Hier deel sy haar verhaal oor haar lewensveranderende foute, die gevolglike besluite en die dag toe sy besluit het om haar lewe om te keer.

“Ek het net mooi genoeg gehad. Ek was moeg vir die mishandeling en my ouers het probeer om my van die huwelik te laat afsien, maar ek was te hardkoppig om te luister en ek het eerder besluit om ander mense te behaag. Ek was te skaam om hulle te vertel wat ek deurmaak en het myself oortuig dat daar vir my geen ander weg oop was nie – selfdood was die enigste antwoord.

Ek het dadelik aan my seun gedink. Ek het geweet ek moet aan die lewe bly ter wille van hom; hy verdien nie hierdie soort ding nie.

Maar hoe was ek veronderstel om voort te gaan as my wil om te lewe dood is?

Ek is op 11 Oktober 1985 op die dorpie Matatiele in KwaZulu-Natal gebore. My ouers was fantasties en hulle het die belangrikheid van respek beklemtoon. Hulle het vir ons gesorg en ons het niks kortgekom nie.

Ek was wat ’n mens ’n ‘goeie meisie’ sou noem – ek het by die huis gebly en nooit na partytjies toe gegaan nie.

Ek is koshuis toe toe ek in gr. 4 was. Die koshuiskinders het my oor my gewig begin terg – ek was altyd vet – en dit het veroorsaak dat ek baie moeilik by die skoollewe aangepas het. As gevolg van die geboelie het ek ook met die akademiese sy van dinge gesukkel.

Ek het, toe ek net 15 was, ’n oulike outjie ontmoet wat in my belanggestel het. Dit was vir my vreemd, want dit was die eerste keer dat iemand, behalwe my gesin, van my gehou het. Ek was in ekstase!

Hy het naweke by my gekuier en na die openbare telefoon by die skool gebel.

Hy het my op ’n dag genooi vir ’n fliek by sy vriend se huis en ek het ingestem. Min het ek geweet sy plan was om my van my maagdelikheid te beroof.

Min het ek geweet sy plan was om my van my maagdelikheid te beroof.

Ek het geweier, maar hy het gepleit totdat ek later ingestem het. Ek was bang hy sou my los as ek dit nie doen nie.

Ek weet ek behoort nie op daardie ouderdom ’n kêrel te gehad het nie, maar ek het aan so ’n diepgewortelde gevoel van onsekerheid gely en hy het aan my aandag gegee op ’n wyse wat ek nog nooit vantevore ondervind het nie.

Ek het gedink ek is nie goed genoeg vir hom nie, maar as ek by hom sou slaap en doen wat hy wou, sou ek hom behou.

Ek het swanger geraak met sy baba, en, soos sulke dinge maar gaan, is ek gedwing om ons seun as enkelma groot te maak.

Op 17 het ek aan ’n VOO-kollege gaan studeer.

Een van die gewilde ouens op die kampus het in my begin belangstel, en omdat ek nog steeds met selfagtingskwessies geworstel het, het ek die aandag geniet – al was die kêrel ook nie my soort nie!

Hy was gek na partytjies en het baie gedrink. Hy het ook gerook.

Foto: Verskaf

Ek het altyd vir myself gesê ek sou nooit uitgaan met ’n man wat drink of rook nie, want ek self het nooit een van die dinge gedoen nie.

Maar toe hy voortgaan om afsprake met my te maak, het ek ingestem want ek het gedink dit sou net tydelik wees.

Hy was 23 jaar oud en sy ouma, wat hom grootgemaak het omdat sy ouers weg was, het gedink hy is gereed om te trou. En sy wou hê hy moes met my trou.

Maar hy het nooit die jawoord gevra nie. My ma het my op ’n dag heeltemal uit die bloute gebel en gesê daar is mense by ons huis wat toestemming gevra het vir ons troue.

Jy kan dink hoe geskok ek was!

Ek het diep asemgehaal en gesê ek sal haar terugbel. Ek moes eers met my kêrel praat.

Hy sê toe hy was bewus van die gereëlde troue en het beplan om my later te vertel. Hy het my gesoebat om met hom te trou, maar ek het in my hart geweet hy is nie die man vir my nie.

Ná ’n groot gesmeek en gesoebat van sy kant af, het ek eindelik toegegee. Ek kan nou erken dat ek destyds geen ruggraat gehad het nie en ek wou net mense tevrede stel.

Ek is vir die eerste keer sedert ons begin uitgaan het, na sy huis toe en hulle het my as sy bruid verwelkom. Alles was eenvoudig so gek en ek het vir seker geweet ek is ongelukkig, maar het nogtans toegestem.

Ek kan nou erken dat ek destyds geen ruggraat gehad het nie en ek wou net mense tevrede stel.

Ek het die res van my lewe verpand aan hierdie man wat ek nie liefhet nie.

Hy was my man en ek was sy vrou – maar elke deel van my was onrustig oor die huwelik.

Ek het die volgende vyf jaar saam met ’n man deurgebring wat nooit opgehou het met partytjies hou en drink nie. Hy sou dae lank verdwyn en my fisiek en geestelik mishandel sodra hy terugkom.

Die gevoel van neerslagtigheid het so erg geraak dat ek dit ernstig oorweeg het om selfdood toe te pas.

Maar wanneer ek in my seun se ogies gekyk het, het ek besef hy is die enigste rede waarom ek nie my lewe kon neem nie.

Ek het eendag op die rusbank gesit en dink oor my lewe en hoe ek hier beland het. Ek was nie net platsak nie, ek was gebroke. Liggaamlik, geestelik en veral emosioneel.

Ek het my laaste hoepel bereik en het gebid en God gevra om vir my die pad te wys.

Ek het geweet as ek wou verander, sou ek iets moes doen wat ek nog nooit tevore gedoen het nie. Nie net ter wille van myself nie, maar ter wille van my seun.

Ek het my man verlaat en besluit om iets met my lewe te doen. Ek het begin om my verhaal in die sosiale media te deel en mense het na my begin uitreik. Ek is genooi om by geleenthede te praat ten einde ander mense te help om hul kwessies baas te raak.

Ek het ’n onderneming hieruit van stapel gestuur, en, tesame met Epic Biz & Lifestyle begin om maatskappye op te lei oor hoe om die krag van die sosiale media te ontgin.

My onderneming het goed gevaar.

Toe besluit ek om ’n boek te skryf.

Foto: Verskaf

From Broke & Broken to Living a Life on Fire was my manier van uitreik na enigeen wat ondersteuning nodig het omdat sy haar in ’n soortgelyke posisie bevind. Ek wou hê hulle moes weet hulle is nie alleen nie.

My boodskap aan vroue wat hulle in die donker hoek bevind waar ek eens op ’n tyd was?

Wat jy ook al deurmaak, jy moet weet dat dit sal verbygaan. Jou verlede bepaal nie jou toekoms nie. As jy heel onder is, is die enigste pad boontoe.

Maak jou verhaal jou vesting, nie jou stopteken nie.”