’n Vrou wat 17 jaar gelede na bewering ’n pasgebore baba by die Groote Schuur-hospitaal ontvoer het, is Vrydag op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Sy mag nie geïdentifiseer word nie ter beskerming van die kind, wat nog as minderjarig beskou word.

Die vrou het in die Kaapse streekhof voor landdros Mark Engel verskyn. As een van die borgtogvoorwaardes het hy haar gewaarsku om geen kontak, direk of indirek, met die meisie of enige staatsgetuies te hê nie, ook geen kontak met hulle deur Facebook of enige ander sosiale media-platform nie.

Die vrou is op borgtog vrygelaat ná ’n ooreenkoms tussen die aanklaer, Bonnie Currie-Gamwo, en die prokureur vir die verdediging, Reaz Khan.

Die groot hofsaal was volgepak en van die verslaggewers moes op die vloer in die put van die saal sit.

Na afloop, het landdros die publiek gevra om die hof “op ’n ordelike wyse” te verlaat.

Die landdros het gesê die aangeklaagde het ’n vaste adres en sy word nie deur die staat as ’n vlugrisiko beskou nie.

Daar is ook geen vorige veroordelings, hangende misdaadsake of uitstaande lasbriewe vir haar arrestasie teen haar nie.

Engel het beslis onder die omstandighede was dit in belang van geregtigheid om haar op borgtog vry te laat.

Die aangeklaagde het die baba na bewering op 30 April 1997 uit die hospitaal ontvoer toe die slapende kind in haar ma se arms gelê het.

Engel het gesê die doel van borgtog is om seker te maak dat die beskuldigde die verrigtinge sal bywoon en nie om haar skuld of onskuld vas te stel nie.

Volgens die borgvoorwaardes is sy beveel om op 29 Maart na die hof terug te keer en om by ’n ooreengekome adres te bly. Sy moet ook elke Maandag, Woensdag en Vrydag tussen 05:00 en 20:00 by die polisie aanmeld.

- Sapa