DAAR word so dikwels negatiewe publisiteit aan onderwyssake gegee, maar daar is soveel redes waarom onderwys elke dag die moeite werd is.

Ongelukkig is dit so dat sensasionele stories meer koerante verkoop, maar daar is soveel hartseer en probleme in hierdie ou lewe dat ek dink dit tyd geword het om ook te fokus op die goedvoelsake en die mooi en goeie dinge wat hoop gee.

Veral wat die onderwys betref!

Ons lees elke dag statistiek oor ’n tekort aan onderwysers en dan wonder ons waarom jong mense nie die onderwys as beroep kies nie. Hoekom sal hulle as almal altyd op die negatiewe fokus?

Ek kan aan soveel redes dink waarom onderwys die moeite werd is!

Ek noem ’n paar:

  • Die vriendelike, soms bewonderende glimlaggies in jou klaskamer elke dag
  • Die grappies tussen die werk deur omdat hulle jou vertrou en weet hulle kan maar so nou en dan ’n kans waag net sodat hulle nie hééltyd hoef te werk nie
  • Die stil leerder wat uit sy/haar eie sal aanbied om die klas uit te vee of jou stapel boeke dra – sy of haar manier om te wys hulle waardeer jou
  • Die mooi briefie wat ná die periode op jou tafel gelaat is sonder dat jy dit eens agtergekom het
  • Die respek wat jy van leerders ontvang en die feit dat dit vir hulle belangrik is om jou nie teleur te stel nie
  • Die skaam verskoning wat jy ná die tyd kry as ’n leerder soms oortree het en dit vir hulle belangrik is om sake reg te stel
  • Die vertroue wat ’n leerder in jou plaas om hul hartseer met jou te deel omdat hulle jou hulp nodig het
  • Die geesdrif waarmee leerders by aktiwiteite betrokke is

So van geesdrif gepraat . . .

Wanneer jy twee weke voor showtime in die saal staan en verwonderd is oor die energie en genot van al die revue-leerders wat sukkel om op die verhoog in te pas – en dit nadat die verhoog reeds uitgebou is! – dan weet jou dankbare hart ook hoekom onderwys die moeite werd is en dan dans jy sommer saam met hulle!

Blog 8 no 2

En as almal reeds weg is en die saal word stil, kan jy nie genoeg waardering hê vir die dekorjuffrou en haar span en oudleerders wat nog ure verder aan die laaste afronding werk nie.

blog 8 no 1

JA! Onderwys ís die moeite werd!

Ek sal graag die redes wil hoor waarom onderwys vir jóú die moeite werd is . . .

- Olga Channing

DSC02128Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.

Lees ook ons ander onderwysblogs:

En nou sing en dans ons!

Onnies: Ses wenke vir die derde kwartaal

Ouers en onderwysers is vennote, nie teenstanders nie

Vakansietyd, vir onderwysers ook?

Is dit alles die onderwysers se skuld?

Styg uit bo gemiddeld wees!

Onderwysers – en hoofde – is ook maar net mens