Die eerste geval van die Zikavirus in Europa is bevestig nadat ’n swanger vrou in Spanje daarmee gediagnoseer is.

Die Spaanse gesondheidsdepartement het gesê die vrou het onlangs van Columbië teruggekeer. Daar word vermoed dat sy die virus in dié Suid-Amerikaanse land opgedoen het.

Die Zikavirus het die laaste paar maande wyd oor Suid-Amerika en die Karibiese-eilande versprei en word gekoppel aan die siektetoestand waar babas met onderontwikkelde breine gebore word.

Intussen is ’n geval van die virus ook in die Amerikaanse deelstaat Texas sowel as Kanada bevestig.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het ook ’n waarskuwing uitgereik dat bloedskenkings nie aanvaar moet word van mense wat onlangs na van die betrokke lande gereis het nie. In Amerika het spermbanke ook begin maatreëls instel om te verseker dat donateurs nie besmette semen skenk nie.

Die naam van die Spaanse vrou is nie bekend gemaak nie, net dat sy in die provinsie Katalonië woon.

Hoewel sy die eerste was, berig die BBC daar is in totaal sewe gevalle van die Zikavirus in Spanje aangemeld. “Dit gaan goed met almal van hulle,” het die gesondheidsdepartement gesê.

Lees ook: Dit is wat jy oor die Zikavirus moet weet

Na wat berig is, is daar egter ’n skraal kans is dat die virus verder sal versprei, want die vroue het nie in Spanje siek geword nie, maar die siekte daarheen gebring.

Internasionale reiswaarskuwings is in plek gestel om reisigers te waarsku oor die gevare van die virus.

Bronne: BBC; The Telegraph