pjimage (14)

Haar woordvoerder, Kgalalelo Masibi, het aan Huisgenoot gesê die OB het nog nie besluit wat sy gaan doen nie.

“Ek bevestig ons het kennis ontvang van die president se voorneme om ’n interdik teen die OB te kry. Sy is tans in samesprekings met haar regspan oor hoe om die situasie te hanteer.”

Die presidensie het ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om te keer dat die openbare beskermer ’n verslag oor staatskaping bekendstel.

Dr. Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die presidensie, het uit Nairobi in Kenia bevestig die presidensie wil ’n bevel by die hof bekom om te keer dat adv. Madonsela, OB, die verslag bekendmaak.

Sy was veronderstel om haar voorlopige bevindinge na sogenaamde staatskaping Vrydag – haar laaste dag in die amp – uit te reik.

“Ek kan nie sê op watter gronde ons die aansoek bring nie. Ek is ook nie seker wanneer die aansoek gehoor sal word nie,” het Ngqulunga aan Huisgenoot gesê. “Die stukke is by die hof ingedien.”

Gerugte in politieke binnekringe wil dit hê Madonsela se verslag bevat bewyse van onbehoorlike inmengery deur die omstrede Gupta-familie in kabinetsake.

’n Ingeligte het vroeër aan Huisgenoot gesê die bewyse in die verslag is “plofbaar en verdoemend.”