Zetske van Pletzen en Altus Theart het Dinsdag 14 Junie stil-stil verloof geraak.

Die akteurspaartjie is al drie jaar bymekaar en Altus het gevoel dis tyd om die groot vraag te vra: eerstens vir Zetske tydens ‘n romantiese, intieme aandjie en die volgende oggend het hy, volgens tradisie, behoorlik ouers gevra by pa Pierre van Pletzen en sy vrou Sandra Vaughn, asook by ma Elzette Maarschalk en haar man Joseph Clarke, almal bekende akteurs.

Dié talentvolle familie is hoog in hulle noppies oor die goeie nuus. Pierre sê hy het al so baie op die verhoog ouers gevra dat dit vir hom ‘n nuutjie was om gevra te word! “Altus was baie vinnig – hy’t môre gesê en toe dadelik weggespring. Toe ek besef wat hy vra, het ek my arms in die lug gegooi van blydskap. Ek is baie gelukkig vir die tweetjies – hulle is albei sulke wonderlike en voete-op-die-aarde mense,” sê hy.

Sandra Vaughn dink dis die beste nuus van die jaar.   “Nie net is Zetske en Altus uiters talentvolle en wonderlike individue nie, maar saam is hulle die perfekte som!  Persoonlik is ek net bly dat altwee sulke goeie smaak het om mekaar te kies!  Ek spreek die Here se rykste seën oor hul verlowing en huwelik uit.”

“Wow, geluk julle twee. Uiteindelik!” sê Elzette. “Altus is mal oor Zetske en kry dit reg om die beste in haar uit te bring. Toe hy kom ouers vra, het ek vir Zetske gevra of hy haar sal uitlos as ons "nee!" sê en sy het met 'n klein stemmetjie gesê "Ek hoop nie so nie!" So, ons weet sy is baie lief vir hom. Ons wens albei net die beste toe!”

“Yeah! Good for you!” voeg tweede pa, Joseph Clarke by.  “Now remember to put God first in your relationship. You are now ONE. We love you both dearly!”

Zetske se musikant-broer, Peach, is ewe in sy skik. “Wat?!!! No way! BAIE geluk!!”. Hy voeg by dat hy nie eintlik verras is nie, want hy’t dit lankal sien kom.

Zetske en Altus het mekaar in 2008 ontmoet toe hulle broer en suster in Kruispad gespeel het.

Hulle het dadelik van mekaar gehou en dié vriendskap het gou tot iets diepers ontwikkel. Soos Altus, voel Zetske ook die tyd is nou ryp vir die volgende stap in hulle verhouding. “Ek is baie opgewonde en gelukkig en ek is gereed om my te verbind tot ‘n permanente verhouding”, sê sy.

Zetske is tans saam met pa Pierre op die stel van 7de Laan vir die opname van ‘n storielyn wat in Augustus op die kassie sal wees, terwyl Altus in Deon Opperman se musical “Tree Aan” in die Staatsteater speel. Die twee se besige skedules beteken die verlowingspartytjie sal eers op 30 Julie gehou kan word. Hulle beplan om vroeg in die nuwe jaar te trou.

Die 7de Laners is baie opgewonde oor die verlowing en wens vir Zetzke en Altus ‘n “fantasmagoriese gelukkige toekoms” toe.

Volg Huisgenoot op Twitter.