Moedersdag het gekom en gegaan soos vele ander en almal van ons wat nog ons ma’s het, het die Here gedank dat sy nog by is. Dit was vir my so mooi -- al die foto’s van elke wie’s wie en Jan Rap wat trots saam hul ma staan en glimlag in die sosiale media. Ek inkluis op Instagram en Twitter. Gaan loer gerus hoe goed my ma lyk.

Dus wil ek nou praat oor my ma en meer as net spog oor hoe mooi sy is. Sy is gebore op 26 Junie 1933. Sy het twee name gekry – een mooi en een, wel, oordeel self. 

Love this pic of Mom and I. Sy is n ongelooflike vrou en maatjie. #mother #blessed #formiddable

A post shared by Andre Schwartz (@andreschwartzsa) on

Stoffelina Elizabeth Engelbrecht. Ek sê niks, want ’n toe bek is . . . Gelukkig word my ma se noemnaam toe Ina. 

Ek is deur my ma gemaan dat sou ek eendag ’n dogtertjie kry, sy albei die name moet kry, anders erf sy niks. Die grap tussen my en my ma is nou dat ek liefs nie kinders gehad het nie uit vrees dat ek haar daardie naam moes gee. 

My oupa het moviester-looks gehad en ongelukkig meer as net ’n oog vir ’n mooi vrou. Hy en my ouma skei toe sy swanger is met my ma se boetie. Ons praat nou Depressiejare.

My ma is as klein meisietjie na ’n nonneklooster op Krugersdorp gestuur waar sy ’n paar jaar gebly het. 

Wanneer sy oor daardie dae gesels, breek my hart. Maar hier is die ding van my ma waaroor ek wil skryf. Daar is nooit enige selfbejammering nie – dit is die situasie en jy kan oral geluk vind, kry net jou kop reg. ’n Les wat sy my keer op keer in my lewe geleer het. 

Sy vertel stories van goiingsakklere, maar pleks van kla oor die krap en lelik, praat sy van die mooi patrone wat die son deur die gate gemaak het wanneer sy buite gesit het. Jy sien wat ek bedoel. 

My ouma het toe darem goeie werk gekry en my ma kon terugtrek huis toe. Die res van haar kinderjare was gelukkig – fietsry, bioskoop, Dicks-sweets, handskoene stad toe en pastei en gravy met tamatiesous by Stuttafords. 

Net ná skool ontmoet my ma die lang donkerkopman Paul Julius Schwartz. Hy was haar eerste liefde en sy was syne. Die twee het mekaar onmiddellik gevind en verstaan. My pa was ’n perfeksionis en my ma ’n charmer met ’n sin vir avontuur. 

Ter stawing: Toe my ma begin werk, spaar sy vir ’n bootreis (’n rukkie voor sy my pa ontmoet het) en hoe nader dit aan die tyd kom, hoe minder voel sy lus vir die storie, want my pa is mos nou op die toneel. 

So stap my ma in Breestraat, sien ’n klavier en besluit sy koop eerder die ding met die bootgeld, want “eendag sal my kinders dalk die klavier kan gebruik”. Die einste klavier is een van my kosbaarste besittings. En alles wat ek weet van musiek het ek op daardie “bootgeld”- klavier geleer. 

Hul huwelik was soos ’n regte sprokie. Hulle was smoorverlief en gelukkig. Ek het hulle nooit hoor baklei nie – nooit. My pa was die anker en my ma die rots en klein André was die gelukkigste kind ooit. 

Toe sterf my pa. Ek was 13. Hy het my op 29 April drie keer daardie nag kom nagsê. Middernag hoor ek my ma roep en ek het dadelik geweet my pa is weg. 

My ma sit toe met ’n onmoontlike tiener. Die feit dat sy vandag normaal is, is ’n wonderwerk. Oor my kan ek nou nie juis praat nie.

Op 17 het ek die huis verlaat en in die regte gaan studeer op Maties. My ma was op haar eie. Hier weer daardie ding van onbaatsugtige liefde. Eers later het ek besef hoe moeilik en alleen dit moes gewees het met haar enigste kind uit die huis, maar sy wou vir my gee wat ek wou doen.

Baie ouens wou by my mooi ma kom kuier, maar sy het net gesê nee. “As jy jou pa geken het soos ek hom geken het, sal niemand kan kersvashou nie.” Weer het sy dit met deernis gesê, nie verwyt nie. 

Ek en my ma het ’n hegte vriendskap en deel alles. Sy ken my seer en geluk. Sy is my grootste aanhanger en kritikus. 

Sy sê egter ook goed wat net ’n ma sal sê, soos: “Is dit al broek wat jy hier het” net voor ek op die verhoog stap. “André my kind, jy kry darem nou te veel plooie.” En dan is daar die woord “hoekom”. My ma is verbied om hierdie woord te gebruik wanneer die familie kuier, want maak nie saak wat haar seun aanpak nie, sy wil weet: “Hoekom?” Goed of sleg. 

Maar tussen al daardie “hoekoms” skyn daardie liefde en wonderlike vermoë om selfs die negatiefste antwoord op ’n “hoekom” in iets positiefs te verander. Om te glo dat die sirkel van die lewe jou soms onder laat draai, maar deur geloof in jouself en die regtige benadering jy weer bo kan draai. 

Heil my ma, die bloudruk van alle moeders. 

Volg my asb op: 

Instagram: andreschwartzsingsa
Twitter: andre_schwartz
Besprekings: info@jousterre.co.za 

center>