Ek kyk graag tennis. Ek loop byna nie ’n dag se spel op Wimbledon of Roland Garros mis nie (en deesdae sommer ook die Amerikaanse en Aussie Opes). Een van die eerste dinge wat ek gedoen het toe ek Londen in 2006 besoek, was om seker te maak ek beplan my tyd in die Britse hoofstad reg sodat ek ’n dag by die All England Clubkon deurbring. Roger Federer en Rafa (RafaelNadal) was albei in aksie. Maar vra enigiemand maar wat al op die tweede Vrydag op Centre Courtprobeer tennis kyk het hoe lank die tou vir kaartjies vir daardie spesifieke baan is.

Ek het maar by ’n kleiner baan my aarbeie en room gaan sit en eet en met ’n groen oog in die rigting van die hoofbaan geloer en die TV-skerms dopgehou.

Vandat ek in Januarie vanjaar Kaap toe verhuis het en saam met my twee seuns van een en ’n half en drie en ’n half in dieselfde huis bly (en middernagskofte by die Kaapse radiostasie 94.5 Kfmdoen), het dinge egter ’n bietjie verander. Tyd met my seuns is kosbaarder as Novak se aanslag op die laaste grand slam wat nog in sy vertoonkas kort, maar dieselfde groen oog loer steeds na die kassie.

Dis belangrik om tyd vir jouself te maak as jy ’n pa is. En deur net voor die TV te gaan lê en te dink jy het nou ’n bietjie ’n diens aan jouself verrig, is misleidend. In die meeste gevalle wanneer ek deesdae die geleentheid kry om tyd alleen deur te bring is ek bloot so moeg dat ek net wil slaap, maar selfs dan is my brein ooraktief en raak ek besig met die een of die ander ding. Of dalk is ek net nie gedissiplineerd genoeg om te doen wat die beste vir my is nie . . .

My vrou sê juis gister die beste raad vir wanneer ’n mens voel jy kan nie meer nie maar steeds moet, is om seker te maak jy kyk goed na jouself sodat jy goed voel en sodoende iets vir iemand anders kan beteken. Sy bedoel onder meer om gesond te leef en gereeld te oefen.

Ek moet my prioriteite vasstel sodat my tyd reg benut word. Ek begin ál meer sien ’n voorvereiste vir ’n mens om sy of haar gedrag en/of gewoontes te verander is die teenwoordigheid van die wil om dit te doen. ’n Mens moet rêrig wil. Die druk wat daarmee gepaardgaan om in die hedendaagse wêreld kinders groot te maak en veral die eise wat dit aan ons besige leefstyle stel, kan as baie goeie motivering dien om jou lewe weer in oënskou te neem.

Vir my beteken dit om nuwe orde in my daaglikse program te bring, om te beplan sodat ek besig kan raak met die dinge waarvan ek hou en wat werklik vir my belangrik is – dit wat ek voel en glo ek voor gemaak is – en om tyd in te ruim vir ontspanning, oefening, alleen wees en speel. Sodoende hoop ek om meer teenwoordigte wees in elke moment van my lewe, veral wanneer ek met mense (my kinders en myself inkluis) in wisselwerking tree. Die eindelike doel is om ’n ál meer outentieke voorstelling van myself te hê. Soms voel ’n mens of jy 15-40 agter is, net soos in ’n tennispot, maar dis dan dat jy dieper grawe en die ware self na vore kan tree.

- Anrich Herbst

  • Anrich Herbst is ’n akteur, stemkunstenaar en ’n omroeper by die Kaapse radiostasie Kfm.