Zola Budd gaan hofdokumente teen KwaZulu-Natal Atletiek (KZNA) en die Comrades-marathon indien nadat besluit is sy kom nie vir die prys in haar ouderdomskategorie in aanmerking nie, sê haar atletiekklub.

“Nie die Comrades of KZNA het (die regte) prosedures gevolg nie; daarom is die hof ons enigste uitweg,” sê Ray de Vries, bestuurder van die Hooters-klub.

“Ongetwyfeld sal ons dokumente indien en ongetwyfeld sal ons dit tot die einde beveg. Ons behou ons die reg voor om regstappe teen die Comrades en KZNA te doen, ook teen individue binne daardie organisasies.”

Ray sê die wedrenbeamptes het fouteer toe hulle besluit het Zola (48), wat eerste in die kategorie 40 tot 49 jaar en sewende algeheel geëindig het, kan nie in aanmerking kom nie, want die etiket met haar ouderdomskategorie is nie vertoon nie.

Dit ondanks die feit dat dit op haar wendrennommer vertoon is, soos vermeld in die Comrades se finale bepalings en voorheen op ’n vergadering van die tegniese komitee voor die wedren besluit.

Ray sê ná die marathon is die besluit op ’n afsonderlike vergadering van die komitee teruggetrek, maar die KZNA se voorsitter, Sello Mokoena, het die besluit herroep.

Ray dring aan Sello moet bedank, en sê dit blyk die voorsitter van die KZNA het uit eie beweging opgetree terwyl die Comrades-marathon, wat “ons almal na aan die hart lê”, blykbaar in ’n warboel verkeer.

“Ons maak ons stem dik namens diegene wat nie gehoor word nie, wat siek en sat is van die chaos waarin atletiek gedompel word,” sê Ray.

Sello sê die besluit dat Zola volgens die reëls nie vir die kategoriepryse in aanmerking kom nie, het niks met KZNA se tegniese komitee of hom uit te waai nie.

“Die besluit . . . het geheel en al berus by die hoofwedrenbeampte, wat die atleet direk geantwoord het. Niemand, ek inkluis, kan of het of kon met die proses ingemeng het nie,” sê hy.

Ray sê al uitweg vir Zola is om die hof te nader, want KZNA het nie gereageer op talle briewe oor die besluit dat Zola nie op die ouderdomskategorie-prys geregtig is nie.

Sello sê Zola het die hoofbeampte van die Comrades-marathon van 2014 se besluit oor haar saak gekry en verkies om nie daarteen te appelleer nie.

“Boonop is sy nie ’n lid van KZNA of enige federasie in Suid-Afrika nie,” sê hy.

Zola sou deur haar federasie, in hierdie geval die Amerikaanse baan-en-veldfederasie, moes werk om deur ’n Suid-Afrikaanse beslissings-en-arbitrasieproses ’n dispuut in te dien.

“Dis al weg wat die Hooters-atletiekklub, ’n affiliaat van KZN Atletiek, vir wie sy gehardloop het, gevolg het om die grondwette van die KZNA, ASA (Atletiek SA) en die IAAF (Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies) te gehoorsaam, wat nie voorsiening maak vir die regterlike roete om geskille te besleg nie.”

Oor Ray se oproep dat hy moet bedank, sê Sello hy is in ’n oop, regverdige en demokratiese verkiesing tot voorsitter verkies.

“Atletiek in KwaZulu-Natal is kerngesond,” sê hy.

“Alle operasionele en funksionele prosesse van die federasie verloop seepglad en telkens op ons jaarvergadering herbevestig die klubs en lede van die KZN Atletiek-familie hul vertroue in my en my span.”