So wat maak jy as jy op 44 vermoed jy is swanger?

Veral as dit geensins deel van jou beplanning was nie en jy eintlik dink dis net hormone en die begin van menopause . . . Alishia van Deventer, leser en publisiteitsbeampte vir talle van ons grootste sterre in die vermaaklikheidsbedryf, deel hier haar swangerskapsreis. Hier is haar tweede inskrywing.

Lees ook: Leser vertel: ‘Swanger…en dit op 44!’

[caption id="attachment_137984" align="alignnone" width="600"]Alishia het met 'n skok uitgevind sy is swanger op 44. Sy deel haar storie met ons. Foto: Verskaf Alishia het met 'n skok uitgevind sy is swanger op 44. Sy deel haar storie met ons. Foto: Verskaf[/caption]

Wat ’n opwindende twee weke. Die fliek Noem my Skollie, waarop ons die publisiteit en bemarking hanteer het, is as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars gekies en ons rockgroep, Nagligte, het met twee Bokkie-pryse weggestap.

Maar die hoogtepunt van die afgelope twee weke was natuurlik hierdie klein lewetjie binne-in my wat met mening begin skop en beweeg het.

Ek kan amper nie glo ek is nou net oor vyf maande swanger nie. Sjoe, die tyd vlieg omtrent as jy net drie van die vyf maande weet jy is swanger. Haar armpies en beentjies het nou tot in verhouding gegroei en selfs haar naeltjies en toonnaeltjies groei. Haar ooglede, wenkbroue, wimpers en haartjies begin groei en sy leer nou om te sluk deur bietjies van die vrugwater te drink.

Haar smaak is ook besig om te ontwikkel en soos ek verstaan kan sy al proe as iets sout of suur is. Google is wonderlik. Ek lees al hierdie goed op Google en kan haar ontwikkeling weekliks monitor. Hulle sê sy is nou so lank soos ’n groot wortel en sy kan ons hoor.

Ag, ek weet julle weet seker al hierdie goed, maar vir my is dit nuut en so ’n groot wonderwerk. Twintig jaar gelede het ons nie Google gehad nie, dus was dit nie moontlik om my dogter (nou 20) se groei so te verstaan en te beleef nie, maar nou is ons hele gesin besig om presies te leer en te verstaan wat elke week gebeur. Glo my, ek vertel die hele tyd vir hulle en hulle luister geduldig.

Nou die aand het almal met hul hande op my maag gelê om haar te voel beweeg. Daar is iets magies daaromtrent. Hier sit ek met my man, my stiefseun en my dogter se hande op my maag en ons almal wag om net die kleinste beweging te voel. Maar, dan beweeg sy mos nie! Reeds ’n klein terggees. Sodra hulle hul hande wegvat, slaan sy bollemakiesie. Hulle kon darem so effens een keer voel toe sy liggies soos ’n klein vlinder beweeg en ek wens julle kon hul gesigte sien. Dis net so ’n “wow”-oomblik. Ongelooflik. Dit is die wonderlikste gevoel. Ek sien elke dag uit om haar te voel beweeg en as sy ’n bietjie stil is, raak ek sommer bewolk.

My dogter kom loer amper elke dag in om vir haar sussie hallo te sê, vryf dan oor my maag en gesels met haar sussie wat op pad is. Dit is vir my vreeslik emosioneel, elke keer dat sy dit doen. Dit is spesiaal en vorm ’n nuwe band tussen ma, dogter en nuwe sussie wat op pad is. Ag ek huil sommer nou terwyl ek skryf.

Baba

Ek is baie lief vir Jabes se gebed. 1 Kron. 4:10 en ek interpreteer en bid dit gereeld so: “Here, seën my en my gesin, asseblief, maar seën ons asseblief. Regtig! Vergroot ons grense en verbreed ons horisonne en hou asseblief net U hand oor ons sodat ons nooit die oorsaak van iemand anders se pyn sal wees nie.”

En sjoe. Hoe seën die Here ons nou. Regtig. Daar is nuwe emosionele bande wat tussen ons as gesin ontwikkel wat anders is as voorheen. Iets wat ek nie kan verduidelik nie. Dis asof hierdie dingetjie iets in ons almal kom wakker maak waaroor ons al vier in verwondering staan. Die Here is besig om ons grense te vergroot en ons horisonne te verbreed. Ver bo wat ons ooit kon bid of droom.

Ek wil graag dankie sê vir al die lesers wat soveel mooi boodskappe, woorde van bemoediging en gelukwense gestuur het. Selfs deur hierdie baie persoonlike swangerskapsreis van my met julle te deel, word my persoonlike grense vergroot en my horisonne verbreed.

Dit was vir my opmerklik hoeveel vroue vertel het dat hulle self oor 40 swanger geraak het of iemand ken of selfs ’n kind is van ’n ma wat oor 40 swanger geraak het. Ek is nie seker of die statistieke -- dat jou kans om swanger te raak oor die ouderdom van 40 tussen 5 en 10 persent is -- meer so korrek is nie, want as ek kyk na al die terugvoer is vroue se kans beslis groter om oor 40 swanger te raak as net 5 of 10 persent.

Op ’n persoonlike noot is ek taamlik moeg en raak ek vinnig geïrriteerd en het ek oor die algemeen nie lus vir nonsens nie. Ek is ook taamlik emosioneel. Ek begin sommer in ’n advertensie huil, om geen rede nie. As iets my roer, stroom die trane.

Nou die dag het my man op sy mooiste en sagste manier (om my beter oor myself te laat voel) vir my gesê: “Ag my liefie, jy lyk vir my beter vandat jy swanger is.” Hy het dit met soveel liefde en deernis bedoel, maar ek het skelm gaan huil daaroor want toe wonder ek: “Het ek dan sleg gelyk voor ek swanger was?”

Te sensitief.

[caption id="attachment_139956" align="alignnone" width="600"]Alishia saam met Janko, Steve en Danelle Alishia saam met Janko, Steve en Danelle[/caption]

Ek het ook hierdie eienaardige sug in my ontdek. Dit het nou die dag in ’n vergadering, toe iemand nonsens praat, skielik, tot my groot verleentheid, uitgeglip. So ’n harde “sug” van “ag, hou net op nonsens praat”. Ek het so skaam gekry vir myself en let nou maar noukeurig daarop dat ek hierdie sug in toom hou.

Maar dit is nie net ek wat sensitief is nie. My man moet ook maar van tyd tot tyd die trane afvee. Saam kan ons vreeslik emosioneel raak. Ons sit nou die dag in ’n restaurant en langs ons het ’n groep mense duidelik vir iemand ’n verrassingspartytjie gereël met onder meer ballonne. Ná so ’n rukkie bring die man sy vrou in en ons twee sien toe sy is op haar laaste swanger. En almal skreeu “surprise!” Toe die “surprise!” weergalm, bars ek in trane uit. Toe ek opkyk, sien ek hoe my man die trane afvee. So ja, in hierdie huis vloei die trane deesdae makliker as ooit tevore.

Daar is natuurlik die vrae en kommentaar van al die wonderlike mense wat ek ken. Ek begin dit nou gewoond raak en ek groet al met: “Ek voel baie goed, dankie!”, nog voor iemand vra, want dit is die eerste vraag sodra ek iemand sien, maar ná die 85 000ste keer leer jy om net met die antwoord te groet en nie vir die vraag te wag nie. Dis net baie makliker.

Maar ek het ook agtergekom hoe onsensitief mense kan wees. Mense bedoel nie noodwendig sleg nie, maar daar is sekere goed wat jy nou maar liewer nie vir ’n swanger vrou moet sê nie. Sy wys dalk nie haar emosie nie, maar ek belowe jou, in haar hart voel sy nie so goed daaroor nie. Hier volg ’n lysie van opmerkings wat oor die laaste twee maande my kant toe gekom het:

“O, ek hardloop die berge in as dit met my moet gebeur!”

“Oe! Ek is so bly ek is nie jy nie!”

“Hoe ver is jy? Sjoe, net vyf maande – jy lyk al sewe maande!”

“Sjoe, maar jy sit vinnig uit!”

“Elke keer as ek jou sien is jy vetter!” (Ja, iemand het dit vir my gesê!)

“O jinne, is jy seker dis nie twee nie?”

“Jy moet maar jou gewig dophou, jong – dit het my drie jaar geneem om die gewig af te skud!”

Ons kan almal maar onsensitief wees tenoor mekaar. Nie net teenoor swanger vroue nie, maar sommer net teenoor mekaar in die algemeen in ons werkplek, gesinsopset en waar ons beweeg. En dis wat hierdie week vir my uitstaan van Jabes se gebed: “Here, beskerm my asseblief sodat ek nie die oorsaak van iemand anders se pyn sal wees nie.”