So trek ek toe 6 maande gelede sak en pak uit Saxonwold in Johannesburg (ja, die Guptas het ook ’n huis langs myne besit) na ’n klein plasie in die Wieg van die Mensdom. Nie net ek en my huis nie – maar sommer my hele bemarkingsbesigheid!

Die skuif was vir my enorm, want ek woon al my hele lewe lank in ’n radius van 3 km in “The Parks” in Johannesburg. En hier trek ek weg van wat bekend is, weg van my vriende na die plek waar Homo naledi gevind is – eintlik op my grondpad!

Hoekom het ek dit gedoen? Wie weet?

Is ek mal oor die plaas? Ja, baie. Voel ek soms ek was mal? Gereeld!

Elke oggend word ek by my eie lodge wakker. As ek my gordyne ooptrek, kyk ek vas teen ’n koppie met grotte wat strek tot by die Sterkfonteingrotte. Die hane het al vroegoggend gekraai en as ek die honde uitvat, hoor die perde daar’s beweging en laat van hulle hoor, want dalk is daar iewers ’n appel wat gedeel kan word.

Ek gaan vroeg gim toe en teen die tyd dat ek terug is op die plaas, is alles en almal wakker. Die hoenders is op die werf, die perde wei, ek ry by die pragtige Nguni-beeste verby en Freddy die varkie is wakker en kom groet die bakkie al snorkend. Hy is bitter snaaks en is gereeld in gesprek met my, gaan kyk gerus die video op my Instagram.

Ek stap dan na my kantoor toe, lekker op die plaas, en begin my dag se werk met die natuur en diere om my. Ek het die wonderlikste personeel, en waar elders kry jy ’n bemarkingsmaatskappy met werklik groot kliënte waar daar 3 honde, ’n varkie en ’n paar hoenders in die kantoor rondloop?

Saans skink ek ’n whiskey en gaan sit op een van die stoepe. Daar luister ek eers na die jakkalse en later die uile se roep na mekaar.

Klink wonderlik? Natuurlik is dit! Maar is ek sielsgelukkig? Nee, want mens bly mos mens.

Ek is ’n alleenloper en dis soms so effe afgesonder as mens nog 5 km op die grondpad van die teerpad af is. Dan en wan is ek so liggies eensaam en ek mis daai “net inval vir ’n dop” en die flieks in Hyde Park. Ek is ’n ou gimrot en was nooit voorheen meer as 5 minute se ry van enige gim af nie; nou is die naaste ene 20 minute weg. Ook ’n kafee en restaurant is ver, en vergeet van Uber – daai manne sien ’n grondpad en skrik hulle asvaal.

Ek het ’n wonderlike Desembervakansie gehad, ’n nuwe liefde, ’n pragtige woonstel in die mooie Kampsbaai en seker 10 pelle per dag om die swembad wat uitkyk op die see.

Konstant doenig met flieks, teater en restaurante. En natuurlik die see, wat ek saans hoor wanneer ons gaan slaap.

En toe einde Januarie terug by die plaas! Bliksem, en daar slaan die alleen en die stilte my soos ’n baksteen teen die kop. Die liefde het ook skipbreuk gely en ek is in my m..r in. Ek sluip soos ’n gewonde leeu rond en selfs my trainer raak so effe bang soos ek gewigte rondgooi.

Ek eet sleg, drink te veel whiskey en dink: Andre, jy het die fout van jou lewe gemaak. En ek blameer sommer die afstand vir als!

En toe, op 26 Februarie, die dag voor my verjaardag, stap ek stalle toe. Ek het twee perde aangeneem, Darling, ’n 11-jarige volbloed Arabier-merrie, en haar vulletjie van 8 maande, Gorgeous. Gorgeous was effe verwaarloos deur haar vorige eienaars en het net een oortjie. Darling lyk die hele tyd vir my so effe groot, maar dis oor niemand haar ry nie en sy kry nou goeie voeding.

Ek hoor met my aankoms by die stalle dat Darling effens anders as normaalweg runnik, maar ek dink sy is dalk ongeduldig en haastig om uit te gaan.

Met die oopmaak van die staldeur word ek binne een sekonde koud, warm, angstig, lag ek en huil ek – sommer alles deurmekaar – want daar staan ’n vulletjie!

Klein, weerloos, bang, wankelrig en perfek. En sy kyk skrikkerig na my met die heel mooiste oë.

Darling, my slim, slim ma, het deur die nag die lewe geskenk – heeltemal op haar eie, en hier staan sy nou trots en beskermend en ek hoor hoe sy sê: “Dankie dat jy ons aangeneem het, Andre – hier is my grootste geskenk moontlik aan jou.” Toe loop die trane. Onmiddellik is die vulletjie se naam Miracle.

Nou wat sê ek eintlik?

Niks is ooit perfek nie, in elk geval nie vir lank nie. As ons ons vasstaar teen die negatiewe, gaan ons nooit die positiewe raaksien nie. Ek sê nie seer en kwellinge gaan verdwyn nie, maar glo my: Dit word minder, so saam met jou kwesbaarheid. Want hoe meer positief jy is, hoe beter is jy bestand.

Ons kry nie almal die kans dat ’n wonderwerk soos klein Miracle ons oë kan oopmaak nie, maar daar is oral klein “Miracles” om ons. Ons moet hulle net soek en sien. Sien hulle in jou kinders, jou geliefde, jou ouers, jou diere, jou tuin.

Maak tyd, kyk om jou met die perspektief van “vandag soek ek net die goeie in my lewe”. En ek belowe jou, pleks van klein jakkalsies wat moeilikheid maak, sal klein “Miracles” dinge beter maak.

Volg André op:

Instagram: andreschwartzsing1

Twitter: andre_schwartz

Besprekings: info@jousterre.co.za