Hannerie Gouws, ’n rekenmeester van Walvisbaai, het die afgelope 10 jaar met anoreksie geworstel. Dié 22-jarige vrou deel haar verhaal met Huisgenoot:

“My stryd teen anoreksie”

Dit het alles met maaggriep begin toe ek 12 was en dit het my hele lewe verander. Ek was maar altyd die mollige pastoriedogtertjie op my dorp, maar ná die griep het my gewig eenvoudig verminder en almal het begin komplimente uitdeel. My pa het my selfs gevra om op te hou om gewig te verloor en gesê hy was bang ek sou op die ou end aan ’n eetsteuring begin ly.

Op 12-jarige ouderdom het ek nie eens geweet wat ’n eetsteuring was nie. Al wat ek geweet het, was dat ek dol was oor al die komplimente en dat selfs die oulike outjie op skool van wie ek so baie gehou het, begin het om aandag aan my te gee. Dit het egter van erg na erger gegaan toe my pa ’n kiem in die hospitaal optel en vir meer as 100 dae gehospitaliseer moes word.

My siekte het ’n soort troos geword. Dit was altyd daar wanneer ek dit nodig gehad het. Die volgende jaar is ek alleen na die Potchefstroomse Universiteit om sportwetenskap te studeer.

Al wat ek gehad het, was my siekte; dit het dus eenvoudig elke dag sterker geword. Ek het voorheen gewoonlik een keer per dag geëet, nou het ek net lekkers geëet. Ek het ook uitgevind hoe sterk die houvas van laksering op ’n mens kan wees. Ek het depressief geraak en probeer om my eie lewe te neem.

Lees ook:‘Geen hospitaal gaan my help nie’: anoreksielyer se hartverskeurende pleidooi op video

Ek het, ná 'n week van pille en drank sluk, besluit om huis toe te gaan in die hoop dat dit beter sou raak as ek my geliefdes om my kon hê.

Hoe verkeerd was ek nie! Die feit dat jy iets doen wat niemand in die omgewing goedkeur nie, maak dit byna sterker, veral aangesien dit iets is wat net jy kan beheer.

[caption id="attachment_132246" align="alignnone" width="600"]Links is hoe Hannerie gelyk het voor sy siek geword het. Regs is hoe sy vandag lyk, saam met haar man, James. Foto's: Verskaf Links is hoe Hannerie gelyk het voor sy siek geword het. Regs is hoe sy vandag lyk, saam met haar man, James. Foto's: Verskaf[/caption]

Tot vandag toe kon geen dokter nog verduidelik hoe ek dit alles oorleef het nie. Ek het ’n volle nege maande, terwyl ek by die huis was, van lemoensap en koffie gelewe. Intussen het ek steeds lakseermiddels gebruik as gevolg van die gewig van die water wat deel was van my siekte. Ek het almal om my geïgnoreer en vir hulle vertel ek sal voortgaan tot ek my ideale gewig bereik – wat destyds 52 kg was.

Op ’n dag het hulle my gekul en vir my gesê ek gaan dokter toe vir ’n ondersoek. Binne ’n ommesientjie was ek in die hospitaalbed en my kwaai suster het gestaan en staar tot ek minstens die helfte van my gemengde groente opgeëet het.

Terwyl ek besig was om te eet, het ek besef ek was bang om enigiets te sluk. My dokter het gesê ek sou weer soos ’n baba moes leer eet. Ek was so bang.

Hulle het my die volgende dag geweeg en toe sien ek ek het binne net ’n dag 1 kg verloor. Ek het maniere gevind om die mense om my gelukkig te hou – hulle het gedink ek sit gewig aan – terwyl ek in werklikheid steeds gewig verloor het.

Ek onthou ek het myself wysgemaak dat ek regtigwaar sou ophou wanneer ek my nuwe ideale gewig – 47 kg – bereik. Dit het egter gouer gebeur as wat ek gereken het en die anoreksie het volle beheer oor my geneem.

Ek het saans ’n roetine gevolg waar ek in die bed sou lê en my ribbes tel net om seker te maak hulle het nie verdwyn nie. My ganse dag het gedraai om die volgende paar gram gewig waarvan ek ontslae kon raak.

Ek het in my eie kokon geleef. My liefde vir God is vervang deur my liefde vir anoreksies wees. Maar my ouers het my deur gebed gedra en ek dink dis die groot rede waarom ek vandag nog leef. Die groot probleem was dat niemand om my enigiets van my eetsteuring geweet het nie. Hulle het net gedink ek is ’n tipiese 19-jarige meisie wat meer aandag by haar besige ouers soek.

Ek en my ouers het by mekaar verby geleef en in verskillende kringe in ons huis beweeg. Dit was moontlik die rede waarom my siekte aanvanklik begin het, maar dit het gou in ’n verslawing ontaard wat, elke keer dat ek my geweeg het, selfs meer aangeblaas is.

[caption id="attachment_132247" align="alignnone" width="600"]xx Hannerie vertel haar siekte het vererger na sy teruggekeer het Namibië toe. Foto's: Verskaf[/caption]

Sowat twee weke nadat ek altesame 15 kg verloor het, was ek te swak om my sokkies aan te trek of selfs ’n trap te klim. My verloofde, James, moes my oral dra. Ek het my ouers gesmeek om my na ’n hospitaal te neem waar hulle my kon voer. Ek is skaars ’n uur nadat ek die versoek gerig het, opgeneem.

Ek het nie geweet in watter verskriklike toestand ek was nie. My dokters het gesê my pankreas was besig om in te gee. My hartklop en bloeddruk was soos dié van iemand wat moontlik nog net ’n paar uur gehad het om te leef.

Lees ook: Kan tieners hulself vet dink?

My brose liggaam, wat net 38 kg geweeg het, het begin afskakel. Drie van my dokters het gelukkig geweier om moed op te gee met my nadat van my vorige dokters briewe aan my ouers geskryf het waarin hulle sê hulle was hul hande van enige keuse wat ek ten opsigte van my gesondheid maak.

Die goeie dokters het my oortuig dat dit tyd was dat ek na ’n versorgingsinstelling vir binnepasiënte in Kaapstad gaan. Die kliniek het letterlik my lewe gered en my teruggehelp op die moeilike pad na ’n gesonde gewig. Nadat ek in die Kaap aangekom het, was ek heeltemal besig om ’n hongerdood te sterf.

Hoewel ek getrou by my eetplan gehou het, het my gewig net ál meer gedaal tot ek net 30 kg geweeg het.

Ek het gelukkig eindelik weer begin gewig aansit – maar ek het myself gehaat wanneer ek sien my bene word by die dag groter. Ek was ongeveer ses maande in die kliniek. Ek het my familie in Namibië teen daardie tyd so baie gemis dat ek besluit het om terug te gaan. My liggaam was genees, maar my binneste was beslis ver daarvandaan.

[caption id="attachment_132248" align="alignnone" width="480"]Hannerie is eindelik in die hospitaal opgeneem waar sy weer soos 'n baba moes leer eet. Foto: Verskaf Hannerie is eindelik in die hospitaal opgeneem waar sy weer soos 'n baba moes leer eet. Foto: Verskaf[/caption]

By my terugkeer het my pa en my verloofde vir my by die hekke op die lughawe gewag. Die skuldgevoel het egter kort daarna weer ingetree: Ek was terug op my ou weë.

Maar nou was dit erger: Ek het sewe of agt keer per dag lakseermiddels gedrink. Ek het baie vinnig gewig aangesit en dit het my obsessie met kos laat toeneem.

Wanneer jy lakseermiddels gebruik, verloor jy net watergewig. Jou liggaam gaar ná ’n tydjie alles op wat jy verteer en dit veroorsaak dat jy vinnig gewig aansit.

Toe begin dit weer beter raak. Baie het in my lewe gebeur. Ek het my troue begin beplan en by my nuwe werk aangesluit. Ek en my man het op ons wittebrood gegaan en selfs die moontlikheid van kinders bespreek. Dinge het werklik goed gegaan en toe vertel iemand my ek begin vet raak.

My hele wêreld het weer verskuif. Ek het verslaaf geraak aan uriendrywers – ja, iemand met ’n eetsteuring kan verslaaf raak aan uriendrywers. My familie het dit gelukkig agtergekom en my man het geweier om kinders te hê voor ek myself reggeruk het.

Lees ook: Die stryd teen bulimie

Dit was die heel beste motivering. Ek is na ’n kliniek in Durban. Hulle het my daar al die wonderlike dinge gewys wat ek kan doen as ek net my anoreksie by die agterdeur los. Ek het eindelik na iemand geluister!

Aan enige meisie wat hierdie artikel lees en wat met dieselfde probleme sukkel as wat ek gehad het: Moet asseblief nie tou opgooi nie. Ek het ook net ’n syfer op ’n skaal raakgesien, maar die lewe bestaan uit soveel meer. Ek behoort te weet, want as ek voortgegaan het om my eetsteuring toe te laat om my te beheer, sou ek nie die kans gehad het om oor ’n paar maande my seuntjie wat op pad is, vas te hou nie.

Die beste ding wat een van my raadgewers vir my gesê het, is: “Anoreksie is soos om diabetes te hê: As jy nie elke dag jou insulien neem nie, gaan jy sterf.” Hou dus aan om daarteen te veg!

[caption id="attachment_132249" align="alignnone" width="600"]Hannerie op haar troudag. Foto: Verskaf Hannerie op haar troudag. Foto: Verskaf[/caption]

Hannerie en haar man, James, verwag hul seuntjie in November.

Hierdie storie is deur ’n leser aan Huisgenoot verskaf en ietwat deur ons geredigeer.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.