Televisie is Dinsdag 40 jaar oud in Suid-Afrika. Annelene Oberholzer, assistent-webredakteur van Huisgenoot, was daar toe die nou alledaagse meubelstuk by ons sitkamer ingetrek het. Sy herleef die koms van die kassie.

[caption id="attachment_114506" align="alignnone" width="600"]Annelene Oberholzer (Foto: Megan Miller) Annelene Oberholzer (Foto: Megan Miller)[/caption]

Kan jy jou ’n Suid-Afrika sonder TV voorstel? Een waarin die radio, koerante en tydskrifte jou hoofbron van inligting is? Of, as jy nog in die era van plaaslyne grootgeword het met die nuuskierige buurvrou wat aljimmers ingeluister het en dan met groot smaak almal se geheime voor die voet uitgelap het.

Lees ook: TV vandag 40 jaar in SA

Kinders het tot alle ure buite gespeel, seuns het kleilat gegooi, meisies het papierpoppe gehad om aan te trek en vir leesvermaak gewoonlik wetenskapsfiksie-strokiesboeke onder mekaar uitgeruil. Dit was tussen hierdie blaaie waar die wonder van vlieënde motors, “beeldtelefone” en natuurlik televisie menige kind se verbeelding geprikkel het. En die versugting om dit tog eendag eerstehands te kon ervaar.

Ek onthou die eerste keer toe ek ’n TV-stel gesien het, en dit nogal tydens die jaarlikse landbouskou op ons klein dorpie in die laat 1960’s. Gladdebek- verkoopsmanne in swart pakke en dasse het voor die groot blinde oog van die stel gestaan en vol selfvertroue aangekondig dat dit die grootste en wonderlikste ding vir Suid-Afrika gaan wees. Ons kinders kon net staar, want hierdie boks met glas het net nie sin gemaak nie. Boonop was dit duur, maar ’n paar van die spoggeriges in die omgewing het onmiddellik hul beursie geskud. ’n Man moet mos eerste wees om te wys jy kán dit doen. Maar helaas . . . dit sou ’n paar jaar duur voor daardie blinde oog lewe sou kry.

Toe die groot oomblik eindelik op 5 Januarie 1976 aanbreek, het heerlike kuiers by vriende verander in oopmond-staarsessies by diegene wat wel ’n TV in die huis gehad het. Dit was die begin van soveel wonderlike oomblikke, maar ook die einde van soveel wonderlike vriendskappe.

My dierbare ouers het aanvanklik besluit dis nie iets wat in ons huis sal kom nie. Ek moes maar ’n ander plan beraam om my oë te laat feesvier op al die ongelooflike beelde van verre en vreemde wêrelde wat skielik net daar was. Ek was gelukkig.

Dié wat weet, sal onthou dat alle klein dorpies toentertyd ’n teekamer gehad het, ’n plek met lang, geronde glaskaste vir allerhande lekkers, ’n vriendelike familie agter die toonbank, lekker roosterbroodjies en in daardie dae Groovy-koeldranke. En Mountain Dew. En Chappies wat 1c vir twee gekos het.

Die tafels en stoele in die teekamer was ook universeel. Melamien-oppervlakte, wynrooi plastiek op die stoele, taai mosterd- en tamatiesousbottels in die middel van die rooi plastiese blokkiestafeldoek. Wie onthou die tamatiesousbottels wat soos ’n tamatie gelyk het met daardie groen takkie aan die bokant? Einste.

Maar hierdie teekamer was baie progressief. Dit het ’n swart-wit TV gehad wat elke middag en elke aand twee uur lank aangeskakel was. Dit het nie saakgemaak dat die aand se programme gewoonlik ’n herhaling van die middag s’n was nie. Maar wat ek wel kan onthou, is die eindelose dokumentêre programme wat gewoonlik oor die woude van Borneo gehandel het.

Dit was die eerste keer dat ek vlieënde slange gesien het, iets wat my baie jare lank nog banger vir slange gemaak het as wat ek reeds was. En die vaste besluit om nooit ooit Borneo toe te gaan nie. My ma het my nuuskierigheid met gelatenheid aanvaar, en so het ons weke lank ná skool middagete in tannie Du Toit se teekamer genuttig. Van die roosterbroodjies kan ek nie veel onthou nie; ek was te vasgevang in die beelde wat voor my afgespeel het. Selfs die Engels het my nie afgeskrik nie. Dit sê baie vir ’n dorpie waar almal daaroor gegons het as iemand iewers by een van die talle winkeltjies ingeloer en Engels gepraat het!

Eindelik het my ouers voor die druk, en in die stilligheid glo ek ook hul eie nuuskierigheid, geswig. Die opwinding was groot. Ons gaan ons eie TV kry, en boonop in kleur. Die lewe kon net nie beter nie.

Hoe ongelooflik was dit nie om die knoppie te druk en vir die heel eerste keer in my lewe yshokkie te sien nie. Tot vandag toe bly daardie herinnering so duidelik asof ek self by die wedstryd was.

Die aanvangsjare van TV was baie persoonlik met kontinuïteitsaanbieders wat jou deur die programme vir die aand gelei het. Bettie Kemp, Heinrich Marnitz, Dorianne Berry, om net ’n paar te noem. Skielik was hulle ware “celebs”; mense het aan hulle lippe gehang en net so sterk oor hulle gevoel as oor Hollywood se bestes.

Ná die aanvanklike aanduiding dat daar geen advertensies sou wees nie, moes die knie vroeër eerder as later gebuig word. Dae lank is daar gegis oor watter produk eerste op TV adverteer sou word. Die dagblaaie het natuurlik ook hulle deel gedoen om die spanning op te jaag. Tot vandag toe wonder ek of enigiemand, behalwe die mense by die destydse SAUK en die adverteerder, geweet het wat dit sou wees. So ver ek onthou, was dit iets heel onverwags: ’n advertensie vir hamburgerfrikkadelle.

Suid-Afrika was nie hoog op die buitelandse gewildheidsleer nie en programboikotte vanuit Engeland en Australië was aan die orde van die dag. Talle reekse is uit Duitsland aangekoop en oorgeklank. Ek is seker tot vandag toe is daar mense wat die bedaarde speurder Derrick met sy diep Afrikaanse stem onthou. Die SAUK het werklik goeie werk gelewer met hul oorklankings.

Maar soos die gesegde lui: ’n Boer maak ’n plan. Die Avengers (met onder andere Joanna Lumley, as Purdy) sou glad nie plaaslik vertoon kon word nie, want Engeland se akteursgilde het ons geheel en al geboikot. Ten spyte van al hulle pogings het Purdy tog soveel harte plaaslik verower. Daar was min meisies wat nie in ’n stadium hul kapsel op Purdy s’n baseer het nie. Later sou ek hoor dat die plan wat gemaak was, gewerk het omdat die verbod op die formaat was waarin van die reekse verfilm is. ’n Paar wyse manne het na Engeland gegaan en die reekse self op film opgeneem en so die verbod omseil.

Vir my was een van die hartseerste oomblikke toe ek die regstreekse uitsending van Challenger-pendeltuig met onder andere Christa McAuliffe aan boord in Januarie 1986 met groot afwagting dopgehou het, net om te sien hoe dit disintegreer en sewe mense se lewe binne ’n breukdeel van ’n sekonde uitgewis word. Die skok, die hartseer, die werklikheid daarvan sal my altyd bybly . . .