

125 ml (½ k) amandelmeel

125 ml (½ k) hawersemels

15 ml (1 e) bakpoeier

5 ml (1 t) koeksoda

10 ml (2 t) fyn kaneel

2 ml (½ t) gemengde speserye

2 ml (½ t) sout

250 ml (1 k) xylitol

250 ml (1 k) geras­perde geelwortels

50 g gekapte pekanneute

125 ml (½ k) sultanas

3 ekstragroot eiers

5 ml (1 t) vanieljegeursel

60 ml (¼ k) olie

250 ml (1 k) natuurlike jogurt

VERSIERSEL

125 g gladde maaskaas

5-10 ml (1-2t) xylitol

5 ml (1 t) gerasperde suurlemoenskil

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 23 cm-pan en voer uit met bakpapier.

1 KOEK Meng die polenta, amandelmeel, semels, bakpoeier, koeksoda, kaneel, gemengde speserye, sout en versoeter.

2 Meng die wortels, neute en sultanas.

3 Klits die eiers, vanieljegeursel, olie en jogurt.

4 Vou die wortelmengsel om die beurt met die jogurtmengsel by die droë bestanddele. 5 Skep in die pan en bak 40-45 minute. 6 VERSIERSEL Meng die kaas, versoeter en skil en smeer oor die koek. VERJAARDAG-SJOKOLADEKOEK

Ons is mal oor die moderne aanslag van dié koek. Die hipster in Callie soek mos altyd vernuwing. Die koek kom van Elize Stoop, ’n Huisgenootleser wat ma van vyf en ook al ouma is. Dié koek word vir al die kinders in die familie gebak wanneer hulle verjaar. Dis glad nie droog nie en hou maklik ’n week of langer in die yskas.

sjokoladekoek Carmen Niehaus

LEWER 1 laagkoek. Bereiding: 20 minute. Baktyd: 20-25 minute

250 ml (1 k) koekmeel

45 ml (3 e) kakao

15 ml (1 e) bakpoeier

knippie sout

250 ml (1 k) suiker

2 eiers

250 ml (1 k) kookwater

60 ml (¼ k) olie

1 blik (365 g) karamelkondensmelk

kakao en versiersuiker

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer twee koekpanne van 18 cm in deursnee.

1 Sif die meel, kakao, bakpoeier en sout saam en voeg die suiker by.

2 Klits die eiers, kookwater en olie saam. Voeg by die droë bestanddele en meng goed.

3 Giet die beslag in die voorbereide panne. Bak 20-

25 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koeke kom. Laat effens in die panne afkoel, keer uit en laat heeltemal afkoel. 4 Smeer een laag met karamelkondensmelk en plaas die ander koeklaag bo-op. Stuif met kakao. 5 Plaas die stensil bo-op (laai dit hier af) en stuif versiersuiker oor. Verwyder die stensil versigtig. VARS PRUIMBROOD

Diepruimbrood is vir my. Ek hou vreeslik van die vrugte by hierdie koek – vars mooi en modern.

 Pruimbrood

LEWER 1 brood. Bereiding: 20 minute. Baktyd: 70 minute

250 g botter

250 ml (1 k) suiker

6 eiers

45 ml (3 e) gerasperde lemoenskil

750 ml (3 k) koekmeel

15 ml (1 e) bak­poeier

knippie sout

200 ml vars lemoensap

7-10 vars pruime of vye

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n broodpan van 35 x 13 cm.

1 Verroom die botter en suiker tot lig en romerig. Klits die eiers een vir een by. Roer die lemoenskil by.

2 Sif die droë bestanddele saam en vou om die beurt met die sap by die eiermengsel in. 3 Skep in die voorbereide broodpan en pak die vrugte bo-op. 4 Bak 70 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.

PIÑATA-KINDERPARTYTJIEKOEK

Dit was ons bydrae tot Carmen se boek. Dis ’n maklike verjaardagkoek vir ’n dogtertjie. Dis ’n koekweergawe van die bekende piñata, ’n houer wat met lekker- of speelgoed gevul en dan met groot seremonie by ’n partytjie gebreek word.Pinata kinderpartytjiekoek deur Mari-Louis Guy

LEWER 1 KOEK, Bereiding: 20 minute (koek); 40 minute (afronding). Baktyd: 25-30 mi­nute

KOEK

280 g (2 k) koekmeel

15 ml (1 e) bakpoeier

knippie sout

4 eiers, by kamertemperatuur

400 g (2 k) suiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

250 ml (1 k) melk

120 g botter

VERSIERSEL

250 g botter, sag gemaak

420 g versiersuiker, gesif

sowat 60 ml (¼ k) melk

5 ml (1 t) aarbeigeursel

pienk koekkleursel

AFRONDING

500 g jellielekkers van jou keuse

suikerblommetjies en lekkertjies

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer drie ronde 20 cm-koekpanne en voer die boom met bakpapier uit.

1 Koek Sif die droë bestanddele saam in ’n bak.

2 Klits die eiers en suiker in ’n ander bak tot lig. Vou die meelmengsel by die eiermengsel in. Voeg die vanieljegeursel by.

3 Verhit die melk en botter in ’n klein kastrolletjie. Klits stadig by die meelmengsel in.

4 Verdeel die beslag tussen die drie panne en bak 25-

30 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat in die panne afkoel.

5 VERSIERSEL Verroom die botter tot sag in ’n elektriese menger. Klits die versiersuiker en die helfte van die melk by. Klits tot goed gemeng en romerig. Voeg nog melk by as die mengsel te styf is. Deel in twee. Geur die een helfte met aarbeigeursel en kleur pienk met die koekkleursel.

6 AFRONDING Smeer twee koeklae met pienk versiersel en plaas op mekaar (hou sowat die helfte van die pienk versiersel eenkant).

7 Druk met n’ lang glas ’n sirkel in die middel van die koek uit en verwyder die koek. Vul die holte met die lekkers. Plaas die derde koeklaag bo-op.

8 Versier die bokant en kante van die koek met die wit versiersel. Smeer met ’n spatel die orige pienk versiersel oor die wit versiersel om ’n marmereffek te verkry. Versier met suikerblommetjies en lekkertjies.

- Mari-Louis

Al die kosfoto's gestileer deur Sonja Jordt en afgeneem deur David Briers

 Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.