Vergifnis is in hierdie stadium in sy lewe nie deel van sy woordeskat nie en daarom is die idee om die vrou te vergewe wat sy dogter gesteel het, nie iets wat hy eens oorweeg nie.

Dit was Morné Nurse se reaksie Donderdag buite die Kaapse hooggeregshof nadat die slotbetoë vir vonnisoplegging afgehandel is van die 52-jarige vrou van Lavender Hill wat daaraan skuldig bevind is dat sy Zephany Nurse gesteel het.

“Reg deur die saak het die vrou geen berou of empatie aan enige van my familielede getoon nie. Sy het vir ons gelag. Ons was baie emosioneel reg deur die jaar.”

Die vrou, wie se naam nie genoem mag word nie om Zephany se identiteit te beskerm, is in Maart 2016 skuldig bevind op aanklagte van ontvoering, bedrog en oortreding van sekere dele van die Kinderwet.

Dit het in die hof aan die lig gekom dat sy die meisie 19 jaar gelede uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel en as haar eie grootgemaak het.

Haar biologiese ouers het haar verlede jaar opgespoor nadat sy toevallig in dieselfde skool as haar suster skoolgegaan het en ’n maat aanhoudend vir hulle vertel het hulle trek op mekaar.

Morné het gesê hy het aanvanklik gehoop op ’n vonnis van 30 jaar tronkstraf, maar sê die familie sal tevrede wees met 15 tot 20 jaar.

“My verhouding met my dogter het baie swaargekry, maar ons werk daaraan. Hierdie ding (die hofsaak) het so baie uit ons gevat. Die swaarkry hou aan. Ek dink die pyn sal daar wees tot die dag dat ek doodgaan. Ek dink nie dit sal ooit weggaan nie.”

Die verdediging het aangevoer dit is duidelik die publiek en Zephany se familie soek wraak.

Die beskuldigde se prokureur, Reaz Khan, het die hof gevra die straf moenie in dié gees opgelê word nie.

“Ek vra dat haar ouderdom en gesondheid, wat nie goed is nie, in ag geneem word.”

Die staatsaanklaer Evandé Kortjé het gesê die beskuldigde toon geen berou of empatie nie en sy aanvaar nie verantwoordelikheid vir haar dade nie. “Dit is vir my ’n groot probleem.”

Sy het gevra dat die beskuldigde ’n vonnis van tussen 15 en 20 jaar opgelê word.

Vonnisoplegging vind Maandag, 15 Augustus, om 10:00 plaas.