Dis 'n deuntjie wat al jare in president Jacob Zuma se ore neuel: "Pay back the money!"

En dis duidelik pres. Zuma het nou genoeg van dié deuntjie gehad, want dis pas bekend hy het Maandag die R7,8 miljoen wat daar bevind is hy die land skuld, terugbetaal.

"Die betaling is amptelik," het dr. Bongani Ngqulunga, 'n woordvoerder vir die presidensie, aan Huisgenoot bevestig. Volgens hom is die betaling gemaak met geld wat danksy 'n huislening bekom is.

Die tesourie het ook Maandag bevestig Zuma het dié bedrag terugbetaal nadat twee groepe bourekenaars saam met die tesourie gewerk het om te bepaal hoeveel pres. Zuma moet opdok vir die opgraderingswerk wat hy aan sy Nkandla-woning gemaak het.

Onder dié bedrag tel R2,3 miljoen vir sy swembad en R1 miljoen vir 'n amfiteater. Dit sluit ook R1,2 miljoen vir 'n kraal vir vee in.

Die terugbetaling kom nadat die howe in Maart bevind het pres. Zuma het wel strydig met die grondwet opgetree toe hy nie na die Openbare Beskermer geluister het nie nadat sy aanbeveel het hy moet van die geld wat hy op Nkandla uitgegee het terugbetaal.

Bykomende bron: News24