HARARE. – Zimbabwe het ’n haastige verbod op die jag van leeus, luiperds en olifante ná die trofeejagdood van Cecil die leeu opgehef, maar dit bly van krag in ’n beperkte gebied, het kenners en ’n jagtersgroep gesê.

Die verbod is op 2 Augustus ingestel in reaksie op wêreldwye woede oor die skietdood van Cecil deur ’n Amerikaanse tandarts op ’n vermoedelik onwettige jagtog net buite die Hwange Nasionale Park in Wes-Zimbabwe.

“Ons is bly om aan te kondig dat die verbod – met uitsonderings – landwyd opgehef is ná nuttige gesprekke tussen jagoperateurs en die betrokke Zimbabwiese owerhede,” het die Zimbabwiese professionele jagters- en gidsvereniging in ’n verklaring gesê.

Leeujag word steeds verbied op die plaas Antoinette waar Cecil vroeg in Julie geskiet is, asook op ’n ander, onbekende plaas waar ’n tweede leeu onwettig gejag is. Die verbod geld ook nog in twee ander gebiede.

In ’n noemenswaardige stap het Zimbabwiese owerhede klaarblyklik ook die jag van alle “ikoniese diere” met naspoorhalsbande verbied, lui die verklaring. Cecil het so ’n halsband gedra ten tyde van sy dood en was die vierde of vyfde gemerkte leeu wat vanjaar in Hwange gejag is, volgens bewaringslui. ’n Tweede leeu, wat nie gemerk was nie, is in Julie doodgemaak en dit word ook ondersoek.

Owerhede “het vinnig en kradadig gereageer en ’n totale verbod op jag op Antoinette en Farm 32 – die twee gebiede waar die leeus geskiet is – geplaas,” het ’n natuurbewaarder van die Hwange-gebied gesê. “Ek dink enigeen wat nou oortree, gaan daarvoor boet.”

Zimbabawe verbied normaalweg jag in al sy nasionale parke, hoewel die sogenaamde “rantsoen-jag” soms toegelaat is in gevalle waar wild geskiet is om bewaarders of ander regeringswerkers met nasionale byeenkomste te voer. Volgens bronne blyk dit dat die owerhede nou dié praktyk ook stopgesit het.

Jagbeamptes van Zimbabwe was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

News24