Diegene wat my ken en in die sosiale media volg, weet ek is bitter lief vir diere, veral myne, natuurlik.

Ek raak mos skuins bedonnerd en vat mense links en regs vas as hulle nie na hul diere kyk nie. Ek het ’n ruk terug amper ’n uur by iemand se kar by ’n winkelsentrum staan en wag. Die kar bak daar in die son met twee vensters so kwartpad oop en ’n hondjie daarin! Ek wil nie in detail ingaan oor die gesprek met die eienaar nie – maar glo my, dit sal nie weer gebeur nie.

My huidige troeteldiere is my perdjies, oor wie ek voorheen gepraat het, my varkie, Freddy (ek sien almal is mal oor Freddy op Instagram – gaan kyk asseblief na my gesprek met ’n baie kwaai Freddy wat besluit het die bank op die stoep is syne!), skaaphond, Molly, bokser, Lucia, en boerboel, Maximus.

 

Maximus as a puppy! Love this dog #puppy #unconditionallove #gorgeous

A post shared by Andre Schwartz (@andreschwartzsa) on

Lucia het in September haar kruisligament beskadig en dit is mos ’n maklike ding om reg te maak. Ek neem haar na ’n nabygeleë dierehospitaal, die veearts verduidelik dis ’n roetineoperasie and ek gee toestemming.

Lucia word geopereer en na ’n paar dae sien ek iets is nie pluis nie. Ek eis dat sy opgeneem word en sy vennoot ontdek dat die operasie verkeerd gedoen is en dat daar kwaai ontsteking in die knie is. En wraggies, die vennoot opereer toe infeksie en al! Dit was die begin van baie, baie swaar probleme vir arme Lucia.

Hulle erken dat hulle nie beheer oor die situasie het nie en ek neem haar na spesialiste wat help om dinge onder beheer te kry. Vele inspuitings en operasies later.

Maar waarom lê ek in die bed met geen lus vir die wêreld nie?

Lucia se beentjie word vandag afgesit – ná al hierdie maande van worstel. Dit breek my hart om te dink dat hierdie lewendige brakkie nou met drie bene op die plaas moet regkom!

Ek is seer en so geweldig kwaad vir die mense wat so nalatig was om die hondjie in dié situasie te plaas. Hulle het wel vir die daaropvolgende behandelings betaal, maar dit begin voel soos geld wat stom is . . .

Dus, my dilemma:

Maak ek nou die lewe moeilik vir die ouens wat meer as een keer nalatig was met die hondjie? Is my woede en ego dan genoegsame rede om op te tree en ’n man wat seker al baie, báie diertjies se lewe gered het werkloos te laat? Ek weet nie.

En sou enige aksie van my kant af Lucia se been terugbring? Nee! Gaan sy gou herstel en aanpas met drie bene? Natuurlik! YouTube is vol video’s van sulke hondjies!

Nou moet ek diep soek en vra – was die nalatigheid doelbewus? Natuurlik nie. Wanneer wen liefde en waar begin vergifnis en vergelding? Gaan ek tot aksie oor ter beskerming van ander diere?

Dít is vrae wat ek nooit wou vra nie.

Slotsom?

Vir eers is ek dankbaar dat klein Lucia lewe en dat sy oor ’n week of twee nie eens gaan weet dat sy sonder ’n beentjie is nie.

Dit is ék wat aan myself sal moet werk om hierdie ding te verwerk elke keer wanneer ek Lucia sien. Miskien is dit die les wat ek moet leer.

Daar bestaan nie ’n perfekte wêreld nie en daar is mooi in selfs dit wat stukkend en gebreek is – as ons net gaan soek daarvoor.

Almal van ons is mos mooi op ons eie manier – en glo my, geeneen van ons is perfek nie!

  • Volg my asb op:

Instagram

Twitter

Besprekings: info@jousterre.co.za

LEES OOK: 

http://www.huisgenoot.com/ons-mense/andre-schwartz-blog-voort-ek-se-maar-net/