Ons kan nie glo dat Oprah Winfrey dit gaan staan en aanvang het nie. Die eertydse TV-geselprogramkoningin het blykbaar ’n plan bedink om daardie klein  treinwrak van ’n Lindsay Lohan in ’n soort werklikheidster te verander.

Nie net het sy die gekwelde aktrise vir haar eerste onderhoud ná rehabilitasie vasgeteken nie; sy gaan haar blykbaar ook ’n werklikheidsprogram op haar TV-werk OWN gee. En – dis die deel wat ons regtig onderkry – sy betaal die klein dwelmslaaf 2 miljoen dollar om haar derms te gaan staan en uitryg.

As dit nou nie na desperaatheid ruik nie, weet ons nie wat regtig desperaat is nie. Dis geen geheim dat Oprah se netwerk in groot geldmoeilikheid is nie en dat sy wanhopig op soek is na kykers, maar om dít te betaal vir ’n verslete ster wat deesdae meer bekend is vir haar dronkpartytjies en winkeldiefstal as haar toneelspeelvaardighede? Waar is jou standaarde, Oprah?

Die enigste een wat hier wen is Lindsay – die laaste keer dat sy enigiets verdien het, was toe sy haar klere vir Playboy uitgetrek het vir wat in vergelyking ’n miserable 1 miljoen dollar was. Haar ma en bestuurder Dina melk natuurlik reeds die situasie so hard as wat sy kan en vertel vir enigiemand wat omgee dat Oprah nou Lindsay se “mentor” is.

Oprah, ons kan nie help om te dink jy’s ingeloop nie.

-Nici de Wet

Foto: Gallo Images/Getty Images/Ray Tamara