fam1

“Wel, kom ons laat die bom nou maar bars terwyl die nuus nog vars is: Ons kom terug huis toe – en nie stert tussen die bene nie. Verras? Geskok,” kondig Gaylene Diedericks (35), oorspronklik van Waterfall, KwaZulu-Natal, aan op haar webdagboek, dieselfde blog waarop sy op 15 April vanjaar van die groot trek Nieu-Seeland toe begin vertel het.

“Ek is steeds oorbluf oor die reaksie op my blog-inskrywing oor ons reis terug huis toe. Dit het soos ’n veldbrand versprei met oor die 10 000 kykslae binne vyf dae en dit is meer as duisend keer gedeel op Facebook,” vertel sy oor die foon uit Nieu-Seeland voor hul terugtog op 5 Oktober.

“Ons kan nie wag om met al ons vriende en familie herenig te word nie! Steek die braaivleisvure aan, haal die drankies en die biltong uit en waarsku die Spur en John Dory’s: Ons is op pad!” laat sy vrolik hoor.

Gaylene en haar man haar man, Ashley (30), het vier jaar gelede emigrasie begin oorweeg nadat sy motor in Durban gekaap is. Hulle wou veral ter wille van hul dogter, Lilliana (nou 4), elders ’n heenkome soek.

Gaylene het ’n webjoernaal begin skryf omdat soveel mense in hul reis belanggestel het en ook om as “’n dagboek van emigrasie” vir hul gesin te dien. “Lilli sou dit eendag kon lees om te verstaan wat ons alles deurgemaak het om te sorg dat sy ’n blink toekoms in ’n nuwe en veilige land sou hê.”

Die blog was veronderstel om vriende en familie op die hoogte te hou, maar dit het gou veel wyer uitgekring. ’n Internasionale werwingsmaatskappy het selfs haar toestemming gevra om ’n skakel na haar webdagboek te plaas in hul nuusbrief, wat aan 37 000 Suid-Afrikaners oral ter wêreld gestuur word.

Toe sy aankondig hulle kom terug, is sy oorval met boodskappe van mense wêreldwyd wat hulle steun en voorspoed toewens.

“Een gesin vertel ons storie het hulle gemotiveer om die land te verlaat waarin hulle nou is, en terug te gaan na waar hulle gelukkig was. ’n Ander gesin het ons laat weet ons storie het hulle help besluit om liewer in Suid-Afrika te bly, al was hulle seker van ’n werk in ’n ander land.

“Soveel mense voel dieselfde as ons in die buiteland, maar is bang om dit te erken; hulle sal eerder in sak en as sit uit vrees vir ander se oordeel.

“Suid-Afrika verloor goeie mense omdat hulle dink die verste gras is die groenste. Ons storie kan dalk wys dis nie altyd die geval nie.”

Hulle het albei ’n droomloopbaan in Suid-Afrika gehad: Gaylene by ’n aanlyn werkwerwingsonderneming en Ash as brandweerman. Maar hul kommer oor misdaad, universiteite wat brand en die politiek het hulle laat besluit om te emigreer. Eers het hulle Australië toe gemik en daar navraag gedoen.

“Ons het gedink met Ash se 11 jaar ervaring as brandweerman sou hy gou daar werk ry, maar dit was toe nie so nie.”

Toe hulle hoor Ashley se beste vriend en dié se gesin gaan uitwyk na Tauranga, Nieu-Seeland, het hulle besluit om ook ’n heenkome in Kiwiland te soek.

Gaylene het haar CV na talle agentskappe daar gestuur en was verras toe een reageer wat ’n webwerkportaal bedryf. Ná ’n telefoniese gesprek van 10 minute het hulle haar ’n pos aangebied soortgelyk aan die werk wat sy toe hier gedoen het.

“Luister ’n mens na die stories van mense wat Suid-Afrika wil verlaat, kom so ’n geleentheid selde of ooit. Ons het besluit ons kan nie ’n gegewe perd in die bek kyk nie,” vertel Gaylene.

Al was Ashley nog onseker van ’n werk in Nieu-Seeland, het albei hul werk bedank. Einde April is Gaylene in trane van haar geliefde werk weg. “Ons moes van alles afskeid neem. Oukei, byna alles,” voeg sy by. “Ons het ’n groot vraghouer met amper al ons goed saamgevat.”

Met hul vertrek op 11 Junie het “ ’n leërskare” familie hulle kom wegsien. Lilli het ontsteld geraak toe almal in trane is en begin huil toe hulle deur die vertreksaal se deure stap.

Meer as 30 uur later het hulle aangekom by hul nuwe tuiste in Pegasus, noord van Christchurch, op Suideiland. “Ons is oorrompel deur die asemrowende omgewing terwyl ons deur die dorpies gery het: skoon, netjies; geen rommel.”

fam pegeausus

Die kultuurskok het nie dadelik ingetree nie; dit was meer soos ’n stadige “ontwaking”.

’n Paar dae ná hul aankoms het Gaylene al haar heimwee gesus deur by een van talle Suid-Afrikaanse winkels te gaan inloer. Sy het 50 pakkies Niknaks gekoop al was sy “nog nie eens daarvoor lus nie”, en Mrs. H.S. Ball’s se blatjang, Aromat, vissmeer en mieliemeel.

“Ek kan nie eens pap maak nie. Dit was net vir my gerusstellend om al daardie goed in my spens te hê.”

famshop

Ashley het ’n werk as skrynwerker gekry, maar het moeilik aangepas en is binne ’n maand afgedank. Hulle het nuwe vriende gemaak en probeer aanpas, maar in hul hart het hulle geweet hulle is nie gelukkig nie.

Binne twee maande het hulle besluit om na die anderkant van die eiland te trek. Tauranga in die noorde se klimaat en groen landskap herinner meer aan die Durban-omgewing as die koue Christchurch, verduidelik Gaylene.

famTauranga

Hulle het binne ’n paar dae ’n mooi huurhuis opgespoor, Lilli het plek in ’n privaat skool daar naby gekry en Ashley het weer as skrynwerker ingeval. Maar dit was nie die gebore brandweerman se passie nie en hy is weer afgedank.

“My pragtige, sterk en wonderlike man se lewenslus is uit hom gewring. Dis asof die jare in Suid-Afrika betekenisloos en irrelevant was,” vertel Gaylene. Sy kon nog uit hul nuwe woonplek vir dieselfde webwerkportaal werk en het ook ’n fotografieonderneming begin.

Haar inkomste was genoeg om die pot aan die kook te hou, maar hul hart het byna pynlik teruggetrek Suid-Afrika toe. Hulle wou eers vasbyt en het selfs slegte nuus uit Suid-Afrika op hul Facebook-blaaie gedeel om hul verhuising na die ander kant van die aarde te probeer regverdig.

fam2

Die Diedericks-gesin is Engelssprekend en binne vier maande het Lilli haar Suid-Afrikaanse aksent begin verloor. Haar ouers het toe besef sy sou as ’n Kiwi grootword, en min van haar Suid-Afrikaanse familie sien. Later sou sy haar dan nie met die Suid-Afrikaanse geskiedenis en erfenis kon vereenselwig nie.

“Om ’n mens huis te verloor is nog goed en wel, maar om jou identiteit te verloor is iets wat ons nie bereid was om te doen nie,” sê Gaylene.

famhome

Hulle weet baie Suid-Afrikaners is gelukkig in Nieu-Seeland en hulle het respek vir mense wat daar kan aanpas.

“Ons is nie mislukkings nie; ons is nie quitters nie. Ons is ontdekkingsreisigers en avonturiers wat self ons toekoms skryf – kom wat wil.”