Verspot maklike beskuitjiekoek, malvapoeding, rolletjies met fynvleis, bier-en-grondboonbotter-floats – ons kosblogger Mari-Louis Guy is weer vol heerlike resepte en mymeringe oor die lewe. Plus sy gee ’n spookasem-maker en ander heerlike goed weg.

DIT voel al my lewe lank of my emosies skommel tussen ’n gevoel van “minder as” en ’n staat van “leef met vreugde”.

Miskien het die “minder as” begin toe ek ’n kleindorpse kind was waar dit altyd gevoel het asof net die rykste plaasboere se kinders in die eerste ry in die kerk kon sit en dat die dokter se kinders vriendeliker deur die onderwysers behandel is. Dit het beslis toegeneem toe ek universiteit toe is en my vriende om die een of ander rede omtrent almal erfgename was. Hulle sou terugkeer van vakansies in verre eksotiese lande terwyl ons soos gewoonlik nie veel verder as ons eie voordeur gereis het nie.

My kamermaat op universiteit is ná skool na ’n afrondingskool in Switserland gestuur terwyl ek “gevorder” het van kelnerin by die steakhouse tot kelnerin by die Spur.

Maar al het ons dit nie aldag breed gehad nie, kon my ma met vreugde leef en dit aan ons oordra. Sy kon selfs die kleinste kuiertjie in ’n fees van epiese afmetings verander. By haar ek en boet Callie geleer dat geluk in die kleinste pakkies kom en in die oomblikke wat ’n mens self skep.

[caption id="attachment_56805" align="alignnone" width="398"]En vandag nog is die broer-en-suster-kosspan Callie Maritz en Mari-Louis Guy vol van die vreugde van die lewe. Ek en boet Callie Maritz aan die gek skeer in die kombuis. Ons is baie gelukkig dat ons ma ons vroeg al geleer het hoe belangrik dit is om met vreugde te leef, of jy nou baie het of min.
[/caption]

Een Kersfees, toe ek 17 was, het ons nie genoeg geld vir geskenke gehad nie. My ma het vorendag gekom met die plan dat ons ons droomgeskenke in koeverte vir mekaar gee. Ek het in my koevert ’n foto gekry van ’n lieflike Tiffany-halssnoer, Callie een van ’n bloedrooi Ferrari, en ons ma ’n foto van die huis wat ons gedroom het sy besit.

Dis die Kersfees wat ek die beste onthou want ons het die hele tyd gelag – veral as mense ons gevra het wat ons present gekry het! Dan het ons omtrent omgeval soos ons gelag het.

As ’n mens ouer word, voel jy nie meer “minder as” net weens rykdom of status nie. Jy voel jaloers op mense wat met meer grasie as jy ouer word, meer tyd het vir hul kinders, gesin en vriende, of wat onder minder verantwoordelikhede gebuk gaan.

Maar dis ’n simpel en irriterende houding en ek probeer my bes om nie daaraan toe te gee nie. Net dié naweek het ek geleer dat ’n ou familievriend wat in my oë altyd “meer as” gehad het – selfs ’n Bolandse plaas – ook verskeie kere deur die lewe met pyn en hartseer bestook is. Dit het my laat dink aan ’n storie deur my vriendin Henriette oor ’n Italiaanse priester in ’n plattelandse dorpie wat sy gemeente gevra het om al hul kwellinge in ’n bondeltjie toe te vou en dit op die kerktrappe te laat. Gedurende die diens het hy gepraat oor die lewe se ontberinge en hulle gevra om hulle eie bondeltjies probleme vir ander om te ruil op pad huis toe. Almal het hulle eie ontberinge gekies, want hulle het besef dis nie erger as ander mense s’n nie. Ek wil hê my fantastiese kinders moet sommer vroeg in die lewe al leer om die gevoel van “minder as” onder sy stert te skop en liewer met vreugde te lewe. Ek wil hulle leer om hulle met vriende, familie en kollegas te omring wat hulle na “meer as” laat voel, en veral dat geluk in klein pakkies kom. DIS GEEN GEHEIM DAT  ’N GROOT DEEL VAN MY LEWE OM KOEK DRAAI NIE.

Dis nie dat ek aanmekaar en elke dag hope koek eet nie, maar as ek koek eet geniet ek elke krummeltjie met groot vreugde, of ek dit nou met ’n vriendin deel of daaraan smul terwyl ek onder ’n donskombers opgekrul lê met ’n goeie boek en ’n glas koue melk langs my. Koek is altyd “meer as”, altyd groter as die somtotaal van sy dele.

FRAMBOOS-BESKUITJIEKOEK

Mense wat obsessief oor resepte is, sal hierdie een verstaan: Ek het ’n foto van ’n koek gesien in ’n tydskrif waardeur ek sit en blaai het terwyl ek op ’n Duitse lughawe moes wag vir my volgende vlug, en ek moes die bladsy eenvoudig uitskeur. Sonder resep moes ek ongelukkig van die foto af my eie improviseer. G’n bakwerk is nodig nie. Ek het ook gevind dat jy die koek kan vries (voor die room bygevoeg is) en dan net versier voor jy dit voorsit. Die resep kom uit my en Callie se boek Markdag.

1 pakkie (200 g) Tennis- of klapperbeskuitjies (behou 2 eenkant en krummel dit)

1 blikkie (360 g) karamel

2 pakkies (90 g elk) vanielje- of aarbeikitspoeding

3½ koppies (875 ml) melk

1 bakkie (125 g) vars frambose, (behou ’n paar vir versiering)

1 k (250 ml) vars room

1 e (15 ml) strooisuiker

1 t (5 ml) vanieljegeursel

Voer ’n 25 cm-broodpan met kleefplastiek uit en laat genoeg plastiek oor die kante hang sodat jy dit later oor die bokant kan vou.

1 Smeer karamel op al die beskuitjies.

2 Pak een laag beskuitjies in die middel op die boom van die broodpan af.

3 Meng die kitspoeding met die melk volgens die aanwysings op die pakkie en versprei sowat ’n kwart van die poeding bo-oor die eerste laag beskuitjies.

4 Druk ’n paar frambose daarin. 5 Pak nog ’n laag beskuitjies en herhaal tot jy 4 vier lae beskuitjies het. Eindig met ’n laag poeding. 6 vou die plastiek wat oor die kante van die pan hang oor die poeding en plaas 2 uur in die yskas. Vou die plastiek oop en dop die pan om om die koek uit te keer. 7 Klits die room en suiker met ’n elektriese klitser saam tot stywe punte vorm. Voeg die vanieljegeursel by en roer deur. 8 Versprei die room oor die koek. Plaas die res van die frambose bo-op en versier met beskuitjiekrummels. Variasie Vir daardie tikkie Jack Parow in ons almal: Maak ’n prettige en ’n ietwat prullerige variasie deur botterkaramelkitspoeding te gebruik en Peppermint Crisp tussenin te krummel. Versier met sjokoladeskaafsels. EN DIE GEWILDSTE GEREG BY ONS KERKBASAAR WAS . . .

Ek het mos in ons vorige blog basaar- en kermiskos gedeel en beloof om te laat weet wat die beste gevaar het by my en Callie se stalletjie by ons kerkbasaar verlede naweek. Wel, hierdie rolletjies wat ook uit Markdag kom, het soos die blits uitverkoop.

VARKFYNVLEIS-ROLLETJIES

60-83 MGS StreetFood Ch03.indd

Callie sê dié rolletjie met varkfynvleis is sy gunsteling. Dit kom uit die suide van Amerika – maak dit met ’n sagte broodrol en sit voor saam met koolslaai en baie brandsous.

Braaisous (opsioneel)

(Jy kan jou eie braaisous of brandsous ook gebruik.)

1½ k (375 ml) tamatiesous

2 e (30 ml) worcestersous

1 e (15 ml) gouestroop

1 e (15 ml) appelsider of appelasyn

1 e (15 ml) sojasous

1 e (15 ml) bruinsuiker

1 e (15 ml) witsuiker

1 t (5 ml) rooipeper

½ t (2,5 ml) pas gemaalde swartpeper

½ t teelepel (2,5 ml) selderysaad

½ t teelepel (2,5 ml) fyn kaneel

’n knippie fyn kruienaeltjies

Smeer

100 g bruinsuiker

1 t (5 ml) gerookte paprika

1 t (5 ml) fyn kaneel

1 e (15 ml) mosterdpoeier

1 t (5 ml) brandrissiepoeier

1 e (15 ml) koljandersaad

1 stukkie (5 cm) vars gemmerwortel, geskil en gerasper

5 knoffelhuisies, fyn gedruk

1 e (15 ml) seesout

1 e (15 ml) fyn swartpeper

Rolletjie

1,5 kg varkblad (ontbeende gewig)

3 k (750 ml) appelsider

1 e (15 ml) worcestersous

1 k (250 ml) water

braaisous of brandsous (gebruik jou eie of maak die braaisous hieronder)

12-15 bros broodrolletjies

Koolslaai

½ klein kop witkool, fyn gesnipper

1 rooi-ui, in dun skyfies gesny

6 soetsuur agurkies of piekels, in dun skyfies gesny

¼ k (65 ml) agurkiepiekelvloeistof

1 k (250 ml) mayonnaise

1 e (15 ml) suiker 1 e (15 ml) selderysaad 1 Braaisous Plaas ’n groot kastrol oor matige hitte, meng al die bestanddele daarin en roer deur. 2 Verhit tot kookpunt en stel dan die hitte laer. Laat nog 30 minute prut en roer gereeld. Wenk Jy kan die braaisous eers heeltemal laat afkoel, dit in gesteriliseerde flesse giet en tot 1 maand in die yskas hou. As die sous te dik is om gemaklik in flesse te giet, verdun dit deur ’n ¼ koppie (65 ml) warm water daarby in te roer.

3 Smeer Meng al die bestanddele vir die smeer.

4 Vleisrolletjie  Smeer die vark met die smeer en plaas 2 uur in die yskas.

5 Voorverhit die oond tot 150 °C.

6 Plaas die vleis met die vetkant na bo in ’n braaibak. Giet die appelsider, worcestersous en water daaroor.

7 Smeer ’n stuk aluminiumfoelie en bedek die pan daarmee met die gesmeerde kant na onder. Oondrooster 4½ uur.

8 Verhoog die oondtemperatuur na 180 °C en oondrooster die blad 20-30 minute onbedek om die bokant van die vleis bruin te braai.

9 Verwyder uit die oond en laat die vleis 30 minute rus.

10 Gebruik twee vurke en trek die vleis uitmekaar sodat die vleis se natuurlike dun repies loskom. Meng die pansappe by die fynvleis in.

11 Voeg genoeg braaisous of brandsous by om dit ’n lekker vleisvulsel te maak. Roer deur.

12 Skep ongeveer ’n roomyslepel vol varkfynvleis op elke broodrolletjie en skep ’n bietjie koolslaai (aanwysings onder) bo-op.

13 Koolslaai Meng die gesnipperde kool, ui en agurkies saam. 14 Meng die piekelvloeistof by die mayonnaise in. 15 Voeg die suiker en selderysaad by en roer tot die suiker opgelos is. 16 Giet die mayonnaisemengsel oor die koolmengsel en roer liggies deur. Variasie Voeg gerasperde wortels en seldery wat in dunskyfies gesny is by. KYK WAT KAN JY ALLES DIÉ WEEK WEN!

SMS die wagwoord na 34922 om vir die aanbieding van jou keuse hieronder in aanmerking te kom, gevolg deur jou naam, van, adres en die antwoord op ons vraag. Die sluitingstyd is 17:00 op 6 November. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Die borg is verantwoordelik vir die aflewering van die produk. ’n Spookasem-masjien Candy floss 2 Checkers is vandeesweek die borg van hierdie oulike masjien waarmee jy spookasem kan maak. Een gelukkige blog-leser kan dit losslaan.

Wagwoord: Spookasem

Vraag: Wie borg die spookasem-masjien? ’n Boek: Middernag en ander spokerige stories Middernag en ander spokerige stories Die samesteller van dié boek, Santie Nel (van Zyl), is ’n ou skoolvriendin. As tieners was ons in ’n dansgroep wat wild rondgedans het op liedjies soos Eye of the Tiger. In ons blinkste klere het ons opgetree by geleenthede van Vredendal tot Vanrhynsdorp. Ek het die boek saam met my oudste seun gelees dis lekker kinderlik grillerig. NB Uitgewers gee twee eksemplare van dié oulike boek weg.

Wagwoord spook

Vraag  Wat is die skrywer van dié boek se voornaam? 3 ’n Bordspeletjie: Yunomi Yunomi copy René van Huyssteen so bordspeletjie Yunomi is geskik vir die hele gesin want dis nie gegrond op algemene kennis nie, maar op hoe goed jy die mense ken wat saam met jou speel. Ons geen een speletjie weg. Wagwoord Yunomi Vraag Watter soort speletjie is Yunomi? Nuut op die rak

Voorskoot

Boek Voorskoot

Skrywer Herman Lensing

Prys R189 by kalahari.com

Hierdie boek is letterlik warm uit die oond. Herman Lensing (Sarie se kosredakteur) se liefde vir kos en lus vir die lewe is so aansteeklik dat ek voel dat die enigste mense wat nie van hom hou nie, dié is wat hom nog nie ontmoet het nie. Callie is ook altyd bly as hy vir Herman op ’n funksie raakloop want daar is nie veel mans in Suid-Afrika wat kosstiliste is nie. Daar skort natuurlik niks met dié twee se ego nie, maar albei het gelukkig die talent wat daarby pas!

Ek sien al geruime tyd uit na Herman se debuut en weet daar sal vele meer wees.

Vandeesweek smag ek heeltyd na soetgoed en het tot by bl. 35 geblaai voor ek die malvapoeding met kitskoek raakgesien en dadelik kas toe gestap het om te loer of ek ’n boksie vanieljekoek-mengsel het. Dis vinnig, heerlik en ’n fantastiese idee. Callie, die groot bierliefhebber, het dadelik die grootmens-floats aangedurf en donker bier, sjokoladeroomys en grondboontjiebotter nader getrek. Hy het geweier dit met my te deel. Voorskoot is een van daardie boeke waaruit ek sommer weet ek sal baie resepte beproef – die teken van suskes vir enige kookboek. Ons gee twee eksemplare van Voorskoot weg. Volg die aanwysings hierbo om in te skryf.

Wagwoord Voorskoot

Vraag By watter tydskrif is Herman Lensing kosredakteur?

Malvapoeding met koek uit ’n boks

malva pudding

Herman vertel hy kan nooit genoeg van sy ouma se malvapoeding kry nie, maar dis baie werk. Hierdie is sy kortpad. Die geheim van die resep lê in die appelkooskonfyt en sous.

Poeding

1 x 600 g-vanielje-bokskoek (Herman verkies Ina Paarman s’n)

3 eiers

¾ k (180 ml) sonneblomolie

1 k (250 ml) melk

¼ k (60 ml) appelkooskonfyt

Stroop

1 blik ingedampte melk (Ideal Milk)

1 k (250 ml) warm water

2 k (500 ml) suiker

2 e (30 ml) botter

1 t (5 ml) vanieljegeursel

Verhit die oond tot 180 °C.

1 Poeding Plaas die bokskoekmengsel, eiers, olie, melk en konfyt in ’n groot mengbak. Roer tot glad met ’n draadklitser. 2 Spuit ’n 30 cm-ringkoekpan met kleefwerende kossproei. Giet die mengsel daarin en bak 25-30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. 3 Stroop Maak die stroop terwyl die koek bak. Plaas al die bestanddele in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt. 4 Giet bo-oor die koek sodra dit uit die oond kom. Keer uit op ’n opdienbord en sit voor met vanieljevla en -roomys. Wenk Maak volgende keer die poeding met sjokolade-bokskoek. Roer dan sowat 2 e (30 ml) kakaopoeier by die stroop in om dit ekstra dekadent te maak.

GROOTMENS-FLOATS

Grootmens

As jy nie van bier hou nie, kan jy die floats op die ou manier met Coke maak, sê Herman. Selfs kersie-Coke sal lekker wees.

200 g grondboontjiebotter

4 k (1 liter) donkersjokoladeroomys

Maak 6 x 340 ml-bottels donker bier van jou keuse, soos stout of iets soeters, verkil 1 Gebruik die agterkant van ’n eetlepel en smeer ’n blerts grondboontjiebotter in elke glas. 2 Skep roomysballe in elke glas. 3 Giet die bier oor en sit dadelik voor. KOM EET SAAM ONTBYT!

Of jy nou die hele konferensie kom bywoon of net vir die dag deurkom – moenie die jaarlikse Geheime Spierfees misloop as jy in die Kaap is nie!

Dit skop volgende Vrydag af en ons hou Vrydagoggend ’n interaktiewe ontbyt. Daarna gaan ons beslis ’n draai maak by die praatjies deur, onder ander, Marije Vogelzang, Lili Vanilli, Sam Woulidge and Jacques Erasmus (laasgenoemde is een van Huisgenoot se kosstiliste).

Gaan loer gerus na die volle program hier.

- Mari-Louis Guy

 Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.