Kyk, ek het nou nooit gedink om my lyf skrywer te hou nie, maar een ding is seker: Saam met die koms van die grysheid het baie dinge my deur die jare opgeval. Dinge waaroor ek wonder en my verwonder! So welkom by “Ek sê maar net …”, waar ek elke twee weke gaan gesels oor sake van erns en pret.

Vandag praat ek oor die foefie van “It’s a man’s world!”.  Soos ek ouer word, kom ek al hoe meer agter dié gesegde is net so min waar soos die storie oor Van Hunks en sy pyp.  As dit by sake van die huis kom, het vroue die hef in die hand.

Ek kuier toe nou die dag by vriende van my. Antoinette (natuurlik nie haar regte naam nie) is ’n slim vrou – mooi en stylvol. Gerhard is ’n dude - hy het ’n motorfiets, gaan jag gereeld en leef vir sy rugby. Hy dink hy is beter as enige speler en het meer kennis as enige ref! Hy het egter baie swak smaak as dit by rugby kom, want hy is n Blou Bul-ondersteuner.

Met die intrapslag by die Van Wyks sien jy hier is ’n lekker kombinasie van smaak en geld. Dis stylvol en eklekties. Daar hang Slingsby, Siopis, Kentridge en Catherine teen die mure.

Speelgoed lê rond en ’n mens voel dadelik tuis. Die boerboele trek jou aandag - een se naam is Piet en die ander is Retief. Die verwelkoming raak net beter toe klein Sune my aan die hand vat (sy is 6), ek moet kom kyk hoe lyk haar kamer.

Antoinette het dit werklik mooi gemaak. Dis ’n regte prinseskamer wat enige dogtertjie bly sal maak en haar maatjies jaloers. Daar is pienk gordyne, ’n val om die bed, feetjieligte, ’n spieëlkas en poppe op die bed. Ek maak al die regte geluide van hoe mooi dit is, want dis regtig oulik vir ’n dogtertjie. Ons gesels ’n rukkie en Sune wys vir my haar gediggie wat sy geskryf het.

“Mamma en Pappa is lief vir my

Hulle noem my prinses al is ek net 6

Ek’s lief vir Oom André

By hom wat ek speelgoed kry

Maar liewe Jesus is die beste

Hy maak my hartjie rein”

Ek kry so effe van ’n knop in my keel en vat haar hand sodat ons swembad toe kan stap.

Met die indraai  in die gang sien ek tot my verwondering ’n replika van haar kamer reg langs hare! Alles presies so vroulik – amper dieselfde kleurskema. Alles net groter: groter kamer, groter bed, groter spieëlkas en groter poppe op die bed. Raak ek mal?

Eers dink ek ek verbeel my, maar toe ek by die kamer instap, sien ek dis die hoofslaapkamer. En ek dink – hoe op dees aarde cope Gerhard?

So wie het die laaste sê oor slaapkamerdekor?

Ek verstaan daar is ’n tiental ander vertrekke in die huis en dalk ook ’n mannekroeg by die swembad. Maar regtig, ’n slaapkamer is ’n plek van rus, ’n plek waar jy soggens wil koffie drink, saans laaaang gesprekke wil hê, wil goed voel, veilig voel en jouself wil wees. Jy moet kan identifiseer met die ruimte. Nou, Mevrou, tensy jou man ’n potensiële Caitlyn Jenner is, is jy effe selfsugtig!

Slotsom:

Manne, julle moet jul man staan hier. As jy voel jou gedeelde slaapkamer lyk soos ’n dogtertjiekamer in ’n Disney-fliek, moet jy jou voet ferm neersit op die ligroos mat. As daar nou één plek is waar uniseks kan werk, is dit dekor – kyk gerus na stylvolle hotelle en ander verblyfplekke, want hulle kry dit baie goed reg.

Ek weet nou nie of hierdie storie huismoles gaan veroorsaak nie, ek hoop nie so nie, maar ek dag ek sê maar net!

Ek hoor graag of ek die spieëlkas missit, of nie.

O ja, laat weet oor dingetjies wat krap en waaroor ons kan gesels. Ek sien uit om van julle te hoor!

VOLG ANDRÉ OP:

Instagram: andreschwartzsing1

Twitter: andre_schwartz

En vir besprekings, kontak hom by shows@asmarketing.co.za